Drie gedagtes uit die 16k

SATERDAG 13 DESEMBER 2003

“Jy’t nie ’n huis nie, jy’t nie ’n kar nie, jy’t nie ’n regte job nie, en jy’s alreeds in jou dertigs en jy’s nog nie getroud nie.”

“Ja, ek weet. Maar …”

“Geen maar’s nie. Hierdie is die dinge wat vir mý saak maak as ek ’n man beoordeel. Jy mag dalk sewe jaar in Noordoos-Asië gespandeer het, gebroke Chinees praat, en ’n hele literêre projek vol geskryf het oor jou opinies. Maar jy’t nie ’n behoorlike huis nie, jy’t nie ’n kar nie, jy’t nie ’n werk nie, en jy’s alreeds in jou dertigs en daar’s nie eers ’n romantiese verhouding op die horison nie.”

En dis dit. Saak gesluit.

Maak dit saak? Nie soveel as wat dit irriteer nie.

DINSDAG 30 DESEMBER 2003

Vele mense bereik ’n punt waar hulle besef hulle tel nie regtig nie. Sommige mense hou aan probeer; ander stop.

Ek het al talle mense gesien in Taiwan wat die indruk skep dat hulle opgehou het om te probeer. Hulle lê, voete in die oggendson, en wag vir iemand om ’n koeldrank te koop, vir ander Mahjong-spelers om te arriveer, vir die sigaret tussen hulle vingers om uit te brand sodat hulle nog een kan opsteek.

Is dit moontlik dat ek net nie hierdie mense se uitkyk op die lewe verstaan nie? Miskien is nie almal so gepla daarmee om te “tel” in ’n groter begrip van sake nie.

* * *

Een van die positiewe gevolge van die Industriële Rewolusie was die vrystelling van die lyfeienes, en die opheffing van ’n stelsel wat hulle aan die grond, en aan hulle landhere gebind het. Hierdie emansipasie, tesame met ’n beleidsverskuiwing wat meegebring het dat ’n betekenisvolle persentasie publieke grond nie meer vir landboudoeleindes beskikbaar was nie (soos in Engeland), het egter verseker dat die voormalige lyfeienes kort daarna, ter wille van hulle eie oorlewing, gebind was aan die behoeftes van die nuwe industrieë.

Die Industriële Rewolusie het ook meer vryheid vir die individu beteken – in teorie, en aan hulle meer keuses gegee. Geld maak dinge soms gelyk. Meer as net kapitaal het die lyfeiene aan die grond en die landheer verbind onder die feodale stelsel. Vandag, in teenstelling, koop geld amper enige iets wat jy nodig het. As jy vandag ’n industriële of korporatiewe lyfeiene is en jy wen die lotery, of jy dink aan ’n goeie idee, staan jy ten minste ’n kans om môre te regeer oor jou eie klein koninkryk.

______________________

Die laaste ballingskap

Dis Maandag 22 Desember 2003, sewe minute oor twaalf in die middag. Ek het so ’n uur gelede opgestaan, ontbyt geëet, en gelees oor die verhouding tussen Rusland en Europa tot en met 1856. Toe het ek my wasgoed versorg, my skottelgoed gewas, my tande geborsel, en die rekenaar aangesit. Eers het ek die woorde getel van twee stukke wat ek verlede week geskryf het, en toe ’n FreeCell game begin speel. Laasgenoemde het te ingewikkeld geraak, en ek reken toe ek skryf eerder hierdie stuk oor die veranderinge wat in die nuwe jaar aangebring moet word in my lewe.

Eintlik wou ek net ’n paar dinge neersit op papier, en ek was lus om eerder te tik as om te skryf. My voorneme was spesifiek om nié ’n stuk te skryf nie – ek wou net my gedagtes agtermekaar kry.

Die oomblik toe ek die eerste sin tik, het ek egter geweet wat kom. Hierdie tipe van stukke is hoe ek myself uitdruk deesdae. Ek kan myself nie meer help nie. Ek gaan sit agter die rekenaar om net ’n onskuldige nota aan myself te skryf, maar as ek weer sien, het DIE SKRYWER my onbeleefd van die stoel afgestoot, my stuk gekaap, en sy twee vet middelvingers manies oor die sleutels begin gooi.


My planne wissel tussen twee pole. Aan die een kant is ek desperaat om einde Februarie volgende jaar terug te gaan Suid-Afrika toe; aan die ander kant wil ek nog sewe jaar in die Ooste bly. Tussen hierdie twee ekstreme lê al my begeertes, my vrese, my belangstellings, en my hoop vir ’n lewe wat beter is as die een wat ek nou my eie noem.

Ek moet myself egter dwing om ’n paar feite in die gesig te staar: a) Ek is nie meer 25 nie. b) My probleem met ’n vaste betrekking by ’n instelling of korporasie in my geboorteland is teen hierdie tyd goed gedokumenteer. Feit bly egter staan dat ek geld nodig het om te oorleef en planne uit te voer, en ek het nodig om stappe te neem om te verseker dat ek oor – wie weet? – die volgende veertig jaar kan voortgaan om kos te koop. c) My groot droom is ’n drie slaapkamer huis met ’n tuin en ’n lappie gras, in ’n stil voorstedelike area of in ’n groterige dorp in Suid-Afrika (die land waar ek gebore is en grootgeword het anders het ek hierdie boek in Frans of Duits geskryf en was my naam Dieter of Pascal).

Natuurlik is dit nie goed genoeg om net te jy wil ’n drie slaapkamer huis hê nie. Natuurlik moet ek bepaalde stappe neem om so ’n huis te bekom. Maar soms voel ek asof hierdie dinge alles vooraf bepaal word, en as dit nie in jou kaarte is nie, kan jy maar probeer tot jy blou in die gesig is. As dit dus in jou teeblare sê, “Woonstel in Kowloon tot jy doodgaan van eensaamheid,” gaan dit nie help as jy in desperaatheid terug gil, “Drie slaapkamer huis in stillerige dorp!” nie.

Dit help gewoonlik as my gedagtes sulke rigtings in donder diep in die nag, wanneer ek in elk geval oorweeg het om te gaan lê vir ’n paar ure.

Vanoggend staan ek toe op, en na my gebruiklike stukkie geskiedenis (die ongemaklike verhouding tussen Rusland en Europa tot en met 1905), besluit ek toe dat net omdat ek blykbaar nie meer ’n sosialis kan wees nie, dit nie beteken dat ek nie deur die gebruik van rasionele denke en aksie my eie maatskaplike stelsel, en gepaardgaande verhoudings kan bewerkstellig nie. Wat ’n omslagtige manier is om te sê dat ek nie glo ek noodwendig gedoem is tot ’n eensame bestaan op ’n subtropiese eiland in Noordoos-Asië nie.

Maar beteken dit ek kan volgende Februarie – oor bietjie meer as twee maande – teruggaan Suid-Afrika toe? Kan ek in die ry gaan staan vir ’n drie slaapkamer huis in ’n stillerige dorp of voorstad? Duidelik nie.

