KOM-DIK Dokument 001

WOENSDAG 25 FEBRUARIE 2004

Besigheid waaraan ek nie meer as vyftien ure per week wil spandeer nie. Ek kan 60 ure per week aan besigheid spandeer, en ek kan 60 keer meer geld maak as wat die geval sal wees as ek net een uur per week daaraan spandeer. Hoe meer ek skryf, hoe meer skryf ek. Hoe meer ek skryf, hoe beter skryf ek; hoe beter ek skryf, hoe nader is ek aan wie ek werklik wil wees. Plus, hoe meer ek skryf, hoe meer idees kry ek. Dus, hoe minder tyd ek aan besigheid hoef te spandeer, hoe beter.

[…]

Ek is moeg daarvoor dat ek altyd kreatiwiteit en persoonlike oortuigings aan die een kant in gelid stel, en aan die ander kant die uiterste noodsaaklikheid aan ’n inkomste. Ek is moeg daarvoor om hierdie twee kante teen mekaar af te speel asof dit een of ander agtiende-eeuse veldslag is, met ek wat met my koppie tee en my valletjies kostuum op die heuwel staan, my wit sakdoekie laat val, en dan sien hoe die twee kante mekaar bevlieg.

Hier is die harde werklikheid: Ek is die een wat elke keer verloor.

Hierdie sogenaamde kommersiële diktatorskap is noodsaaklik, maar dit kom tog voor asof dit ’n klassieke manifestasie is van die konflik wat ek aanblaas tussen kreatiwiteit – spesifiek skryfwerk – en besigheid.

Waarop dit neerkom, en waarop dit sal neerkom vir die volgende 97 dae, is dat wanneer ek agter die rekenaar kom sit, ek nie op my Skryfwerk 2004 folder sal kliek nie, maar op ’n besigheidsverwante dokument. Oproepe sal gemaak word, en aksies sal geneem word wat uiteindelik op die resultaat sal uitloop van geld in my sak en in my bankrekening.

[…]

Wat is dan die probleem? Of miskien moet ek ’n meer spesifieke vraag vra: Wat presies is die doel van hierdie sogenaamde kommersiële diktatorskap? Die doel is, in die eerste plek, om ten minste 100 000 Nuwe Taiwan dollar bymekaar te kry sodat ek my lewe kan voortsit in Suid-Afrika.

[…]

Ek beweeg so stadig soos ’n kontinentale ysblok op pad na die Noordpool. Daar is dinge wat my motiveer, anders het ek nie nou hier gesit en tik nie, maar daar’s geen vuur nie. Ek is soos ’n kommunistiese regering vyftig jaar na die rewolusie.

Ek is net geïnteresseerd daarin om so spanningloos as moontlik deur elke dag te kom, en ek sou vir weke aaneen in my woonstel gebly het as dit nie was vir die volgende redes nie: 1) my sigarette raak op; 2) ek koop nooit die tipe kruideniersware wat my in staat sal stel om vir myself kos te maak nie, so ek moet elke dag uitgaan vir aandete; 3) ek móét elke dag behalwe Woensdag en Sondag ten minste een keer uitgaan om klas te gee; 4) soms raak ek lus vir koffie in die dorp, en dan sal ek iemand oortuig om my geselskap te hou terwyl ek myself vet slurp aan die een romerige koffie na die ander; 5) my bokse ontbytpap loop elke tien dae of so leeg, wat my dan noodsaak om na die Carrefour te ry vir nuwe voorraad; en 6) ek gaan fliek ten minste een keer elke twee weke.

Wat doen ek as ek in my woonstel is? Hoe lyk my gemiddelde dag? Ek begin altyd met ontbyt (die hoofrede hoekom ek opstaan in die oggend), drink ’n koppie koffie (die tweede rede hoekom ek opstaan), en rook my eerste sigaret vir die dag (die derde rede). Afhangende van waarmee ek op die rekenaar besig was voor ek gaan slaap het, sal ek óf die rekenaar aansit terwyl die water kook, óf wag tot na ontbyt. Wanneer ek myself dan gemaklik maak agter die rekenaar, is my roetine ewe voorspelbaar. Eers sal ek ’n CD kies. Dan sal ek die skyf in my Aiwa Discman sit, die Dynamic Super Linear Bass knoppie een keer druk (nie twee keer nie), en as die CD gelees is, die Play knoppie druk. Dan sal ek kliek op die Freecell icon en een of twee games speel voor ek op die Skryfwerk 2004 folder kliek. Oomblikke later sal ek DIE SKRYWER wees, met Abba of Juluka of ZZ Top wat in my ore blêr. Na omtrent 45 minute sal ek opstaan en vir my tee gaan maak, wat ’n voorvereiste is vir my tweede sigaret van die dag. (Ek is baie gesteld op my gesondheid; ek drink altyd iets tydens my smoke breaks, gewoonlik tee of water.)

