Nie desperaat genoeg om ryk te word nie

DINSDAG 28 OKTOBER 2003

Ek is nie desperaat genoeg om ryk te word nie. En ek bedoel nie om te sê dat hierdie verlangde toestand moet arriveer op die oomblik wat ek die laaste kleingeld uit my broeksak trek nie. Nee, hierdie desperaatheid moet kom wanneer mens sit met ’n tafel gevul met aksies wat jy kan neem, items wat jy kan koop, en ’n aantal verbeteringe wat ’n mens net kan aanbring wanneer jy sit met werklike harde valuta in die bank.

Die belangrikste rede hoekom ek op hierdie oomblik baie geld sal wil hê, is om Japan te besoek. Ek het nou al vir ’n geruime tyd dagdrome oor ’n twee-week toer wat sal begin in Tokio, dan sal ek draaie maak in Osaka en Kioto, en dan sal ek noordwaarts draai om my vuis te bal vir die lug bo Hirosjima. Die dagdrome sluit natuurlik in dat ek sal terugbring klein onbenullighede vir vroulike aanhangers wat jaloers sal grom vir mekaar vir my eksklusiewe aandag. (Of dalk sal ek net iets terugbring vir die vrou wat die kasregister slaan by die supermark in my buurt. As sy nog nie getroud is nie, sal sy dalk instem om vir ’n paar minute ’n koeldrank saam met my te geniet buite die winkel.)

Die feit bly staan dat nou die tyd is om ryk te word. As jy nie ’n terroris is nie het jy bykans onbeperkte geleenthede om oral in die wêreld te reis. (Behalwe vir lande soos Somalië, Noord-Korea en die Verenigde State van Amerika. Dan weer, hoekom sou jy hierdie lande wou besoek … behalwe as jy ’n doodsbegeerte het, ’n fassinasie met onderdrukkende fascistiese state, of as jy ’n ding het vir Kim Jong-Il.) Die welgestelde ryk man of vrou kan ook op eindelose inkopietogte gaan om ’n wye verskeidenheid van produkte te versamel wat elke behoefte waaraan hulle kan dink, kan bevredig. Hulle kan natuurlik ook lede van die teenoorgestelde geslag, of watse geslag hulle ook al geslag verkies, na hulle toe aantrek.

Hoewel ekself nie juis mode volg nie en geen toegewyde dissipel van die verbruikerskultuur is nie, sou ek in geval van skielike welstand wel vir myself koop ’n paar nuwe hemde en miskien ’n nuwe langbroek (my enigste ordentlike broek is versier met veelkleurige spatsels verf). Ek sal ook vir my ’n nuwe rekenaar koop, siende dat ek reeds verskeie dele van my huidige werkesel moes vervang oor die jare. ’n Nuwe fiets is nog ’n item wat ek graag in besit sal wil neem. En dan wil ek natuurlik Japan toe vlieg, ekonomiese klas, ten spyte van die feit dat ek waarskynlik ’n duurder plekkie sal kan bekostig op die vliegmasjien. Om op so ’n vakansie te kan gaan sal beteken dat ek inderdaad ’n mate van vryheid van beweging bereik het wat tot nou toe net verbeel is tydens periodes van intense rus. Ek sou ook Suid-Afrika toe kon gaan vir ’n paar dae om my voorrade van ordentlike toiletpapier aan te vul, ’n paar bottels Steers knoffelsous te koop, en ’n paar tydskrifte waar ek nie twee Engels-Chinese woordeboeke hoef te raadpleeg om die titel te verstaan nie.

Nou is nie net die tyd om ryk te wees nie, dit is ook die tyd om ryk te word. Tegnologie wat voorheen buite die bereik van gewone mense was, is in vele gevalle nou so maklik verkrygbaar as ’n nuwe hemp, en nie noodwendig veel duurder nie. Dit het ’n mantra geword wat ek gereeld resiteer vir almal binne hoorafstand dat dit nou minder nodig is as ooit tevore om jou arbeid aan die hoogste bieër te verkoop, asook om jou keuses van kleredrag en jou vryheid van spraak, denke en beweging aan korporatiewe goedkeuring te onderwerp. (Dit is nogal interessant, en miskien ’n bietjie ironies, dat die bemagtiging van die individu om hom- of haarself te bevry van korporatiewe slawerny en knegskap ’n winsgewende onderneming geword het deesdae. Weet die korporasies dit? Hulle moet tog. Hulle het immers die hele wêreld onder hulle beheer, dan nie?) Inligting oor spesifieke metodes, vaardighede en truuks is oral beskikbaar vir die voormalige korporatiewe lyfeiene wat ’n entrepreneuriese ontsnapping beplan, of vir die rebel wat tot dusver onaangeraak was deur die fascistiese kloue van korporatiewe instellings.