Die ander dag is ek weer herinner daaraan dat ’n mens geduldig moet wees. Goed en wel om dinge te wil uitsorteer en om antwoorde te soek, maar antwoorde val nie voor jou voete neer net omdat jy ’n slim vraag gevra het nie. So ook met ons ambisies. Net omdat ek na al die jare die woorde “drie slaapkamer huis in ’n stil area” kan prewel sonder om te dink ek verloën myself, is nie te sê dat ek al klaar een toilet en ’n halwe slaapkamer agter my naam kan skryf nie.

So kan ek aankarring en al in die rondte bly dans, vertel van hoe ek ’n sigaret gerook het, gedagtes op die trein gehad het oor die mooi berge, uiteindelik my telefoonrekening gaan betaal het, en huis toe gekom het om verder te skryf aan hierdie stuk. Die intelligente leser kan sekerlik raai wat volgende gaan kom: Ek het ’n plan nodig.

* * *

Ek reken nou al vir jare dat hierdie beroep van om Oosterse kinders die lingua franca van die wêreld te leer, beter is as om strate te vee, of om papiere op ’n kantoorlessenaar rond te skuif. Ek weet ook dat dit jou siel kan uitdroog van verveling.

Verder het dit nie my aandag ontglip dat die tye wat ek die gelukkigste was die afgelope paar jare, die tye was wat ek net twee of drie ure per dag moes spandeer om geld te maak nie, met die res van die tyd agter my rekenaar besig met my eie projekte.

Wanneer ek wel ’n uur of wat in ’n klaskamer spandeer en kontant kort daarna hande verruil, kan ek nie die implikasie ignoreer nie: Om ’n Expat English Teacher te wees in Taiwan is ideaal vir mense met onopgeloste issues wat veroorsaak dat hulle nie vrede kan vind in ’n mooi middelklas voorstad nie (of nie nou nie, in elk geval). Daar is ook ander voordele verbonde aan hierdie manier van geld maak – mens kan ’n vreemde taal bemeester, eerstehandse kontak met ander kulture, en jy ontmoet soms mense wat jy nooit andersins sou ontmoet het nie.

In kort, waar anders sou ek twaalf ure per week Engelse klasse kon gee en genoeg geld verdien daarmee om my basiese lewenskoste te dek? Waar anders kan ek, sonder om ’n enkele streep op ’n kontrak te trek, in ’n ou woonstel intrek en my muurbehangsels teen die muur vasspyker? Waar anders kan ek selfs my hawermout in die oggend met stokkies eet – wat nie werk nie, net so terloops, en ’n gesprek in Chinees voer met ’n mooi vrou buite die supermark as sy laat in die aand vir my ’n vars hoenderdy op haar braai gooi?

Waar sou ek al hierdie dinge kon doen … terwyl ek die een ballingskap opstel na die ander skryf vol weemoed en verlange na my mense?

Ek moet klaarmaak. Ek sien kortverhale in my teeblare, Chinese woordeboeke in my koffiebone, en as ek my oë opslaan na die sterre, nog ten minste sewe jaar van klasgee in die Verre Ooste. Die voordele is reeds genoem; die nadele lê hierdie hele literêre projek vol.

Een ding moet egter sneuwel in die stryd wat vir my voorlê: Ballingskap!

Vir jare al lei ek aan hierdie koorsagtige hoop dat die lewe wat ek nou my eie noem, nie die beste sal wees wat ek denkbaar kan bewerkstellig nie. Verterende vure van frustrasie en verlange smelt hierdie hoop saam met my vrese en my begeertes. Dit is wat maak dat ek al vanaf Junie 1999 ballingskap opstelle skryf. Dit is wat maak dat ek nooit verder kan sien as die volgende ses maande nie. Hoe anders as ’n mens voortdurend met skrefiesoë soek na maniere om weg te kom van ’n onvolhoubare situasie?

Ek is moeg vir ballingskap.

* * *

Is u as leser so deurmekaar soos ek? Dit moet van talent spreek om soveel te sê, en aan die einde weg te kom met so min wat nuut is. Gaan ek terug Suid-Afrika toe op vlug CX1749 wat vanaf Hong Kong vertrek op Donderdag 4 Maart 2004 om 11:50 in die nag? Dis sekerlik wat my reisagent glo.

______________________

Kom ons skryf ’n stuk …

Kom ons noem dit, Die Stuk wat Ek Geskryf het op Sondagaand 14 Desember 2003 om … of dan, Maandagoggend 15 Desember 2003 om 02:03. Waaroor sou hierdie, tot nou toe ongeskrewe stuk handel? Sal dit handel oor wanneer ek teruggaan Suid-Afrika toe? Sal dit handel oor my kritiek van die wêreld post-industriële rewolusie? Sal dit gaan oor my plan, net in potlood geskryf natuurlik, om volgende September Mainland China toe te gaan? Sal dit gaan oor verlange na my ouers in Middelburg en my jonger suster in Bronkhorstspruit en my ouer suster in Londen? Miskien sal hierdie stuk wat ek nog nie geskryf het nie handel oor die betekenis van die lewe, of die vraag na wát die mens dan nou eintlik is. Miskien sal dit handel oor die doel van my eie lewe, of dalk of ek ooit sal trou en kinders sal verwek. Sal dit handel oor die Kreatiewe Natuur, of die Kreatiewe Proses? Sal dit gaan oor die fauna en flora van Taiwan, of miskien oor die stappie wat ek oor agt ure sal aanpak na die naaste 7-Eleven om melk te gaan koop, en ’n koerant … of miskien selfs oor al hierdie sake? Sal ek paragrawe gebruik in hierdie stuk? Gaan ek nou kliek op “Tools”, dan op “Language”, dan op “Set Language” en dan op (no proofing) sodat die rooi strepe onder die woorde wat Microsoft Word tans probeer uitmaak as Engels, kan verdwyn? Sal ek die kant van my neus krap, of sal ek ’n sigaret gaan rook in die sitkamer? Dis nou 02:15. Ek tik dus al twaalf minute lank aan hierdie stuk. Die rede hoekom hier nog net … {“Tools”, “Word Count”} 284 woorde is, is omdat ek meeste van die tyd net twee vingers gebruik om te tik; dit ten spyte van die feit dat ek elke dag ure agter die rekenaar spandeer met tikwerk. Uit die badkamer hoor ek water drup in ’n ou emmer wat ek skuins onder die toilet se waterbak neergesit het. Die waaier in my rekenaar suis nou. My linkerknie druk teen die rand van die houttafel. Dis nou 02:18, en ek dink ek het ’n voertuig buite gehoor. Ek dink ek het nou net ’n muskiet gesien. Behalwe vir die rekenaar se waaier en die water wat in die emmer drup, en die belofte van ’n voertuig in die verte, is daar geen ander klanke in hierdie buurt op die oomblik nie. Behalwe natuurlik ook vir die geluide wat ek produseer op die sleutelbord as ek die woorde tik. Op die tafel staan my Toshiba skootrekenaar, met ’n groen lappie oor sy skerm, en ’n bypassende lappie oor die ingeboude sleutelbord (wat nie meer werk nie). Dan is daar ook die USB 2.0 Hub waarin my nuwe muis, my printer, en my 20-gigabyte draagbare hardeskyf gekoppel is. Ook staan daar die Monix skerm wat nog dateer van my eerste rekenaar kopie, lank, lank gelede in 1999. Reg voor die skerm staan ’n 3M anti-glans filter wat die skerm ’n bietjie donkerder maak, amper soos ’n sonbril. Omdat die hakies van die filter afgebreek het, reeds in 2000, staan dit op vyf ou Chinese boeke wat opmekaar gepak is. Langs die skerm staan ’n koffie- of teebeker met Chinese sierskrif op. Binne die beker staan ’n verskeidenheid penne en potlode. Meeste van die penne het nie meer ink nie, en die potlode is stomp. Daar staan ook ’n handwaaier in die beker wat ek sou gebruik het om my gesig mee koel te waai as dit ’n warm aand was. Ander items op die tafel sluit in my Citizen optelmasjien (om woorde te tel wat ek oor die afgelope vyf jaar geskryf het, en geld wat ek nié oor die afgelope vyf jaar gespaar het nie), ’n groot uitveër, ’n groen fluoressent pen, ’n swart pen wat ’n vriendin by my vergeet het, my nuwe blou muis, ’n bol prestik, en ’n papier coaster waarop ek nooit enige drinkgoed sit nie. Laastens gebruik ek ’n muismat met ’n stuk wit papier op saam met die nuwe muis. Ek het aan ’n paar wit Nike sokkies wat ek dink eintlik vir gimnaste ontwerp is (of vir mense wat joga doen), ’n kakie kortbroek, ’n wit T-hemp wat goedkoop whiskey adverteer, en ’n swart sweater, want dit is immers koelerig nou se dae in die aande. My keel is effens droog. My tee is op. Dis nou 02:36, en ek het nou al … 754 woorde getik.