So sal my dag aankarring tot ek honger raak. Miskien sal ek dan kafee toe stap vir ’n boks dumplings of iets met rys en hoender, of na die supermark waar die meisie hoenderdye braai in die aande, en vir my kitsnoedels en ’n blikkie tuna koop. Na ek my ete genuttig het, sal ek voortgaan met my projek tot ek weer honger raak, of tot ek moet gaan stort om gereed te maak vir ’n verskyning as “English Teacher” gedurende die vroeë aand-ure.

Na my terugkeer van die aandklasse – gewoonlik so na agt – sal ek eers weer ’n koppie tee drink en ’n sigaret rook, dié keer in die kombuis. (Hoewel dit mag blyk dat ek hiermee impliseer dat dit slegs my derde sigaret van die dag sal wees, sal ek inderdaad omtrent al deur ’n halwe pakkie gewerk het. Ek het net gedink dit sal miskien vervelig wees om te beskryf wanneer, wáár en hóé ek elke sigaret rook.)

As ek vir ’n paar ure uithuisig was, het ek heel waarskynlik my rekenaar afgeskakel, wat beteken dat ek na my tee en sigaret in die kombuis weer die rekenaar sal aanskakel. Ek sal dan my oorfone in die Diskman steek, ’n ander kompakskyf kies uit my versameling, weer die Dynamic Super Linear Bass knoppie een keer druk, en weer Play na die skyf gelees is. Dan sal ek weer op die Freecell icon kliek, moontlik dan die F4-sleutel om te kyk hoeveel games ek al agtereenvolgens gewen het, en dan F2 vir New Game.

Na twee of drie rondtes sal ek weer die Skryfwerk 2004 folder oopmaak, en dubbelkliek op die dokument waarmee ek besig was voor ek moes uitgaan. Na ’n uur of so sal ek opstaan en weer ’n smoke break vat.

Nou, my sigaretpouses mag dalk vir die gewone leser voorkom as ’n onnodige mors van tyd en gesondheid. Laat my dan toe om u te vat deur ’n tipiese amper kwartier waarna ek so liefderyk verwys as ’n “smoke break”.

Bedags rook ek gewoonlik by die antieke kassie in my sitkamer, teen die muur oorkant die vensters. Vandaar sou ek kon uitkyk by die vensters as dit nie was vir die gordyn wat ek altyd toemaak gedurende die dag nie (ek trek dit wel oop wanneer ek gaan slaap). Ek kan ook vanwaar ek staan die kalender sien wat agter die voordeur hang. (Op die kalender is tans ’n paar dae afgemerk, onder andere 23 Februarie, die eerste dag van die Kommersiële Diktatorskap, en Vrydag 4 Junie, die dag wat ek beplan om Taiwan te verlaat, met sakke vol Monopoly geld wat ek op Donderdag 3 Junie gaan steel by die naaste supermark.)

Na ek vlugtig in die halfskemer na al die bekende ornamente en muurbehangsels gekyk het, sal ek ’n sigaret uit die pakkie haal, en ten spyte van die feit dat daar ’n hele houer vol aanstekers voor my staan, eers rondsoek vir my lighter. Daar sal ek dan staan, my tee drink, en rook intrek en uitblaas vir tien tot vyftien minute. (Ek rook duur, bruin sigarette wat langer rook as kommersiële witbuise.)

Soos ek daar staan met my tee en my sigaret, sal ek dink aan my lewe. Ek sal onder andere dink aan die betekenis van my bestaan en of ek geroepe is om een of ander doel te dien, of ek sal maniere bedink hoe ek genoeg geld kan maak om “huis” toe te kan gaan. Natuurlik wissel die gedagtes met elke smoke break, en om tred te hou, lê my notaboek altyd oop op die kassie.