Om te soek na hierdie inligting en dit te vind is een ding. Die maagdelike entrepreneur moet ook sy of haar manier van dink oor dinge sorgvuldig analiseer, heroorweeg, en verander waar nodig. Hulle moet verstaan dat om vrye, skeppende werk te doen onder ’n mens se eie beheer selfdissipline vereis, en ambisie, en vertroue in jou vermoëns en talente – en ’n eerlike beskouing van jou swakhede. Dit vereis dat die aspirant-suksesvolle entrepreneur lang ure sal moet werk – amper soos in ’n korporatiewe omgewing, maar hopelik by die huis, in klere tien keer meer gemaklik as ’n pak klere of ’n stywe rompie, met musiek van sy of haar keuse wat die luggolwe vul wat voorheen besoedel was deur die gille en getjank van korporatiewe gesagsfigure.

———–

Al hierdie nuttige goedjies is nie wat ek bedoel het om te sê in hierdie spesifieke stuk nie. Ek het bloot bedoel om ’n platform te skep om my opinie te lug dat ek nog nie desperaat genoeg is om ryk te word nie. Ek is goed bewus van beide my swakhede en my sterkpunte as ’n entrepreneur. Ek is ook oortuig van my stoïsisme (ek eet ontbytpap selfs wanneer ek geblikte tuna het in my kosboks), en die feit dat dit dalk nie goed is om myself te weerhou van menslike geselskap nie, beteken nie noodwendig dat ek dit nie selfdissipline kan noem nie.

Wat ek nodig het, is die vuur wat brand in ’n honger kommunis se maag voordat hy ’n werk aanvaar as ’n skoonmaker by ’n groot maatskappy. Of, miskien ’n meer relevante analogie, die begeerte wat brand in ’n man wat pas teruggekeer het na die stad ná tien jaar in die woestyn, wetende dat hy enigiets en alles wat hy gemis het die laaste dekade kan kry as hy net sy hande kan lê op genoeg van die plaaslike geldeenheid. Om nie te praat van die ondraaglike nuuskierigheid wat vatkry aan so ’n man se siel wanneer hy verby ’n winkelvenster loop en uit die hoek van sy oog ’n boek sien wat beweer dat dit enige iemand kan leer om ’n miljoenêr te word voor sy volgende verjaarsdag nie.

Ten slotte, ek moet seker bely dat my begeerte om ryk te wees minder te doen het daarmee om die vars lug van Hirosjima in te asem as om die pepermentasem van ’n vrou op my wang te voel. Selfs al het sy my nie lief vir my standpunte oor korporatiewe kultuur, of my aandrang daarop om langbroeke te dra met verfspatsels nie.

______________________

Produktiwiteit en die leuen

MAANDAG 20 OKTOBER 2003

Die primêre motiverings agter die keuses en aksies wat my daaglikse lewe definieer, is – soos ek vroeër vermeld het – die konsep van PRODUKTIEWE BENUTTING VAN LEWE TERWYL DIT IN JOU ARE VLOEI, en ’n gepaardgaande RENONS IN DIE LEUEN.

Vele sal die idee wil propageer dat om soveel as moontlik geld te maak ’n pragtige voorbeeld van PRODUKTIEWE BENUTTING is. Ek glo egter dat dit eers as sulks sal kwalifiseer as jy iets dóén met die geld wat sal lei tot betekenisvolle verbetering aan jou eie en verkieslik ook ander se lewens.

Om net baie geld te maak, en dan hoofsaaklik jou lewe toe te spits op genot en vermaak, is per definisie ’n MORS VAN LEWE TERWYL DIT IN JOU ARE VLOEI. Dit kan ook op ’n sekere vlak, en as die resultaat van ’n argument wat ek nie nou gaan voer nie, bestempel word as ’n LEUEN.

______________________

Een/nul, en hoekom een beter is

SONDAG 12 OKTOBER 2003

Soms maak iemand ’n keuse, en dit kan net beskryf word as die slegter een van, kom ons sê twee, opsies. Wat betref hierdie persoon se keuse, het ek ook ’n keuse: om óf te probeer verstaan hoekom die persoon die spesifieke keuse gemaak het, óf om nie te probeer verstaan nie.

As ek daarin slaag om te verstaan hoekom iemand die slegter een van twee keuses gemaak het en dit dan so verduidelik aan ’n derde party, is laasgenoemde soms geneig om te sê, “Maar dis nie ’n verskoning nie,” en dat ek die persoon verdedig.