Ek is terug. Die eerste sigaret wat ek opgesteek het, het by die filter afgebreek, so ek moes nog een opsteek. Terwyl ek daar gestaan het, het ek gedink, “Die Persoonlike Agenda van Brand Smit” moet eintlik één boek wees, en nie twee soos ek die afgelope tyd gereken het nie. Toe dink ek verder, nee, dit moet twee boeke wees, maar in één boek: Boek Een, en Boek Twee. (Ek het vergeet om te vermeld dat ek ook my blou wolmussie op het, nie soseer omdat dit so koud is nie, maar omdat ek beter dink as my kop warm is.) Ja, twee boeke ineen. Dit moet ’n lywige boek wees, ’n paar honderd bladsye lank. Dit moet dik genoeg wees dat mens ’n anti-glans filter sonder hakies daarop kan neersit sodat die filter reg voor die skerm kan staan. Dit moet ook swaar genoeg wees om ongenooide gaste oor die kop mee te kan slaan. Dit behoort derhalwe ook swaar genoeg te wees om as ’n boekstut te dien om ander boeke staande te hou. (Dis aansienlik koeler nou, of miskien verbeel ek my net. My knie druk al weer teen die rand van die tafel, die waaier koel weer die rekenaar af, die water drup steeds in die emmer in, en ek kan nog steeds nie uitmaak of daar ’n kar in die verte is, en of dit net die rekenaar se waaier is wat ’n geluid maak soos ’n motorkar nie.) Dit is nou een minuut voor drie, op Maandagoggend 15 Desember 2003. Volgende Donderdag is dit Kersfees. Ek het ’n boom, maar dit lê steeds in die spaarkamer. Ek het ook al drie kerskaartjies gekry. Albei my susters het gesê hulle sal vir my kaartjies stuur, maar ek is nie hoopvol dat die mense by die poskantoor sal weet wat die geromaniseerde Chinese woorde beteken wat ek vir my susters gespel het as my huidige adres nie. Hulle albei mag dus hul eie kerskaartjies terugkry, wat beteken hulle sal kaartjies hê om op hul eetkamertafels uit te stal wat hulle nie vir hulself gepos het nie, en waarvoor ek gedeeltelik verantwoordelik sal wees. Hierdie jaar is amper verby. Hierdie jaar is in werklikheid geskei van volgende jaar deur slegs ’n millisekonde. Ek het wel reeds ’n ander kalender wat agter my deur hang wat dit sal laat voel asof dit inderdaad ’n ander jaar is. (Dit is definitief ’n motorkar, al waai die waaier ook al weer.) Ek sou graag ’n vraag wou gevra het in hierdie stuk, soos wat is die doel van die vrou wat by die supermark werk se lewe, maar ek is lankal moeg vir vrae wat ek nie kan beantwoord nie. Selfs om dít te sê, maak my moedeloos, of moeg. Ek is eerder moeg as moedeloos, want dan kan ek net gaan slaap, en môre-oggend opstaan en nie meer moeg wees nie. As ’n mens egter moedeloos is … Ek hoop ek verkoop een van my projekte voor die einde van die jaar. Dan sal ek definitief vroeg volgende jaar terugkeer na die Republiek van Suid-Afrika. Ek is gebore in die Republiek van Suid-Afrika. Ek verstaan twee van die tale wat gepraat word in die Republiek van Suid-Afrika. Mens kan pekanneut tert koop by die Spar in die Republiek van Suid-Afrika. Mens kan ook Afrikaanse koerante daar koop. Mens het wel ’n kar nodig as jy van Middelburg af Bronkhorstspruit toe wil gaan, of andersom. Mens het ook ’n kar nodig om ander redes. As ’n man 32 jaar oud is en hy’t nie ’n kar nie, sal dit nie ’n verskil maak dat hy sewe jaar in Noordoos-Asië gewoon het, of dat hy gebroke Chinees kan praat, of dat hy ’n twee-in-een boek geskryf het wat ’n anti-glans filter sonder hakies staande kan hou op net die regte hoogte teen ’n rekenaarskerm nie. Al wat saak sal maak, is dat hy nie ’n kar het nie – wat beteken hy’s nie veel beter as ’n boemelaar nie. Dis nou 03:15. My knie is seer, en ek kry koud. In alle eerlikheid kan ek aanhou skryf aan hierdie stuk tot dit tyd is om 7-Eleven toe te stap om melk en die koerant te gaan koop. Om te skryf, is ’n heerlike ervaring. Dis beslis lekkerder as om TV te kyk. Hierdie tipe skryfwerk is ook handig as jy later vergeet dat jy bestaan het, en bewus was van jou omgewing op Maandag 15 Desember 2003 tussen 02:03 en 03:19 in die oggend. Ek moet egter nou gaan slaap, anders raak ek dalk moedeloos. En as ek moedeloos raak, gaan hierdie stuk beslis vervelig raak. Ek sê dus plegtig “nag” – en ek belowe ek sal môre weer skryf. Ek kan wel met oortuiging sê ek is bly ek is ’n skrywer, en nie ’n rekenmeester of ’n tandarts nie. Ek is verder bly dis winter, en nie somer nie. Laastens is ek bly ek is nie Saddam Hussein nie, wat moontlik beveel gaan word om sy baard af te skeer.

