Wat het fout gegaan, en wanneer?

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

“Wat het fout gegaan?” is ’n vraag waaraan ek gereeld gedink het soos ek deur die Korea materiaal gewerk het. Ek het vir die grootste deel van my volwasse lewe ’n probleem gehad met sekere dinge, en dit het soms gedreig om my onder te kry. Wat presies was die probleem?

Ek glo dat die probleem te make gehad het met identiteit, en spesifiek die rol wat omgewing speel in die vorming daarvan.

Die omgewing waarin my identiteit gaaf aan die ontwikkel was tot ek veertien jaar oud was, het binne ’n paar weke dramaties verander. Van daai tyd af – my vroeë tienerjare – was ek daagliks gekonfronteer met mislukking, vir die eenvoudige rede dat die maatstaf vir sukses geld was, gemanifesteer in die klere wat jy gedra het, wat jy kon bekostig en wat nie, waar jy en jou mense gewoon het, en wat julle status in die gemeenskap was. Dit was vererger deur Onafbetaalde Skuld, en die feit dat besittings soos meubels, en ’n paar bokse met kleintyd speelgoed wat in ’n garage gestaan het, weggeneem kon word deur mense wat die reg gehad het om dit te neem as gevolg van die onvereffende skuld.

Ek moes in my proses van identiteitsvorming al hierdie nuwe data absorbeer. Geen verrassing nie dat ek kort na my lewe hierdie periode betree het, my identiteit toenemend begin definieer het binne die raamwerk van fundamentalistiese religie.

My vroeë twintigs het gearriveer in ’n sosio-ekonomiese milieu wat nie veel verbeter het sedert my tienerjare nie. As gevolg van verskeie redes het fundamentalistiese religie ook vinnig glans begin verloor as ’n identiteitsbepaler vir my. En dit alles in die tyd toe ek my hand moes opsteek en sê, “Hier’s nog ’n volwasse jong man. Waar moet ek gaan staan?”

Teen die tyd wat ek begin het om suurkool en taairys vir ontbyt te eet in Korea, het ek dus oor baie kennis beskik, min verstaan, duidelik geweet “iets” is verkeerd met “iets”, en ek kon steeds nie mooi sien waar my plek op die paradegrond is nie. Wat presies verkeerd was, en wat my stryd moes wees, sou nog ’n paar jaar vat om te begin vaspen met die regte woorde.

______________________

Die probleem is … stadsbeplanning!

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

Die feit dat ek vrede gemaak het met die middelklas voorstad is nie te sê dat ek nie ’n probleem het met die uitleg van vele voorstede nie.

Die gemiddelde voorstad lê uitgestrek oor ’n hele aantal hektaar grond. Elke huis is op ’n erf wat gewoonlik afgespan is van die volgende met drade, mure en/of skerp pale. Bure ken mekaar dalk, maar gereelde interaksie tussen vyftig of meer mense van ’n spesifieke buurt is nie algemeen nie. Min ruimte word gewoonlik afgesonder vir publieke gebruik.

Ek kan as voorbeeld van ’n beter uitleg die buurt gebruik waar ek tans woon in Taiwan. Dit is nie in of naby die besigheidsdistrik nie, en kan moontlik volgens Taiwannese standaarde kwalifiseer as ’n voorstad. Die buurt bestaan uit tien lanings met vierverdieping woonstelgeboue – ongeveer agt woonstelgeboue in ’n ry aan elke kant van die laan, met ’n klein stegie aan die agterkant van die geboue. Aan die oorkant van die pad is ’n area met kleinerige huise op baie klein erfies.

Die sentrale punt van die area is die park by wat beskryf kan word as die ingang tot my buurt. Die park het ’n basketbalbaan, waar jong mans in die aande en oor naweke balle rondgooi; langs dit is daar ’n tennisbaan, waar ouer mans en vrouens, en soms jong mense tennis speel deur die dag. Langs hierdie baan is ’n beboomde area met tafels en bankies waar mense van alle ouderdomme gereeld sit en gesels, waar ou mans sit en kaartspeel, oumas en oupas met kleinkinders sit en kuier, en waar mense rondstap in die laatmiddag en vroeë aand.

By die ingang van die park is ’n paar stalletjies wat drink- en eetgoed verkoop van die oggend tot laat in die aand. Daar is ook ’n groterige algemene handelaar reg oorkant die park. Verder af in die straat is daar ’n bedrywige mark in die oggende en sommige aande, met langs die pad allerlei klein winkeltjies, eetplekke, fietsherstelwinkels, en dies meer.