Ook op die kassie staan ’n houer met penne, waarvan ten minste een of twee kan skryf. Hierdie penne is egter meestal van ornamentele waarde. Die pen waarmee ek my daaglikse notas maak, is die enigste een wat op daai stadium waarde het. (Ek het Maandagaand tydens ’n klas ontdek dat ’n leerling besig was om te speel met die blou pen wat ek gekoop het in Suid-Afrika tydens my vakansie verlede Julie. Die pen was leeg geskryf, so ek het dit twee weke gelede geskenk aan die penhouer in die klaskamer. Toe ek sien hoe die leerling die pen verniel was ek onmiddelik ontsteld, en hoewel ek nie so ver sou gegaan het om die kind ’n klap te gee nie, het ek opreg jammer gevoel vir die pen. Ek was bewus van die feit dat dit nie normaal was nie, maar dit het gevoel asof ek die pen verraai het. Ek het dit oorweeg om die pen weer huis toe te vat, maar besluit toe om dit eerder in die skoolkombuis se asdrom te neuk.)

Dit behoort dus duidelik te wees dat om te rook en tee te drink kardinale faktore is in die ontwikkeling van idees, en om vir kort periodes te fokus op sekere probleme in my lewe sonder die steurnis van ’n sleutelbord onder my vingers.

Wel, die Abba CD is klaar, my gat is seer gesit, en ek is dors en lus vir ’n sigaret. Ek is tevrede met wat ek gedoen het die afgelope 60 minute: Ek het manjifiek daarin geslaag om ’n opstel van die Kommersiële Diktator te kaap vir ’n paar gedagtes van my eie. As ek so aanhou, kan die toekoms net rooskleurig wees.

Ek sal wel die tabel met planne en die idees wat my ryk gaan maak in Suid-Afrika, moet sny wanneer ek hierdie stuk verwerk vir ’n literêre projek …

______________________

Die 99 dae van die Kommersiële Diktator

MAANDAG 23 FEBRUARIE 2004

Die Republiek het vanoggend gerys uit sy slaap met ’n wete dat hierdie nie net ’n gewone Maandag is nie. Dit is – en die strykkwartet slaan ’n paar vinnige note – die Eerste Dag van die 99 Dae van die Kommersiële Diktator!

Hoewel die oggend vars was en die dag swanger met moontlikheid, het dit nie lank gevat voor ’n bietjie onstuimigheid die Raadsaal getref het nie. Die KOM-DIK wou sy regime begin met ’n bietjie “house cleaning,” en het die Skrywer gevra om asseblief handjie by te sit. Die Skrywer het verontwaardig na die KOM-DIK gekyk en gesê almal weet hy vat nie aan ’n besem nie, waarop die KOM-DIK teruggekap het met, “G’n wonder die plek lyk soos dit lyk nie!”

Die Nuwe Leier het toe self met besem en stowwer die Raadsaal hier en daar bygekom, terwyl die Skrywer verveeld deur ’n foto-album geblaai het. (Wat toe amper ’n tweede onderonsie tot gevolg gehad het, want die Volk wou toe weet of tyd aan foto-albums gespandeer mag word gedurende die Nuwe Tyd. Die Sekretaris het vir ’n oomblik nagedink. Hy beslis toe dat in die Tyd Van Die Skrywer dit toelaatbaar was, en omdat die Nuwe Tyd geskoei is op die Toewyding Van Die Skrywer, dit ook nie nou ’n probleem hoef te wees nie.)

Tydens die perskonferensie wat gevolg het kort na die skoonmaaksessie, het die vraag ontstaan wie tegnies verantwoordelik is vir die skryf van die teks wat u, die leser, tans lees.

Die Sekretaris het die mikrofoon vasgegryp in sy regtervuis, en ferm aangekondig dat sulke vrae, veral na die onaangenaamhede met die besem, nie geduld sal word nie. Hy’t skuinsweg na sy tee gegluur wat besig was om koud te raak, en vir homself gemompel, “Die laaste ding wat die Republiek nou nodig het, is ’n Nuwe Identiteitskrisis.” Toe ruk hy die mikrofoon uit die staander en roep, “Hierdie Nuwe Tyd sal onthou word as ’n tyd van eenheid! Twis het geen plek in tye soos hierdie nie! Staan die Geëerde Skrywer immers nie vir sulke edel beginsels nie?!” Die Sekretaris besef toe die vraag het almal vir ’n oomblik peinsend, en voeg toe by, “En almal behoort van beter te weet as om ’n besem in die Skrywer se rigting te slinger …

“In elk geval,” gaan hy toe voort, “daar sal in die volgende 99 dae gefokus word op één ding, en een ding alleen: ’n skaamtelose, ongeëwenaarde, koorsagtige gejaag na geld. Die redes is lankal uiteengelê; die motiverings is eerbaar. Sekere sake móét moontlik gemaak word, en die Raad het eenstemmig besluit ten gunste van hierdie Strategie op die laaste Groot Sitting op Donderdag 12 Februarie 2004.