______________________

Die regte antwoord, en wat om met my oefenfiets te maak

SONDAG 14 DESEMBER 2003

My werk is nie om karre reg te maak, of om besighede se inkomste en uitgawes te bereken nie. My werk is ook nie om siek mense gesond te maak, om seer tande reg te maak, of om geboue en ander infrastruktuur te ontwerp of te bou nie.

My werk is om te skryf. En dit behoort duidelik te blyk uit die voorbeelde wat ek gekies het dat ek nie dink my werk is beter, of belangriker, of meer edel as enige van talle voorbeelde wat gelys kan word nie. Die punt is bloot, mý werk is nie om die werk te doen wat ander doen in bogenoemde voorbeelde nie. My werk is, weereens, om te skryf.

(Dit laat my wonder of ek soveel gepla moet wees met ’n beplande toekoms … ek móét egter teruggaan Suid-Afrika toe, al is dit net vir ’n paar maande, ter wille van my ouers en my susters, en om my besittings te verplaas na ’n land waar ek nie jaarliks toestemming nodig het om aan te bly nie.)

Ek hou nie van spyt nie. Dis ook baie keer te maklik om in retrospek te beweer dat sekere aksies wat mens geloods het, en sekere besluite wat jy geneem het, foutief was. Om egter te erken dat ek nooit stappe moes geneem het wat daarop neerkom dat ek permanent in Taiwan gaan woon nie, glo ek, sal uiters sinvol wees.

Ek het hier aangekom met twee tasse, en ’n plastieksak of twee. Ek moes enige tyd gedurende die afgelope vyf jaar hier kon weggaan met twee tasse, ’n sak of twee, en miskien ’n paar ekstra bokse wat ek per boot Suid-Afrika toe kon stuur. Die werklikheid is dat ek tans sit met ’n hele woonstel vol meubels, waarvan ek nie sal omgee om ’n paar stukke te behou nie. Ek het ook musiekinstrumente, fiksheidstoerusting, vyf rakke vol boeke, en omtrent dertig bokse vol gemors.

Nou, dis nie dat ek hier sit met die logistieke hoofpyn van hoe om ’n antieke kassie of ’n oefenfiets in my twee tasse in te pas, of met enige ander manier van goedereverskeping my materiële besittings in Suid-Afrika te kry nie. Die probleem is dat ek hier die leefstyl aangekweek en begin leef het wat ek in Korea al gesê het ek graag in Suid-Afrika sal wil hê. Ek het dus die leefstyl reggekry; dis net die omgewing wat verkeerd is. Dít is die verstelling wat ek moet maak.

Ook belangrik om te noem, ek het geen begeerte om die res van my lewe binne ’n twintig vierkante kilometer stukkie Suid-Afrika te slyt, en nooit weer die woorde “Noordoos-Asië” oor my lippe te laat gly nie. Suid-Afrika is my geboorteland. Dis waar my familie is. Dis waar die taal van my hart deur kinders en volwassenes gepraat word in skole, kerke en supermarkte. My plek is in Suid-Afrika. Dis ook waar my boeke, my foto’s, my oefenfiets, my antieke kassie, my muurbehangsels en my ornamente behoort te wees. Noordoos-Asië is die plek waar ek deeltydse werk kan doen op sesmaand- of jaarkontrakte, waar ’n taal gepraat word wat ek besig is om te bemeester, en waar mens ’n paar maande op ’n slag kan spandeer as dit jou werk is om te skryf, en nie om tande te herstel of karre te ontwerp nie.

As “plek” die vraag is, is “Suid-Afrika” dus die antwoord. As “werk” die vraag is, is “skryf” die antwoord. As “Noordoos-Asië” die vraag is, is “avontuur, deeltydse werk, studeer en skryf” die antwoord.

In terme van my werklike daaglikse lewe antwoord ek tans verkeerd op net een van hierdie vrae, en dit is die eerste een. Ek het sonder dat ek dit beplan het die afgelope vyf jaar, “Taiwan” by verstek as antwoord aangebied wanneer “plek” die vraag was. Op tye het ek net vermoed, en op ander tye gewéét hierdie antwoord is verkeerd. Die afgelope meer as ’n jaar was een van die tye wat ek feitlik sonder uitsondering elke aand gaan slaap het, en elke oggend opgestaan het met die vaste oortuiging dat “Taiwan” die verkeerde antwoord is – dat ek die verkeerde antwoord uitleef elke keer wanneer ek by my antieke kassie staan en skryf, na ’n muurbehangsel staar, ’n boek uit ’n rak trek of met ’n skuldige gewete verby my oefenfiets stap, en ek weet wat buite my voordeur lê is nie Stellenbosch, of Pretoria, of Middelburg, of Bronkhorstspruit nie.

Hierdie frustrasie is die een wat ek te bowe moet kom. Hierdie is die aangeleentheid waar ek ’n verstelling moet maak om, wat ek glo die regte “antwoord” is, uit te leef. Selfs al staan my oefenfiets, my muurbehangsels, en my antieke kassie in ’n stoorkamer in Suid-Afrika, en ek is steeds in Noordoos-Asië.

______________________

Ou helde staan, sommige val, en posters word omgeruil

DONDERDAG 11 DESEMBER 2003

Inleiding

Ek kyk nie meer TV nie. Ek sou graag wou sê dis omdat ek dink dis ’n mors van tyd, en dat ek daai uur of drie beter kan benut deur FreeCell op die rekenaar te speel. Wat egter gebeur het was dat ek nie vooruit betaal het vir my cable TV toe ek Juliemaand Suid-Afrika toe was nie, en die dame wat altyd die geld kom haal het, het dit toe laat afsny. Die rede hoekom ek dit nog nie weer laat aktiveer het nie, is wel polities gemotiveer. Ek het meer CNN gekyk as enige ander kanaal, en ek kon dit nie meer verduur om in die gesigte van George W. Bush en sy hoof-oorlogsheer Donald Rumsfeld vas te kyk nie.

Wat ek deesdae doen om my ontbyt meer vermaaklik te maak, is om te lees. Ek het onlangs ’n boek van L.S. Stavrianos teruggekry van ’n vriendin wat dit vir twee jaar lank geleen het, en ek dog toe dit sal aangename leesmateriaal wees op ’n nugter maag. Die titel van die boek is The World Since 1500 – A Global History. Dit sluit hoofstukke in oor die Renaissance, Protestantisme, die Ottomaanse Ryk, en die ontdekking deur Westerse seevaarders van lande wat hulle nie geweet het bestaan nie. Daar is ook ’n hoofstuk oor Europa se wetenskaplike, industriële en politieke rewolusies, en hoe dit die wêreld gevorm het wat ons vandag ons s’n noem.

Die Philosophes

’n Goeie geskiedenisboek lei soms tot insigte oor jou eie lewe, oor hoe dit gekom het dat jy leef soos jy leef, dink soos jy dink, en glo waarin jy glo. So was dit dan toe ek die oggend by die stuk kom oor die Verligting.

Saam met heerlike Australiese hawermout, Amerikaanse muesli, en twee ander ontbytpappe wat ek saam met eersgenoemde twee kombineer, het ek ingeneem dat die hoofkarakters in die Verligting die sogenoemde philosophes was. Hierdie groep, so’t ek geleer, moenie verwar word met formele filosowe nie. Die philosophes was nie diepsinnige of sistematiese denkers in enige veld nie. Hulle was hoofsaaklik literêre figure, populiste wat eerder uit die joernalistieke as akademiese rigtings gekom het.