Dit is beslis nie ’n rykmansbuurt nie. Ek kry die idee dat dit meestal ou mense, taxi-bestuurders en kantoorwerkers is wat hier woon; niemand lyk op die oog af asof hulle uitspattighede kan bekostig nie. Daar is wel ’n sterk manifestasie van gemeenskap, van mense wat gemaklik is daarmee om tyd te spandeer met vriende, kennisse en vreemdelinge in die openbaar.

Ek wil graag terugkeer na my eie land toe, maar dit is jammer dat ek hierdie tipe buurt moet verlaat vir – as ek gelukkig is – ’n buurt waar mens soms nie eens kafee toe gaan sonder ’n kar nie, en as jy wel die kafee kan bereik per voet, heel moontlik nie die naaste bank of poskantoor nie. En dit is beslis jammer dat ek heel moontlik nie in ’n buurt gaan opeindig met ’n park vol bedrywigheid en lewe ten minste twaalf ure van elke dag nie.


Die straat waar ek woon – Chi Hui Xin Cun, Fengshan, Taiwan
Laning tussen ’n park en ’n ry huise – Fengshan, Taiwan
Huise in Ci Hui Xin Cun – Fengshan, Taiwan
Nog huise in Ci Hui Xin Cun – Fengshan, Taiwan
Park naby die huise – ’n paar blokke van my woonstel af – Fengshan, Taiwan
Park nader aan my woonstel – Fengshan, Taiwan
Basketbal in die park – Fengshan, Taiwan
Ingang van die park een blok van my woonstel af – Fengshan, Taiwan

______________________

Korea: Broeikas vir my griewe?

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

As ’n mens deur die 1996-1998 materiaal lees, kry jy maklik die idee dat Korea ’n broeimasjien was vir my griewe, en vir my onsekerhede en vrese. Ek was ietwat verbaas toe ek sien hoeveel gif ek in daai tyd gespoeg het oor “suburbia” – dinge soos “die vloek van suburbia”, “ek haat suburbia nou meer as ooit” en “kultuur en kuns vrek in suburbia” (om net ’n paar van my gunstelinge te noem).

Wat presies was my probleem met lewe in ’n middelklas voorstad? Die argitektuur van die plek is nie vergelykbaar met ou Europese stede nie, maar genade, wat verwag ’n mens? Die gemiddelde voorstedelike tuin is ook nie Kirstenbosch nie, maar die gemiddelde voorstedelike burger is nie Cecil John Rhodes nie! En wat is ’n braai op ’n Saterdagaand, Kersetes, verjaarsdagpartytjies, rugby op TV, en laatmiddagstappies met die hond as dit nie kultuur is nie? En “kuns vrek in suburbia”? Komaan!

Nietemin, ek voel verplig om vir myself op te kom. Suburbia het vir my oor meer gegaan as net die spesifieke argitektuur van drie slaapkamer huise – of enige ander weergawe van ’n voorstedelike huis, of die hoeveelheid blomme in die voortuin of hondedrolle in die agterplaas. Dit was ’n simbool van ’n breër verskynsel in die samelewing, waar mense die heeltyd oor die spreekwoordelike heining loer om te sien hoe die bure daarna uitsien, in watse klere hulle rondloop, in watse model motorkar hulle rondry, en hoe gereeld en waarheen hulle op vakansie gaan. Status in hierdie gemeenskap is soos ’n duiwel wat mense jaag om dinge te doen wat hulle nooit voorheen gedink het hulle ’n hele lewe aan kan wy nie. Aan wát word sukses en mislukking gemeet in die middelklas? Aan geld, en professionele status. Die man slaan sy vrou? Erg, maar dis veel erger as hy nog ’n finansiële mislukking ook is. Die Prinsloo kinders doen so goed op skool? Goed en wel, maar het jy gehoor dat die pa alweer van werk verander? ’n Man of vrou wat nie weet hoe om moraliteit te spel nie, maar “het jy gesien hulle ry nou ’n nuwe BMW?”

Natuurlik het dit ’n verskil gemaak dat my eie familie stof aan die verkeerde kant van die lyn geproe het. Natuurlik sal mens ’n bietjie sukkel met griewe wanneer jy van die grond af opstaan. Ek kon nietemin nie anders as om myself te konfronteer met die vraag of “hulle” reg is, en of “iets” dalk verkeerd is met die “hele storie” nie.

Hoe voel ek deesdae oor die sosio-kulturele verskynsel wat die middelklas voorstad is?