My antwoord is dan dat net omdat ek verstaan hoekom iemand ’n slegte keuse gemaak het, nie skielik die keuse minder sleg maak nie. ’n Slegte keuse is ’n slegte keuse, of jy verstaan wat die persoon gemotiveer het, of nie. Maar ek glo ook dat die keuse om nié te wil verstaan hoekom iemand ’n slegte keuse gemaak het nie, óók die slegter een van twee opsies is.

______________________

Storm voort met ’n brandende viool

SATERDAG 11 OKTOBER 2003

Daar is ’n gewilde gesegde wat lui dat ons begin om te sterf die oomblik wat ons gebore is. Ons selle begin verouder soos hulle groei, en selfs al word beskadigde selle herstel tot min of meer volle funksionering, en vernietigde selle vervang, is die pas van hernuwing en kwaliteit van nuwe selle nooit voldoende om ons vir ewig aan die lewe te hou nie. Dan is daar die hartseer feit dat die kanse dat ons lewens beëindig sal word deur onnatuurlike oorsake sodra ons oud genoeg is om dit te waag buite ons kotte tot so ’n mate verhoog dat niemand geblameer kan word vir ernstige eksistensiële angs nie.

’n Paar jaar gelede, in daardie heerlike jaar net toe ek veronderstel was om aan te sluit by die hoofstroom van lewe, was ek gelukkig genoeg om ’n klassieke film te sien op my geleende swart-en-wit TV. Ek was nog nooit entoesiasties oor cowboy films, of films oor Wilde Weste boewe nie, maar hierdie spesifieke fliek het my ’n bepaalde perspektief op die lewe en ’n houding gegee wat geblyk het uiters bruikbaar te wees. Die fliek, Butch Cassidy and the Sundance Kid, vertel die verhaal van twee skurke, Butch en sy vriend, The Kid.

Nadat die twee skurke hulself in die moeilikheid gekry het met ’n paar ernstige regsmanne, vlug hulle Bolivië toe. Teen die einde van die film is die twee rowers vasgekeer in ’n klein dorpie in die Boliviaanse platteland, met wat hulle dink ’n paar plaaslike geregsdienaars op hulle spoor, onbewus van dosyne Boliviaanse soldate wat ook toevallig in die buurt is. Butch en die Kid sit toe in ’n gebou, rûe teen die muur, en bespreek die kanse dat hulle lewendig uit die situasie kan kom. Omsingel deur die plaaslike burgermag, salig onbewus van dosyne Boliviaanse soldate wat ook reeds stelling ingeneem het, reken hulle hul kanse is skraal. Tog sal hulle probeer om weg te kom, besluit hulle uitdagend. Buite, op die dorpsmure, wag dosyne gelaaide gewere op hul poging. Die twee rampokkers gaan hulle rewolwers na, wens mekaar voorspoed toe, en storm uit al koestend vir honderde koeëls. Hoewel dit net word gesuggerrer word deur slim kamerawerk, weet almal wat die enigste moontlike resultaat is: Hulle het gesneuwel, maar – met hul eie rewolwers al skietende in alle rigtings.

Soos ek na die naamrol kyk, betower deur die diepgaande implikasie vir my eie lewe, onthou ek van ’n prent in die koerant wat die fliek geadverteer het op TV daai aand. Ek het die koerant opgespoor, die prent uitgeknip met ’n stomp skêr, en besluit om dit prominent te vertoon in elke plek wat ek van toe af sou bewoon. Dit was geplak teen die badkamerdeur in die munisipaliteitswoonstel wat ek met my jonger suster gedeel het op daai tydstip, teen ’n kasdeur in Suid-Korea, en teen meer as een muur nadat ek teruggekeer het na Suid-Afrika. Dit was ook die eerste prent waarvoor ek plek gevind het in die sitkamer van my eerste woonplek in Taiwan, en op hierdie oomblik is dit geplak langs die voordeur van my tweede woonstel in hierdie stad, om te verhoed dat ek vergeet waar ek vandaan kom, of waarheen ek op pad is.

Dit het geword die naaste aan ’n persoonlike slagspreuk, ’n lewensfilosofie buiten “leef en laat leef” waarmee ek redelik tevrede kan wees.