Die twee belangrikste idees van hierdie groep was Vooruitgang en Rede. Hulle het geglo dat menslike lewe stadig maar seker sal verbeter soos die tyd aanstap, sodat elke geslag beter lewens sal lei as die vorige geslag. Hoe kon hierdie voortdurende vooruitgang gehandhaaf word? Deurdat mense gebruik maak van hulle redenasievermoë.

Hierdie advokate van vooruitgang was oor die algemeen gekant teen die bestaande orde. Hulle het toneelspele, romans, opstelle en weergawes van geskiedenis geskryf om hulle idees te populariseer, en om die noodsaaklikheid van verandering te illustreer.

Die philosophes was sterk beïnvloed deur die bevindings van die Engelse fisikus en wiskundige, Isaac Newton. Hulle het geglo, soos Newton gedemonstreer het, dat daar natuurlike wette is wat nie net die natuur reguleer nie, maar ook die menslike samelewing. Op grond van hierdie oortuiging het hulle rede toegepas op alle terreine van die lewe, ten einde die natuurlike wette vas te stel wat bepaal het hoe dinge werk. So is mense, instellings en tradisies onderwerp aan die toets van rasionaliteit.

Hierdie groep populiste het ’n stel rewolusionêre beginsels ontwikkel waarvolgens hulle ’n totale herorganisasie van die samelewing voorgestel het. Op die gebied van ekonomie was hulle leuse “laissez-faire” – wat daarop neergekom het dat mense toegelaat moet word om die ekonomiese aktiwiteite te onderneem wat hulle goedvind. Die Skotse ekonoom en filosoof, Adam Smith, het in sy boek An Inquiry Into the Nature and Causes of the Wealth of Nations in 1776 geargumenteer dat individue gemotiveer word deur selfbelang wanneer dit kom by ekonomiese aktiwiteite, en dat elke man sy eie belange beter ken en verstaan as enige amptenaar van die staat.

Op die gebied van godsdiens was die philosophes sterk gekant teen godsdienstige fanatisme en onverdraagsaamheid. Sommige het ateïste geword, en was van mening dat godsdiens net ’n instrument is in die hande van die staat. Ander was meer agnosties in hulle oortuiging, en het gereken hulle kan die bestaan van God nie erken, óf ontken nie. Die meerderheid was deïste, wat die bestaan van God erken het, en dat Hy verantwoordelik was vir die skepping van die heelal. Hulle het egter aangedring daarop dat God na die skepping die wêreld toegelaat het om te funksioneer volgens bepaalde natuurlike wette, en dat Hy nie inmeng in die natuurlike gang van sake nie.

Die groot idee op die gebied van politiek was die Sosiale Kontrak. Een van die meer bekende philosophes, Jean-Jacques Rousseau, het geglo dat hierdie kontrak ’n ooreenkoms tussen gelyke is, en nie soos die Engelse filosoof John Locke wat geglo het dat regering ’n politieke kontrak is tussen die regeerders en die geregeerdes nie. Rousseau het in sy werk van 1762, The Social Contract, die regering beskryf as ’n “kommissie”. Hy’t verder geglo dat rewolusie ’n regverdigbare aksie is waardeur mense hulle regmatige mag weer kan opeis.

Hierdie idees oor ekonomie, godsdiens en politiek was in konflik met die gevestigde instellings en praktyke van die dag. Ook in teenstelling met gevestigde idees het die philosophes aan hulleself gedink as lede van die menslike ras, eerder as Fransmanne of Europeërs. Hulle fokus was op die vasstelling van sosiale beginsels wat universeel toegepas kon word, soos Newton se beginsels van die natuurlike wêreld.

Dit was my eerste groot ontbyt ontdekking. Ek het my linkerhandpalm getref met my regtervuis en vir die buurman oorkant die stegie geskree, “Ek het altyd gewéét ek is iemand se kind!”

Die philosohes was populiste. Ek sien myself as nie soseer akademies ingestel nie, as gefokus op wat vir die gewone mens van praktiese waarde is.

Die philosophes was gekant teen die tradisionele instellings en praktyke van hulle dag. Natuurlik! Ek is ’n snotpikker teen pruikdraende hardebaarde soos Rousseau, maar ook ék maak piepgeluide teen die tradisionele instellings en praktyke van my tyd.

Selfs in terme van godsdiens drink ek eerder tee saam met ateïste, of speel eerder kegelbal met agnostici en deïste as saam met voorstedelike predikante – behalwe vir die enkele voorstedelike predikante wat ook eerder uithang saam met andersdenkendes.

Ek glo ook dat dit moontlik is dat elke geslag beter vooruitsigte kan hê as dié wat hulle voorafgaan, mits almal hulle koppe gebruik.

Al die idees wat ek so graag wil propageer kom dus van lank voor my tyd af. Dit het ek nog altyd vermoed, en ’n bietjie van geweet, maar nou kan ek datums en name gee aan die fondasies van my eie oortuigings.

Dit was egter die ekonomiese beginsels van die Verligtes wat my ’n voorsmaak moes gee van wat my ontbyt op ’n ander oggend surerig sou laat proe.

’n Nare waarheid: Is wie ek werklik is, wie ek dink ek nie is nie, en is wie ek dink ek is, in direkte teenstryd met wie ek werklik is?

’n Paar dae later – en ’n paar dekades later in die geskiedenisboek – sit ek weer met ’n bakkie ontbytmengsel en ’n koppie swart koffie, gereed om nog ’n dag in my lewe te begin met ’n kort geskiedenisles. Die eerste groot politieke rewolusies van die Westerse wêreld vir eers verby, kom ek toe by die drie groot ideologieë wat sou lei tot meer opstand en verandering – nasionalisme, liberalisme, en sosialisme.

Op hierdie punt is dit belangrik om te noem dat ek die afgelope dekade van opinie was dat ek ietwat van ’n sosialis is. As dit net ’n spel van mening was, sou ek my vlag opsteek vir die Bolsjewiste eerder as vir die tsaar in 1917, vir Mao en sy Rooi Leër eerder as die nasionaliste van Chiang Kai Sjek in die Chinese burgeroorlog, vir Fidel Castro eerder as Batista in 1959, en beslis eerder vir Karl Marx en Friedrich Engels as vir die uitbuiters van mans, vrouens en kinders in onder andere die fabrieke van negentiende-eeuse Engeland. (Die realiteit wat binne enkele jare mense se lewens sou versuur in Bolsjewistiese Rusland, Rooi China onder Mao, Kuba onder Castro en talle ander sogenaamde sosialistiese republieke, is ’n totaal ander storie.)

Ek sien myself ook eerder as liberaal as konserwatief. Maar wat beteken hierdie etikette van identiteit in historiese konteks?

Om jouself liberaal te noem, beteken volgens definisie dat jy jouself verbind tot die idee van emansipasie van die individu van beperkinge neergelê deur klas, maatskappy of regering. Goed, sover smaak my ontbyt so lekker soos enige dag, en my kop knik soos ek weereens my eie gesig in die teks sien.