“Die Volk, die Primêre Karakters en al die Sekondêre Karakters word voorspoed toegewens vir hierdie nuwe tyd.” ’n Flikkering van optimisme was sigbaar in die Sekretaris se oë. “Wysheid, vernuf en geluk word ook toegewens aan ons Tydelike Nuwe Leier, die Kommersiële Diktator!” Geen applous het gevolg op die gebruik van die Nuwe Leier se amptelike titel nie, maar al die karakters het skielik probeer besig lyk.

“Laastens,” en met hierdie woorde het die Sekretaris se gesig weer somber geraak en die mikrofoon is teruggedruk in sy klem, “word die Skrywer ’n aangename lang verlof toegewens. Aan die einde van hierdie 99-dae tydperk sal literêre projekte hervat word, hopelik met gepakte koffers, en sakke vol geld. Lank leef … alles wat goed is.”

Die Juluka-lied “Akanaki Nokunaka” was gekies as Hoofgesang van die Nuwe Tyd, maar nie een van die karakters kon die lirieke behoorlik uitspreek nie. Almal was egter bekend met die ou volkslied “Sarie Marais,” en almal was dit eens dat dit die stemming akkuraat vasgevang het. Die Musikant is ingeroep om te begelei op sy kitaar, maar hy’t die bewerasies gekry en iets geprewel van ’n “verskriklike hoofpyn” – verstaanbaar siende dat dit die eerste keer was in jare dat hy weer uit sy obskure kas geroep is.

Na die laaste weemoedige note by die oop Raadsaalvensters uit verdwyn het, het almal ’n enkele vinger die lug ingesteek en uitgeroep, soos Een Man, “Laat die Nuwe Tyd Begin!”

______________________

Advies aan jong mense

WOENSDAG 18 FEBRUARIE 2004

Wat sal my advies wees aan jong mense wat voor belangrike besluite staan in hulle lewens?

Ek sal sê, leer jouself ken in ’n verskeidenheid situasies, en in omgang met ’n wye spektrum van mense. Vra jouself hóé en wáár jy in die groter gemeenskap wil inpas. Dink na oor wat jy wil hê uit die lewe. Oorweeg die redes hoekom jy hierdie spesifieke dinge wil nastreef, en hoekom jy op ’n spesifieke wyse wil inpas in die gemeenskap.

Jy hoef nie noodwendig al hierdie dinge finaal en absoluut uit te sorteer voor jy begin met enige iets nie – studie, werk of enige iets anders, maar moenie hierdie proses uitstel tot ’n verre “eendag” nie.

Laastens, dink, en dink weer, voor jy ’n finansiële skuldlas opbou voor jy hierdie sake uitgesorteer het. En as jy dan in die goeie gewoonte is om skuld soveel as moontlik te vermy, hoekom dan ’n goeie ding versteur?

———————

[Is daar ’n onverknoeibare resep wat “jong mense” kan volg?

Moontlik nie. Die dinge wat ek hierbo kwytgeraak het, is dalk goeie advies, maar dis ook maklik om dit te verbaliseer wanneer dit iemand anders se beurt is om dit te doen.

Almal moet uiteindelik foute maak, en dit vat soms jare voor mense bogenoemde sake goed genoeg uitgesorteer het om te kan sê, “Dít is wie ek is. Dít is waar ek wil wees. Dít is wat ek wil doen. Dít is wat ek uit die lewe wil hê, en dít is die redes daarvoor.”

Die mees waardevolle praktiese advies, in ag genome die feit dat dit jare kan vat om behoorlike antwoorde op hierdie vrae te vind of te formuleer, is dus iets wat almal eintlik reeds behoort te weet: vermy skuld.]