Ek het op ’n kol genoem dat ek nie meer ’n probleem het met die idee van ’n aangename drie slaapkamer huis, ’n netjiese tuin, ’n grassnyer, twee honde en ’n kar nie (en ek weet die middelklas gaan oor meer as net dit). Ek kan hierdie posisie inneem want ek het die konsep van lewe in ’n middelklas voorstad wat so by my gespook het in Korea, die afgelope paar jaar ’n bietjie uitmekaargetrek, en mooi gekyk presies wat dit is wat my so pla aan die plek, en watter aspekte eintlik maar onskuldig is – soos die arme honde, en die grassnyer. Ek het uiteindelik besef dat dit nie gaan oor die huis of die tuin of die bure nie, maar oor wat jy doen om ’n lewe in die middelklas te kan bekostig.

______________________

Dis steeds lewe, en steeds jou toewyding waardig

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

Op Saterdag 14 Maart 1998 het ek geskryf: “Ek is bang om te commit tot enige iets waar sukses nie gewaarborg is nie. Om die waarheid te sê is ek onwillig om te commit tot enige iets waar mislukking net ’n vae moontlikheid is.”

Hoe voel ek nou daaroor?

Ek het sover vyf jaar in Taiwan gespandeer as ’n Engelse onderwyser, in ’n stad wat geen rang het in die wêreld nie. (Ek praat van Fengshan, nie die groter omgewing van Kaohsiung nie, wat die vierde grootste verskepingshawe in die wêreld is.)

Ek sou waarskynlik nie op 14 Maart 1998 aan so ’n lewe gedink het as iets waaraan ek myself kon toewy nie, en indien miskien so ’n lewe, beslis nie op hierdie plek nie. Tog kan ek kategories verklaar dat, ten spyte van die prys wat mens betaal en die onvolmaaktheid daarvan, dit die tyd werd was. Of soos ’n karakter opmerk in die fliek Breakfast for Champions, “It’s all life.”

Die alternatief is om ouer te raak by die jaar en jouself nooit aan enige iets toe te wy nie, omdat jy wag vir die ontwykende “volmaakte” projek, of “ideale” lewe. En wat gaan gebeur? Jy gaan te laat besef jy’t oud geword, jy beteken niks vir niemand nie, en jy’t niks gedoen met jou lewe nie.

Raak besig met enige iets wat naastenby aan jou vereistes voldoen. Dis ’n miljoen keer beter as om jou lewe te laat verbygaan terwyl jy wag op “iets beters”.

______________________

Hoe vergelyk my lewe in Taiwan met my tyd in Korea?

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

Ek het Korea toe gegaan as iemand wat niks gehad het om te verloor nie – behalwe natuurlik die gemeenskap van mense vir wie ek omgee het, ’n sekere handelsmerk bier, en miskien die unieke Suid-Afrikaanse landskap. Hoe langer ek egter in Korea gespandeer het, hoe meer het ek begin vashou aan dinge wat ek nie gehad het in Suid-Afrika voor ek Ooste toe is nie – ’n werk, ’n inkomste, en ’n plek wat ek my eie kon noem, al was dit net tydelik.

Natuurlik was hierdie dinge nie genoeg om my in Korea te hou nie. Die mense en dinge wat ek gemis het in my eie land het geblyk ’n veel kragtiger magneet te wees. In Suid-Afrika kon ek weer Black Label drink, braaivleis ruik op ’n Saterdagaand, en my familie gereeld sien. Die werk, die inkomste, en my huislike situasie in Suid-Afrika het egter nie opgeweeg teen waaraan ek gewoond geraak het in Korea nie.

In Taiwan was my situasie van die begin af soortgelyk as in Korea. Ek het werk gehad, ’n inkomste verdien, en ’n baie beter plek gehad as wat ek verwag het ek sou hê (behalwe vir die gebrek aan vensters).

Wat is dan die verskil tussen die lewe wat ek gehad het in Korea, en die afgelope paar jaar in Taiwan? My werksituasie in Taiwan is beter – minder ure, en meer afwisseling, my huislike situasie is beter – veral my huidige woonstel, maar die mees betekenisvolle verskil is persoonlike projekte.

Ek doen in Taiwan waarvan ek in Korea net gepraat het. Ek doen dinge om myself te motiveer, om myself aan die gang te hou wanneer daar nie veel anders is wat inspireer nie. Ek het voortgegaan met aantekeninge oor my lewe toe ek hier aangekom het, en dit het ’n kerf opgeskuif nadat ek my eerste rekenaar gekoop het in Junie 1999. Daarna was daar fotografie, musiekinstrumente, Engelse handboeke, Chinese studie, en vir die afgelope jaar ’n spesifieke literêre projek.

My projekte, en die feit dat ek genoeg vrye tyd het, is meer as enige iets anders verantwoordelik daarvoor dat my lewe beter is in Taiwan as wat dit in Korea was.

______________________