Die volgende sin het my egter laat gryp na my bitter, swart koffie: “[The rise of liberalism] was intimately related to the rise of the middle class [and] it has remained essentially a middle-class movement in its theory and source of support.” (Eie kursief)

“Wat beteken dit?” het ek paniekerig uitgeroep. “Is ek middelklas net omdat ek myself as liberaal eerder as konserwatief sien, en omdat ek glo in die emansipasie van die individu?”

Die geskiedenis van liberalisme het droewiger gelyk hoe verder ek gelees het.

Liberalisme in Engeland in die sewentiende eeu het middelklasbelange gedien. Die Amerikaanse konstitusie – ’n liberale dokument volgens die maatstaf van die tyd – was noukeurig opgestel om die belange van die klas van eiendomsbesitters te beskerm en te bevorder. Selfs die Franse Rewolusie, wat meer radikaal was in liberale beginsels, was hoofsaaklik gefokus op die belange van die Franse middelklas!

Die liberalisme wat vorm aangeneem het tydens die Engelse, Amerikaanse en Franse Rewolusies was toegespits op gelyke burgerregte, en nie noodwendig gelyke politieke en sosiale regte nie.

Liberalisme kon egter nie onveranderd bly nie. Die werkende massas – dié wie se hande en gesigte vuil was aan die einde van ’n lang werksdag – het toenemend hul stemme dik gemaak as gevolg van ’n toename in geletterdheid, en ook as gevolg van vakbondorganisasie. Klassieke liberalisme moes na die verloop van ’n eeu of wat plek maak vir ’n ietwat meer demokratiese weergawe. Een resultaat hiervan was dat meeste mans, ten minste, teen die einde van die negentiende eeu die reg gehad het om ’n kruisie op ’n stembrief te trek.

Die beginsel van laissez-faire – ’n sentrale idee van die Verligtes van die agtiende eeu wat die middelklas so goed gepas het in die negentiende eeu – moes ook aangepas word. Die beleid van minimale inmenging van regeringskant in ekonomiese sake het nie goed gelyk in die aangesig van die bitter daaglikse realiteit van die werkersklas nie. Burgerregte en stemreg het nie aanvanklik veel verander aan die armoede en maatskaplike ellende wat veroorsaak is deur lae lone, lang werksdae, werkloosheid, siekte en ouderdom nie. Die werkers het derhalwe hulle stemreg en vakbondorganisasie begin gebruik om hulle saak vir sosiale hervormings te stel.

Hierdie proses het gelei tot ’n nuwe stel idees wat genoem is demokratiese liberalisme – en leiers wat gepredik het dat die staat verantwoordelik is vir ál haar burgers, nie net die middelklas nie. (Die hervormings van hierdie tyd sou uiteindelik lei tot die welsynstaat van die kontemporêre tyd.)

Ten spyte van die nuwe, meer humanistiese baadjie wat liberalisme sedert die laat negentiende eeu begin dra het, het dit sy glans verloor as die hoofman onder die ideologieë van die dag. Die belangrikste rede hiervoor was dat die advokate van die nuwe beweging nie daarin kon slaag om voldoende steun te wen onder die groeiende werkersklas nie.

Hoekom op aarde sou die mans en vrouens van die stof-en-roet-klas nie demokratiese liberalisme omhels nie? Hoekom sou hulle dit nie verwelkom as die beste beleid wat hulle ooit sou kon kry in hulle armsalige lewens nie? Die rede was ’n nuwe ideologie, aangenaam op hulle tonge soos warm sop wat ’n honger man op ’n wintersoggend laat hoop op beter dae – en selfs laat glo daarin! Werkers het toenemend hulle steun, en hul stemme as kiesers, gegee aan verskillende sosialistiese strominge. Hierdie ontwikkeling het die liberaliste in verskeie lande ingedruk tussen die konserwatiewes aan die regterkant, en die sosialiste links.

* * *

Wat het dit alles met my te doen?

As mens nie ’n probleem het met die middel stratum van die geïndustrialiseerde wêreld en die tipe lewe wat gewoonlik daarmee geassosieer word nie, sal al hierdie geskiedenis net interessante leesmateriaal wees. My dilemma is dat ek sorgvuldig ’n identiteit ontwikkel het en ’n gepaardgaande persoonlike dogma aanmekaar gesit het wat daarop neerkom dat ek gekant is teen vele aspekte van middelklasbestaan – of dan my eie somtyds eendimensionele portret daarvan. Op een of ander stadium sedert my universiteitsdae het ek verder tot die gevolgtrekking gekom dat my anti-middelklas sentimente van my ’n ondersteuner van sosialisme maak. Ek het myself derhalwe toenemend geassosieer met die “werkersklas” – as gevolg van my eie agtergrond en my persoonlike leefstyl, asook in terme van my persoonlike politiek.

Ek was egter altyd bewus van die teenstrydighede. Die “werkers” in my eie familie is hoofsaaklik geïnteresseerd in ’n stabiele middelklaslewe, en hulle skuif ongemaklik rond – op sitkamerstelle wat hulle maar te bly is hulle op krediet kon koop – as ek praat van ’n jaar of twee in Taiwan en hoeveel geld hulle sal kan spaar as hulle ooit moes besluit om óók so iets te doen. “Werklike” werkers gee meer om vir ’n stabiele arbeidsituasie, en droom van miskien ’n beter kar. Ek is bereid om gemak en heelwat plesiere van die lewe op te gee solank ek net vrye uitdrukking kan gee aan my werklikheidservaring, en niemand “Baas” hoef te noem nie. “Werklike” werkers, oftewel dan ten minste dié met wie ek persoonlike kontak het, aanvaar die wêreld waarvan hulle deel is meestal soos dit is – wat nie te sê is dat hulle nie ook ryk en vry wil wees, en van tyd tot tyd die behoefte aanvoel om die “Baas” agter sy rug te spot nie.

Die kern van die saak hier is my eie identiteit, hoe ek glo ek inpas in die polichromatiese landskap van sosio-ekonomiese klasse asook politieke en ekonomiese ideologieë en gepaardgaande etikette, en hoe ’n kombinasie van oortuigings dit moontlik maak om suksesvol te kan funksioneer in die moderne beskawing.

Die hamer splinter die spieël

Soos reeds vermeld, het ek die afgelope paar jaar toenemend aan myself gedink as “linksgesind”, en as “werkersklas” eerder as “middelklas”. Om meer duidelikheid te gee aan hoe ek myself sien, het ek ook ’n paar jaar gelede begin om met groot entoesiasme vir Noam Chomsky aan te haal wat eenkeer gesê het: “Classical liberal tradition in the eighteenth century [stated that] at the root of human nature is the need for free, creative work under one’s own control. That must be at the basis of any decent society.”[1]

Ek glo beslis aan die reg van individue om hul eie saak te stel en om hulself uit te druk soos wat hulle dit goedvind (solank niemand anders te veel skade lei nie). Ek glo ook aan die reg van elke mens om te streef na vervulling van die inherente behoefte aan kreatiewe werk onder eie beheer.