______________________

Oor vyf jaar – die afgelope 15 jaar – ouer se verantwoordelikheid

DINSDAG 17 FEBRUARIE 2004

Ek weet wie ek gister was, en ek weet wie ek vandag is – maar wie gaan ek môre wees, of oor vyf jaar? Ek het nie nodig om presies te weet nie, maar mens sal graag net ’n idee wil hê … of dalk ’n verwagting.

Wie jy gaan wees word natuurlik beïnvloed deur wie jy gister was, en vandag is; maar wie jy môre wíl wees, beïnvloed ook wie jy vandag ís, hoe jy vandag jou tyd spandeer, en selfs hoe jy vandag voel oor jouself.

* * *

Ek dink terug aan die afgelope 15 jaar. My enigste groot plan wat ooit gerealiseer het, was om op Stellenbosch te gaan studeer.

Voorbeelde: teen einde 1989 wou ek teologie gaan studeer, maar wat uitgewerk het was ’n BA-graad met die oog op onderwys; ek wou reeds in 1990 Stellenbosch toe gaan, maar ’n tekort aan geld het my gedwing om my eerste jaar op Tukkies te doen; in 1995 wou ek vir ten minste ’n paar maande Europa toe gaan, maar ek was terug in Suid-Afrika na vyf weke; in Januarie ’96 het ek gedink aan werk soek in Pretoria en omgewing, maar teen einde Junie was ek op pad Suid-Korea toe; in 1998 wou ek Engeland toe gaan, maar het uiteindelik teruggekeer Suid-Afrika toe; in Suid-Afrika was my oorspronklike plan om ’n paar projekte aan die gang te kry, maar ek het ’n deeltydse betrekking in Johannesburg aanvaar; my groot idee in 1998 was om te “belong and commit” in Suid-Afrika, maar teen die middel van Januarie 1999 was ek in Taiwan.

Die enigste Groot Plan wat gerealiseer het was dus Stellenbosch. Dit is ook betekenisvol dat ek destyds, in 1991, langer moes vertoef in Pretoria voor die trein – by wyse van spreke – uiteindelik met my en al my bagasie vertrek het. As ek direk na hoërskool Stellenbosch toe gegaan het, sou ek moontlik nie soveel van ’n verlore buitestander gewees het soos ek was toe ek uiteindelik as tweedejaarstudent daar aangeland het nie.

Wat sê dit van my 2004 planne? Ek weet nie, maar ek moet voortgaan om planne te maak, en om dit te probeer uitvoer. Ek moet ook geloof hê dat “alles” op een of ander manier sal “uitwerk”.

* * *

As ouer het ’n mens die verantwoordelikheid om ten minste te poog om die tipe lewe te lei waarna ’n kind kan kyk en sal sê, “Ek wil ook so ’n lewe hê.” En die kind moet dit nie net kan sê as ’n vyf- of sesjarige nie, maar as ’n tiener, en selfs as ’n jong volwassene.

As dit nie moontlik is om tans self die kwaliteit lewe te lei wat jy wil hê jou kind eendag moet hê nie, is dit jou verantwoordelikheid om jou kind op te voed en voor te berei om te streef na ’n beter lewe as die een wat jy tans jou eie noem. ’n Mens moet deeglik bewus wees van die moontlike reperkussies voor jy vir ’n kind sê, “Dis nou maar hoe dinge is. Ons almal moet dit maar net aanvaar en aangaan met ons lewens.” Wees realisties, maar laat die kind toe om te droom.

As jy as ouer nie die tipe lewe lei waarvan jy gedroom het in jou jonger dae nie, maak die kind deeglik bewus van dinge wat jy moontlik anders sou gedoen het, en wys aan die kind moontlike roetes wat hy of sy kan oorweeg om nie ook ’n “slagoffer van omstandighede” te word nie.

______________________

Geloofwaardige identiteit in ’n nuwe gemeenskap

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

In 2000 wou ek nie net “Brand” gewees het wat kitaar of klavier kon speel nie – ek wou “Brand die Musikant” wees. ’n Kritieke lae selfbeeld het ’n desperate poging aangevuur om ’n aspek van ’n sosiale identiteit te ontwikkel wat my goed sou laat voel het oor myself.

