Plek en mobiele lidmaatskap

DINSDAG 30 SEPTEMBER 2003

Ek dink toe, ek het 56 maande lank in Nommer 15 gebly, natuurlik gaan ek ’n bietjie verlore voel noudat ek nie meer daar hoort nie. En ek voel nog nie werklik of ek hoort, hier in … Benewelde Lig nie. Toe besef ek, ek het nie veel van ’n keuse nie: Een of ander tyd sal ek noodwendig my eie huis of woonstel moet koop, waar ek dan sal wéét ek behoort.

Die volgende gedagte het feitlik onmiddelik die vorige gedagte opsy geskuif: ’n Mens kan onmoontlik nie soveel premie wil plaas op fisiese adres as jou “plek in die wêreld” nie. Hoekom nie? Dit kan nie as ’n beginsel universeel en oor tydsgrense toegepas word nie!

Ons primitiewe voorouers het nie die konsep geken van private eiendom nie. Hulle het voortdurend getrek van plek tot plek. Elke keer as dit tyd was om te loop, het hulle die vuur laat doodgaan in hulle grot, hulle steenkoolsketse teen die wande miskien een laaste kyk gegee, gesorg dat al die oues en al die kinders op-tou is, en weggestap. En elke individuele lid moes tog ’n bewussyn gehad het van hoe en waar hulle behoort, dan nie? Wat sou aan hulle ’n bewussyn gegee het wat naastenby gelyk is aan die gevoel wat die moderne mens het as hy of sy weet hulle is waar hulle “behoort”?

Die antwoord lê in verhoudings, in gemeenskap met ander.

Elke keer wat ons voorouers hulle karosse styfgetrek en hulle spiese vasgevat het, het hulle in groepe getrek. Daar was mans en vrouens, kinders, broers en susters, en miskien nog ’n paar neefs en niggies. Die verhoudings wat elke individu met die ander gehad het – wat deur daaglikse kontak bevestig is – het aan hulle ’n bewussyn gegee dat hulle behoort aan iets wat groter is as net hulleself. Wat hulle gehad het, was ’n mobiele grondslag van plek en lidmaatskap.

As ek gedurende die huidige periode van my lewe in ’n intieme verhouding betrokke moes wees, sou die verandering van adres aansienlik minder steurend gewees het vir my “sense of belonging”. Hoekom? Omdat die verhouding vir my ’n sterker grondslag sou gee as fisiese adres.

Nietemin, omgewing moet tog ’n bydraende rol speel, of hoe? Selfs al is ek in ’n intieme verhouding betrokke met die liefde van my lewe, sal dit tog nie dieselfde wees om in Moskou te woon as in, sê, Pretoria of Johannesburg nie. Waar sy vandaan kom en waar ék vandaan kom sal natuurlik ook ’n rol speel. As sy ’n gebore en getoë Moskowiet is, sal sy tog sekerlik meer tuis voel in Moskou as ek, en ek sal weer meer tuis voel in … wel, enige van die plekke in Suid-Afrika waar ek al prente teen mure vasgeplak het.

Omgewing en fisiese adres speel wel ’n rol in die graad waartoe jy voel dat jy behoort. Maar ek glo dat verhoudings – noue, betekenisvolle verhoudings – ’n belangriker rol speel, en ’n meer standvastige grondslag verskaf.

* * *

Verhoudings is instellings waaraan jy behoort. Voorbeelde wat hierdie punt sal illustreer sluit in Romeo en Juliet, Sokkerspeler en Spice Girl, die Pous en die Katolieke Kerk, Brand en sy woonstel …

Romeo-en-Juliet is groter as net Romeo, of net Juliet. Om in ’n verhouding te wees, gee aan jou ’n meer konkrete sin van plek en identiteit as wanneer jy alleen is. Dis een van die redes hoekom mense so verlore en weerloos voel as ’n verhouding tot ’n einde kom; as die instelling wat jou deel gemaak het van iets groter as net jy, verbrokkel.

Familie- of gesinsverhoudings gee natuurlik ook aan jou ’n sin van plek en identiteit. Hoekom het ek foto’s van my familie teen my mure? Want dit is sigbare simbole van my lidmaatskap aan iets wat groter is as net die enkele ek. Vriendskappe tel ook onder hierdie klassifikasie. In ’n intieme verhouding met ’n ander volwasse persoon, ervaar jy egter ’n meer tasbare en konkrete bevestiging van lidmaatskap aan iets wat groter is as net die enkele jy.