As ek dus tot nou toe na myself in die spieël gekyk het en moes vra na my eie naam en plek in die Groter Landskap, kon ek met trots resiteer, “Ek is ’n klassieke liberalis, met ’n sterk affiniteit vir sosialistiese idees.” (En dan, siende dat ek voor die spieël was, sou ek sommer my armspiere so effens bult om te sien of ek darem saam met ander lede van die werkersklas ’n krat bo-op ’n trok sal kan gooi.)

Groot was my skok dus – en selfs meer onaangenaam as die eerste skok oor die verhouding tussen klassieke liberalisme en die middelklas – toe ek vanoggend lees dat sosialisme die groot antitese is van klassieke liberalisme! Hoe kan my een stel oortuigings die presiese teenoorstaande wees van my ander stel oortuigings?

Volgens Meneer Stavrianos beklemtoon liberalisme die individu en sy of haar regte. Sosialisme plaas die klem op die gemeenskap, en op kollektiewe welsyn. Liberaliste sien die samelewing as die produk van natuurlike wette. Sosialiste glo dat mense deur die gebruik van rasionele denke en aksie hulle eie maatskaplike stelsel en gepaardgaande verhoudings kan bepaal. Hulle glo verder dat menslike natuur hoofsaaklik die produk is van die maatskaplike stelsel waarbinne mense gebore word, grootword, en leef en werk as volwassenes.

Volgens hierdie beginsels glo sosialiste dat die euwels van die wêreld geëlimineer kan word deur die vestiging van ’n samelewing wat gefokus is daarop om kollektiewe welstand eerder as persoonlike wins te bevorder, en om samewerking onder die bevolking aan te moedig eerder as kompetisie.

Die klem van sosialisme lê dus by die groter gemeenskap eerder as by die individu – en by omvattende beplanning en bestuur van maatskaplike verandering eerder as om dinge op ’n natuurlike wyse te laat ontwikkel.

Verbysterd, en stikkend aan my droë pap en koue koffie, het ek verder gelees oor Plato wat gereken het ’n diktatorskap van filosowe kan die wêreld red, van Utopiese Sosialiste wat deeglike planne en beginsels uitgewerk het vir model gemeenskappe, en natuurlik oor Karl Marx wat verskil het van die Utopiërs deurdat hy die historiese ewolusie en funksionering van die bestaande kapitalistiese wêreld bestudeer het, en tot die konklusie gekom het dat kapitalisme te pletter geslaan sal word deur die hamer van die werkers in ’n klassestryd wat ’n sosialistiese samelewing tot stand sou bring.

Die hamer het egter klaar my identiteit aan’t skerwe geslaan, en die sekel het reeds my fyn beplanning van hoe ek inpas in die wêreld aan’t flarde geruk. Is ek dan na al hierdie jare, na al die stukke wat ek geskryf het in spot en vrees vir die middelklas, na die deeglike legkaart wat ek gesny en gepas het om te kan verduidelik hoe ek inpas in die Groter Geheel, is ek na al hierdie eerlike pogings gedwing om te erken wat ek nog altyd gevrees het? Is ek middelklas?

Epiloog

Ek lees nie meer my geskiedenisboek nie. Of, ek lees dit nie meer getrou elke oggend met ontbyt nie. Ek sou seker kon sê dis omdat breedvoerige inligting oor ideologieë my twee keer laat dink het oor my plek in die samelewing. Wat werklik gebeur het, was dat ek die einde van ’n hoofstuk bereik het, en ek kon nie meer die stapel ongeleesde koerante langs my stoel ignoreer nie.

Wat maak die besonderhede in hierdie essay saak as ’n groot persentasie van die wêreldbevolking nie eens voldoende opvoeding kry, of gekry het, om die verskil te verstaan tussen die agtiende eeu en die negentiende eeu nie? Maak dit regtig saak of ek ’n poster van Karl Marx of Jean-Jacques Rousseau teen my muur het, as meer as die helfte van die wêreldbevolking nie vandag ’n behoorlike bord kos gehad het om te eet nie?

Ek voel ’n bietjie selfbewus oor my obsessie met identiteit en my plek in die wêreld, en as gevolg daarvan ’n belangstelling in die ontwikkeling van die ideologie van “free work under one’s own control”. Is hierdie dinge belangrik vir enige iemand anders? Het hierdie sogenaamde literêre projek van my net-net ’n halwe kans op ’n plek op iemand se boekrak omdat die gemiddelde leser nie net Tom Clancy en Stephen King kan lees elke dag nie? Weet almal min of meer waar hulle inpas in die samelewing? Sal iemand eendag vir ’n oomblik stilstaan tussen vergaderings en business lunches om my gemoedelik aan die skouer te vat en te sê, “Ons almal dink oor hierdie dinge, ons het net nie tyd om konstant daaroor te tob nie”?

Hoekom maak dit saak hoe en waar ek inpas in die Groter Geheel? Dit maak saak, omdat geen mens bokant ’n primitiewe vlak kan funksioneer as hy nie weet hoe en waar hy inpas nie.

Ek weet steeds nie lekker hoe en waar ek inpas nie. Die redes hoekom ek nie weet nie … wel, dis wat ek in die honderde bladsye van hierdie projek sover probeer verduidelik het.

(Die opsie is altyd daar dat ek myself kan beperk tot ’n gereduseerde realiteit waar dinge makliker sin maak, en waar my rol en funksie beter gedefinieer is, of makliker definieerbaar is. Die ding is, my bestaanswêreld is alreeds redelik beperk. As ek dit nog meer moet reduseer kan ek net sowel lid word van ’n godsdienstige kultus, of self een begin.)

Mens sal graag wil sê, “Al ken jy moontlik nie die korrekte akademiese formulering van jou plek in die samelewing nie, ken jy tog sekerlik die verskil tussen jouself en ’n armsalige wat krepeer in die agterbuurte van Kolkata, of in Lagos, of selfs Johannesburg, dan nie?”

Goed en wel. Maar wat presies is hierdie verskil? Ek eet meer, en meer gereeld. Ek slaap elke aand op ’n gemaklike bed. As ek siek is, kan ek doktor toe gaan. Ek het nie ’n motorkar nie, maar ek het ’n fiets. Ek besit ook nie die eiendom wat ek met my posters en my meubels en my fisieke teenwoordigheid vul nie, maar as ek nie in hierdie woonstel bly nie, is daar ander woonstelle waar ek ’n deur agter my sal kan toetrek in die aande.

Dit is wel ook so dat ek nie hierdie woorde skryf in die land waar ek die natuurlike reg het om te woon nie. Ek woon in hierdie land omdat ek ’n profyt maak vir besighede wat Engelse klasse verkoop aan die ouers van hoofsaaklik laerskoolkinders. Ek het dus toestemming van die owerhede om hier te woon, solank ek voortgaan om te voldoen aan die vereiste wat hulle laat instem het tot my teenwoordigheid op hierdie eiland. As ek nie meer elke dag my voorgeskrewe arbeidsrol in hierdie plek vervul nie, moet ek padgee.