Helaas, my ambisie was hopeloos onrealisties. Ek wou soos John Williams (die klassieke kitaarspeler, nie die komponis nie) kitaar speel binne enkele maande, en ten minste darem met albei hande klavier binne dieselfde tydperk. Onvermydelike mislukking het my laat verval in die slegste gemoedstoestand wat ek ervaar het tot op daai tydstip in Taiwan. (My werksituasie op daai stadium het petrol by die vuur gegooi. Ek het meeste van my klasse aangebied by ’n laerskool waar die helfte van die sewejariges my geïgnoreer het tydens die klas, ’n kwart opgelet het die helfte van die tyd, en die ander kwart nie kon wag vir my om buite toe te gaan ná die klas sodat hulle grond na my toe kon gooi nie.)

Die musikant issue het natuurlik nie gegaan oor die kitaar of die klavier nie; dit het gegaan oor hoe ek myself gesien het, hoe my sosiale identiteit en status in die gemeenskap gemerk was, en hoe ek dit wou hê.

Na watse gemeenskap verwys ek hier? In 2000 het daar amper oornag ’n vloed ander Suid-Afrikaners in Kaohsiung aangekom. Ek was dus weer uit die bloute gekonfronteer met die vraag na wie ek was – nie net in ’n breë eksistensiële sin nie, maar tussen mense van my eie ouderdom, van my eie land, wat my taal gepraat het.

My liefde vir musiek, en die agting en respek wat ek altyd gehad het vir mense wat musiekinstrumente kon bespeel, het die idee teen die middel van daai jaar by my laat posvat dat die etiket van die “Musikant” verreweg die mees ideale een was vir my behoefte. ’n Enkele snit op die Pearl Jam album No Code het nie gehelp om hierdie beskouing te verhinder nie. Inteendeel, ek was so gehipnotiseer dat ek enkele dae na ek die CD gekoop het, uitgegaan het en vir myself ’n elektriese kitaar aangeskaf het.

* * *

As ek nooit Korea toe gegaan het nie, en derhalwe ook nie Taiwan toe gekom het nie … as ek in Pretoria moes bly vanaf April 1996 (hopelik nie vir langer as drie maande in my suster se sitkamer nie), sou ek genoodsaak gewees het om my identiteit as ’n volwassene te definieer in die meer bekende habitat van my eie land, tussen mense van my eie kultuur, wat my moedertaal gepraat het. Dit sou heel moontlik faktore soos my ongunstige sosio-ekonomiese status moes insluit, en ek sou dalk ander maatreëls moes tref om beter te voel oor myself.

Wat aan die einde gebeur het, was dat ek in die dubbel vervreemding van Korea beland het – as Westerling in ’n stad van 800 000 Koreane, en enigste Suid-Afrikaner en Afrikaansprekende in die gemeenskap van buitelanders. My proses van identiteitsvorming het weereens ’n skoktydperk binnegegaan – soos die sosio-ekonomiese skok van “middelklas” na “armblank” in 1985.

Sou ek ’n “ander mens” gewees het as ek teen Junie 1996 ’n werk gekry het in Pretoria? Natuurlik, maar ek glo ook dat die kern van die mens se persoonlikheid tot ’n groot mate gevestig is en bloot reageer op verskillende omgewingsfaktore. “Korea Brand” was die resultaat van 22 maande in daai land en die dubbel vervreemding wat ek ervaar het. “Pretoria Brand” het nooit ontwikkel verder as die aanvanklike drie maande nie.

Sou “Pretoria Brand” steeds ’n “skrywer” geword het? Moontlik. Die kreatiewe aspek van my identiteit het immers reeds teen 1994 sterk begin ontwikkel in Stellenbosch, en dit was verbind aan vorige tye wat die potensiaal vir hierdie bousteen van identiteit gemanifesteer het.

Wat belangrik is hier, is geloofwaardige identiteit. Ek was nooit ’n geloofwaardige “Brand, die Musikant” nie. Ek het dit geweet, en het desperaat probeer om geloofwaardigheid op te bou in ’n belaglike kort periode.

Is “Brand, die Skrywer” ’n geloofwaardige identiteit? Ja, en nie omdat ek dink my teks is dit werd om gepubliseer of gelees te word nie. Wat belangrik is – en ek het dit al vele kere genoteer, is dat ek skryf, dat ek genoeg skryf, en dat ek al genoeg geskryf het teen hierdie tyd om in my eie oë geloofwaardigheid te hê as ’n skrywer.