Soos ek vanmiddag my woonkamer betree ná nog ’n les met my pragtige Chinese onderwyseres, slaag die prentjie weer daarin om my aandag te trek. Ek was besig om te dink aan my onlangse planne om Taiwan te verlaat – ’n belangrike gedagtegang wat gewoonlik voorrang kry bo enige ander vrag idees, maar die prentjie het my aandag daarvan afgelei. Ek het gedink oor hoe dit verduidelik wat ek gedoen het die afgelope dekade, en veral gedurende my tyd in Taiwan. My voortdurende pogings om myself produktief besig te hou, is my eie manier om na die spreekwoordelike stof terug te keer met wapens wat vuur in alle rigtings. Dit kwalifiseer dalk nie as heldhaftig of dapper nie, maar dit is my manier om te sê, “As ons in elk geval tot sterwe kom maak nie saak wat ons doen nie, dan gaan ek liewer uit terwyl ek myself produktief besig hou tot die finale asemteug.”

Ek het wel begin dink dat my siening van hierdie slagspreuk en die gepaardgaande houding teenoor lewe op aarde dalk pessimisties kan voorkom, miskien selfs ’n bietjie morbied, en nogals redelik vervelig. “Is daar nie plek vir ’n bietjie sinnelose vermaak nie?” vra ek myself. Ek het peinsend by die kombuisvenster uitgestaar, en toe besef ek: Nero het viool gespeel terwyl Rome gebrand het. Hy – of ten minste die mitiese Nero – het die verskriklike feite op die grond geïgnoreer, en besluit om homself eerder te vermaak met ’n bietjie musiek.

Veel kan ook gesê word oor hierdie houding, maar dit het beslis ’n mate van uitdagende styl. Om jouself te vergryp aan sinnelose vermaak in die tyd waarin ons tans leef, is nie soveel anders as dronk Nero se flambojantheid terwyl vlamme die antieke pilare van sy stad swart gelek het nie. Om ’n sepie op TV te kyk terwyl mense doodgaan van die honger kwalifiseer dalk nie as uitdagend in baie mense se gedagtes nie, maar dit beteken nie dat daar geen regverdiging is vir ’n bietjie pret en plesier nie.

Dit is ’n algemeen erkende feit dat ons almal uiteindelik sal sterf, dat ons natuurlike lewens onvermydelik sy finale gevolgtrekking sal bereik. Om uit te gaan met al jou wapens wat vuur, ongeag presies wat dit beteken vir elke persoon wat hierdie slagspreuk aanhang, is een manier om te gaan. As jy daarin kan slaag om ’n bietjie pret te hê terwyl jy op pad is na die uitgang, dan soveel beter.

Butch en The Kid het ’n stortvloed van ’n duisend koeëls binnegestorm, hul eie wapens vurend tot die stilte op hulle neergesak het soos ’n swaar gordyn, totdat hulle lewelose vingers van die snellers afgegly het. Nero het probeer om die gille van brandende burgers stil te maak deur te pluk aan sy viool. Ek doen my huishoudelike take, leer ’n paar Chinese karakters, skryf ’n paar reëls poësie, maak my fiets reg wanneer dit nodig is, verf my mure en deure effens verskillende variëteite eierdopwit, en beplan my repatriasie uit ballingskap. En ek is redelik seker daarvan as ek hard genoeg soek daarvoor, ek weer daai middel “C” op my klawerbord sal kan vind.

______________________

Oor die nageslag: Ouerskap

DINSDAG 7 OKTOBER 2003

Een van die mees prominente ideale van middelklaskultuur is GOEIE OUERSKAP. Volgens die kriteria van GOEIE OUERSKAP regverdig ouers hulle keuses in die lewe. Dit is ook volgens hierdie kriteria wat hulle die suksesse of mislukkings van ander ouers beoordeel. Dit is verder volgens hierdie kriteria wat ek myself gediskwalifiseer het van ouerskap – ten minste vir die onmiddellike toekoms.

Een van die grondbeginsels van GOEIE OUERSKAP is om jou kinders Die Beste Te Gee Wat Jy Moontlik Kan. Dit is oor hierdie beginsel wat ek ’n paar laaste opmerkings wil maak.

Om vir jou kinders die beste te gee wat jy kan, mag dalk gevolge hê wat nie voorsien word nie; nie eens deur ouers wat hulle kroos grootmaak met die beste van bedoelings nie.