Sou ek myself terug bevind in die land waar ek wel ’n geboortereg het om myself tuis te maak, sal die antwoord op die vraag na die verskil tussen my en ’n boemelaar in enige stad in die wêreld aanvanklik dieselfde wees: Ek sal elke dag eet, redelik gemaklik slaap, ensovoorts. Hierdie is egter verskille wat ek net as vanselfsprekend sal aanvaar as ek goed gesuip is en nie verder as my bed in iemand se gastekamer dink nie.

“As dit tot ’n groot mate ’n kwessie is van werk en inkomste, hét jy tog kwalifikasies,” sal iemand weer ’n mening waag. “Dit kan mos nie te moeilik wees vir jou om ’n betrekking te kry in enige groot stad in jou eie land nie, of hoe?”

Dit is so: Dit is sekerlik moontlik vir my om êrens iemand te vind aan wie ek my tyd kan verkwansel. Net jammer dat ek geëet het van die vrug van kreatiewe vryheid. Net jammer dat ek bewus is van die effek wat die Industriële Rewolusie gehad het op kontemporêre arbeidsverhoudings, en van die waarde van die individu as ’n rat in korporatiewe masjinerie. As ek net kon vergeet van al hierdie dinge, en terwyl ek besig is met die vergeet aksie, sommer ook vergeet van eerstehandse ervarings van hoe ’n middelklaslewe soms verkeerd kan loop, sou ek miskien van voor af kon begin het; sou ek ’n baie meer beskeie lot kon aanvaar wat heel moontlik my voorland sou wees; sou ek moontlik selfs dankbaar gewees het vir die soort van goeie lewe wat ek my eie sou kon noem in die aangesig van soveel mense wat stof eet voor hulle gemaklik raak in hulle vloedwaterpype vir die nag.

Dit bring ons by ’n goeie punt in hierdie opstel om ’n laaste vraag te vra: Skuld ek dit aan die boemelaars, aan die straatkinders, en aan ander wat minder bevoorregte lewens lei, om op te hou skryf aan onpubliseerbare, selfgesentreerde materiaal en om eerder ’n “job” te kry?

* * *

Duisende woorde is in hierdie stuk rondgegooi, datums en name is opgestapel teen mekaar, en deur die loop van die proses is vele bakkies ontbytpap met behulp van vele bekers koffie in my liggaam gestop, alles met oënskynlik een doelwit voor oë: om die vraag op te los van watter ideologiese etiket ek, die skrywer van hierdie materiaal, kan dra met geloofwaardigheid en oortuiging.

Ek het amper my aptyt verloor die oggend toe ek ontdek watse sentrale rol die klassieke liberaliste gespeel het in die verowering van die wêreld deur die middelklas – ’n sosio-ekonomiese groepering vir wie ek al jare lank aan die weghardloop is (al slaan ekself die sweep agter my soos ek hardloop). Soveel van die klassieke liberale idees is dan presies die tipe gedagtes waarmee ek myself aan die slaap sus in die aande! Hoe gemaak met so ’n nare teenstrydigheid?

Aan die ander kant was die ewe onaangename ontdekking dat ek myself verkeerdelik geïdentifiseer het as ’n “sosialis”. Ter regverdiging kan ek noem dat hierdie identifikasie heel moontlik gemotiveer was deur niks anders nie as die feit dat hulle die grootste en sterkste bende was wat ook gespu het in die rigting van die middelklas. Net jammer dat, benewens hierdie antagonisme teen die bourgeoisie, sosialiste ook glo dat die enkeling sy eie drome en ambisies, sy individualiteit, vrye kreatiewe uiting van sy werklikheidservaring, en soms selfs sy lewe moet prysgee ter wille van die welsyn van die gemeenskap, en uiteindelik vir die welsyn van die staat.

Ek respekteer die intellektuele talente van mense soos Marx en Lenin, en ek glo dat hulle werklik die belange van die gewone man, vrou en kind in vuil agterstrate, sielmartelende fabrieke, en stowwerige gehuggies op die hart gedra het. Ek reken ook – hoewel baie lewens vernietig was in die proses – dat mens selfs agting kan hê vir die toewyding en die vasberadenheid waarmee die Bolsjewiste gepoog het om die grootste staatkundige eenheid in die wêreld te transformeer, en dit aan die hand van ’n stel idees wat vele van hulle werklik geglo het ’n meer regverdige bestel tot gevolg sou hê vir die meerderheid van die bevolking.

Ek kan nie die rol van klassieke liberalisme ignoreer in die vergrype van die Industriële Rewolusie en die gepaardgaande ontwikkeling van die kontemporêre middelklas nie. So ook kan ek nie iets anders mompel tydens die Geloofsbelydenis van Kommuniste waar hulle resiteer dat, “As die staat wil hê jy moet tien ure per dag in ’n fabriek werk, moet jy dit doen, omdat dit goed sal wees vir die welsyn van die gemeenskap” nie. (“Plus, jy’s in elk geval net ’n niksseggende deeltjie van die groter geheel wat nie gemis gaan word as jy in die middel van die nag verdwyn nie.”)

Is ek dit aan enige Gemeenskap van Klassieke Liberaliste verskuldig om ’n Goeie Klassieke Liberalis te wees? Is ek dit aan enige kontemporêre Kommunis verskuldig om ’n Goeie Sosialis of Kommunis te wees? Sou ek hierdie etikette om my nek wou hang om aanvaar te word as deel van ’n groep, sou dit dalk noodsaaklik wees dat ek in opregtheid hulle geloofsbelydenisse moes resiteer. Indien groeplidmaatskap nie my eerste prioriteit is nie, kan ek voortgaan om vir myself uit hierdie ideologieë, en uit die persoonlike bydraes van die leiers van die gepaardgaande bewegings, toe te eien wat ek goedvind.

Ek glo steeds, soos Jean-Jacques Rousseau en sy denkgenote, dat die wêreld voortgedryf word deur natuurlike beginsels; ook dat as mense net hulle gesonde verstand wil gebruik, ons ’n beter wêreld kan skep vir ons en ons nageslag. Verder glo ek aan die reg van die enkeling om vrye, kreatiewe uitdrukking te gee aan sy of haar persoonlike werklikheidservaring, ongeag of die gemeenskap of die staat daarvan hou of nie, maar solank dit nie ander se reg om dieselfde te doen, in die wiele ry nie. My hoed sal ek ook steeds lig vir mense soos Marx en Lenin, wat in erns en opregtheid hulle lewens toegewy het daaraan om ’n beter, meer regverdige wêreld te kontempleer, en daarna oorgegaan het tot aksie om so ’n wêreld tot stand te bring – al was die resultaat van hulle pogings uiteindelik nie wat hulle gehoop het dit sou wees nie.

Watter “helde” gaan ek dus van nou af vereer as ek ’n poster agter ’n deur wil plak, om sodoende my identiteit en plek in die wêreld beter te illustreer? Hier’s ’n voorstel: ’n steenkoolskets van myself, met ’n welige baard, ’n agtiende-eeuse Franse pruik met grys krulle, en bo-op die pruik ’n kondukteurspet, circa Rusland, 1917.

[1] Noam Chomsky, Secrets, Lies and Democracy

______________________