* * *

Ek was in Korea gekonfronteer met ’n omgewing waar, anders as 1995 en vroeg ‘96, ek myself gereeld aan ’n groot groep van my tydgenote moes kon identifiseer. Ek was onseker hoe om dit te doen. Ek was onseker oor wie “Brand Smit” was, en oor wat dit beteken het om “Brand Smit” te wees. Ek het gesoek na leidrade, antwoorde … en waar gaan soek mens anders as die grond waar jou naelstring lê, by wyse van spreke?

In my geval het ek middelklas suburbia geïdentifiseer as “ground zero”. Wat my in die gesig gestaar het, was egter die mislukking, persoonlik en dié van my familie, om in te pas en aanvaar te word deur die plek wat die leidrade moes oplewer oor wie en wat ek was. Die beskouing van myself as afstammeling van ’n bron wat altyd gedreig het om mens te aborteer, het my die bron in uiters negatiewe lig laat sien, om dit sagkens te stel.

Die mees ideale alternatief vir “middelklas suburbia” in die ontwikkeling van my identiteit kon gewees het die Christelike religie. Mens kon selfs sê dat my hele identiteitskrisis daar en dan beslis kon word. Probleem was, sedert 1993 het ek nie meer die Kerk, soos ek dit geken en gerespekteer het van kindsbeen af, beskou as ’n geloofwaardige instelling nie. Die noue verbintenis tussen die Afrikaner middelklas en die spesifieke vertakking van die Christelike religie waarmee ek ten nouste vertroud was, het my verder vervreem van beide.

Om op te som:

1. Ek was in Korea gekonfronteer met die noodsaaklikheid om myself te identifiseer aan dosyne van my tydgenote; veel meer mense, en op persoonliker vlak, as in 1995 en vroeg ‘96.

2. Ek het gesoek na antwoorde en leidrade in die plek waar my wortels gelê het. Hierdie plek het ek geïdentifiseer as “middelklas suburbia”. Ek was egter bewus van die feit dat hierdie plek (omgewing en gemeenskap, in die breë sin van die woord) nie my en my familie se wortels wou aanvaar nie – of kón aanvaar nie, volgens kwalifikasies wat sekerlik enige gemeenskap se reg is om aan potensiële lede te stel. Wat hier ter sprake is, is nie soseer middelklas suburbia se standaarde rakende finansiële welstand en stabiliteit nie, maar dat hierdie spesifieke omgewing, met sy spesifieke kultuur, waardes en idees, nie vir my kon dien as ’n geloofwaardige bron van identiteit nie.

3. Die mees ideale alternatief kón gewees het die Christelike religie, maar ook dit was vanaf 1993 nie meer vir my ’n geloofwaardige bron nie, vanweë my toenemende gebrek aan geloof in die Oorgelewerde Tradisies van die Gevestigde Kerk.

4. Konklusie? Ek was in die moeilikheid. Ek moes baie dieper gaan grawe vir leidrade en idees oor wie en wat ek was, en wou wees, en ook in watter omgewing ek hierdie persoon wou wees.

* * *

In 2000 is ek weer gekonfronteer, dié keer in Taiwan, met mense aan wie ek myself moes identifiseer, nadat ek weereens ’n jaar in obskure anonimiteit gefunksioneer het – waar net die mees basiese data oor myself goed genoeg was.

Soos ek reeds genoem het, was die “Musikant”, in my opinie, die mees ideale vooraf verpakte, en vooraf goedgekeurde identiteit waaraan ek in my onsekerheid en angs oor my eie waarde kon dink, maar een waarvoor ek nie geloofwaardigheid kon opbou in die kort tyd wat ek nodig gehad het om dit te doen nie.

Dit wil dus voorkom asof deelname en lidmaatskap aan ’n nuwe gemeenskap – waar jy jouself in redelike groot kleur en detail moet identifiseer, lei tot verskerpte selfondersoek en hernude definiëring van identiteit, of die ontwikkeling van nuwe aspekte van identiteit, indien jy ontevrede is met wie en wat jy is binne daardie gemeenskap.

Dit volg ook dat die identiteit of aspekte van identiteit wat jy sal probeer ontwikkel, sal korrespondeer met wat goed en aanvaarbaar is vir hierdie gemeenskap waarvan jy deel wil wees.

Die alternatief vir aanvaarding en lidmaatskap in ’n gemeenskap is obskure anonimiteit – waar wie en wat jy is nie noodwendig aanvaar hoef te word deur ander mense in jou gemeenskap nie, solank jy jouself op jou eie besig hou, en nie moeilikheid maak nie.

______________________