Een van hierdie gevolge mag dalk wees dat die jong volwassenes wat grootgemaak is deur ouers wat in al hulle behoeftes voorsien het, wat aan hulle goeie geleenthede gebied het om hul belangstellings vrye loop te gee, en wie se persoonlikhede ontwikkel het in ’n beskermende omgewing, toenemend konserwatief, selfgesentreerd en selfsugtig raak wanneer hulle gekonfronteer word met ’n harder werklikheid as die een waarbinne hulle grootgeword het. Hierdie reaksie mag dalk ook manifesteer in ’n berekende ondersteuning vir die manier-hoe-dinge-is, die status quo, wat aan húlle ’n voorsprong gegee het in die lewe sonder dat hulle veel gedoen het om te verdien wat aan hulle gegee is. So sal hulle alle sosiale, politieke en ekonomiese beleidsrigtings ondersteun wat hul posisie verskans, en hul skouers ophaal vir dié wat aansienlik minder bevoorreg is. Hulle mag selfs so ver gaan om hierdie mense wat minder ontvang het as hulle, “lui” te noem.

’n Ander moontlikheid in die geval van die persone wie se geluk die voordele van bogenoemde agtergrond ingesluit het, is dat hulle in verleentheid en skaamte sal keer na mense minder bevoorreg as hulself. Hulle sal dit moontlik verduidelik as iets wat hulle die samelewing skuld omdat húlle “dit so maklik gehad het, terwyl ander so swaargekry het”. Hulle mag dalk ook onseker wees oor wat hul kanse op oorlewing sou wees indien hulle nié grootgeword het in ’n omgewing waar daar voorsien is in al hul behoeftes nie; indien hulle nié grootgeword het in ’n omgewing waar hul belangstellings en persoonlikhede ontwikkel het sonder die steurnis van te veel pyn en onvervulde begeertes nie.

My advies aan ouers is om inderdaad aan hulle kinders die beste te gee wat hulle kan, om hulle die waarde van verantwoordelikheid te leer, en om hulle belangstellings binne redelike finansiële perke te ondersteun. Verder moet ouers fasiliteerders wees van die proses wat hulle kinders in staat sal stel om ’n selfbeeld te ontwikkel wat gebaseer is op vermoëns en verdienste, en nie net op lidmaatskap van ’n sekere stratum van die samelewing nie.

Kinders moet bewus wees van die lyding van ander; dit, en hulle eie meer bevoorregte situasie (as dit die geval is) moet aan hulle verduidelik word op ’n manier wat aan hulle ’n motivering sal bied om ’n sin van verantwoordelikheid te ontwikkel teenoor hulle medemens – wat insluit mense in meer gestremde sosio-ekonomiese omstandighede asook lede van hulle eie gemeenskap.

Ouers moet aan hulle kinders die waardes leer van geloof in hulle medemens, eerlikheid, waardigheid, verantwoordelikheid vir ander, en verantwoordelikheid vir hulle eie aksies. Hierdie waardes moet nie net geleer word in gesproke vorm nie, maar in aksies en in gedrag van die ouers teenoor hulle kinders, en teenoor ander mense. Kinders moet bewus gemaak word van die resultaat van liefde en ook van haat, en hulle moet deur woorde, gedrag en aksies leer om liefde te kies. Ouers moet ook in hulle kinders ’n houding van onbevooroordeeldheid en verdraagsaamheid teenoor ander mense aankweek.

Kinders moet die waarde van beginsels geleer word, en om dit te handhaaf selfs al moet hulle soms alleen staan. Kinders moet geleer word om in hulleself en hulle vermoëns te glo, deur ouers wat in hulle kinders glo. Kinders moet geleer word dat foute soms ’n noodsaaklike deel van die lewe is, en dat hulle moet leer uit hulle foute soos volwassenes ook moet doen.

Kinders moet gekoester word, versorg word en beskerm word op wyses wat die waarskynlikheid sal verbeter dat hulle volwassenes sal word wat liefhet eerder as haat, wat verantwoordelikheid aanvaar selfs wanneer ander hulle blik wegdraai, en wat sal beskerm wat weerloos is teen agente van vernietiging. Kinders moet gekoester word as wonderwerke van die lewe, sodat hulle volwassenes kan word wat die lewe, en alles wat goed is, kan handhaaf en beskerm.

Ten laastens is dit ook belangrik dat kinders bewus gemaak moet word, op ’n redelike wyse en op die regte tyd, van die moontlikheid dat ook hulle teleurstelling, ellende en lyding sal moet deurmaak. Dit sal ook nie onvanpas wees nie om hulle te leer dat die dood onafwendbaar is; dat dit die lot van alle vorme van lewe is om die einde van ’n fisiese bestaan te bereik.

Dit moet egter altyd beklemtoon word dat, hoewel alle vorme van lewe uiteindelik ’n einde bereik, daar ’n toestand is wat dood voorafgaan. Kinders moet geleer word dat hierdie toestand van LEWE gekoester moet word, hoog op die prys gestel moet word, en ondersteun moet word tot die laaste asemteug.

______________________