Dieselfde waarde wat die foto’s teen my mure het, word ook gevind in ringe wat uitgeruil word by die huwelikseremonie, foto’s wat rondgedra word in beursies, en verskeie ander artikels wat dalk niks vir iemand anders sal beteken nie, maar vir die twee mense wat deel is van ’n intieme vennootskap, simbole is van hulle wedersydse erkenning van lidmaatskap.

Opsommenderwys: 1) Verhoudings – en veral vir die volwasse persoon, intieme verhoudings – is instellings waaraan die individu behoort. 2) Hierdie instellings is nie beperk tot ’n fisiese plek nie, en gaan saam waar die persoon hom- of haarself ook al bevind (indien dan nie altyd in fisiese terme nie, wel op wyses wat affekteer hoe die persoon voel en dink). 3) Hierdie instellings is groter as net die enkele individu, en dra ten sterkste by tot die bewussyn wat ’n persoon het van sy of haar plek in die wêreld.

Ten laaste kan ek net spekuleer watse verskil dit sou gemaak het aan my lewe hier in Taiwan as die “huis” hier was. Gestel my ouers, my twee susters, my swaers, ooms en tannies, en neefs en niggies was ook op hierdie stukkie aarde woonagtig, sou ek steeds gevoel het asof ek in ballingskap is? Sou ek steeds so vasberade geklou het aan die konsep van SUID-AFRIKA-AS-HUIS?

Sekerlik sal daar mense wees wat ’n alternatiewe posisie sal inneem op hierdie punt, wat sal praat van kultuur en landskap en klimaat en sulke dinge. Ek mis ook die berge, die see, die vlaktes, supermarkte waar mense Zulu en Sotho en Afrikaans praat, en waar jy biltong en melktert kan koop met dieselfde gemak as wat ’n mens ingelegde suurkool of ryswyn in hierdie deel van die wêreld kan koop. Maar al hierdie dinge is lawwe sout as jy nie die hoofbestanddeel het van betekenisvolle persoonlike verhoudings in jou lewe nie.

______________________

Ek voel ellendig en verlore, en dreig derhalwe weer transformasie

DINSDAG 30 SEPTEMBER 2003

Terwyl ek vanaand uit die Carrefour stap met nog goedkoop VCD’s en twee bokse ontbytpap, ontstaan die gedagte by my dat ek tot ’n baie groot mate ’n ongelukkige persoon is. Soos almal het ek my beter oomblikke, maar om die waarheid te sê voel ek al ellendig sedert ek hoërskool verlaat het (nie dat daai deel van my lewe ’n hedonistiese helrit was nie). Dit behoort nie vir jou as leser teen hierdie tyd te veel van ’n skok te wees nie, en dit was sekerlik geen geheim vir myself nie.

Die rede vir my voortdurende ellendigheid is gelukkig eenvoudig om vas te pen, siende dat ek meeste van my dae en nagte spandeer in diepe kontemplasie opsoek na oorsake vir presies sulke dilemmas – ek vind dit moeilik, selfs onmoontlik, om myself te verbind aan die hoofstroom van lewe waarbinne meeste van my tydgenote hulle bestaan voer (oftewel dan my karikatuur van die sogenaamde “mainstream”).

Waarom hierdie gebrek aan entoesiasme? Lang storie kort, ek glo dat die dood immer wagtend is. En as gevolg van die skadu van my eertydse geloofsoortuigings glo ek verder dat, wanneer jy voor die Hekke van die Hemel en die Hel staan, jy gevra sal word om te verduidelik wat jy met jou lewe aangevang het.

As jy antwoord dat jy ’n goeie vaste betrekking gehad het en regtig ’n aanwins was vir die maatskappy, sal die reaksie, in my opinie, heel waarskynlik wees dat dit nie goed genoeg is nie. As jy voortgaan deur by te voeg dat jy ook in ’n intieme verhouding betrokke was, en dat julle verhouding regtig ’n pragtige voorbeeld was aan ander, sal die antwoord miskien ’n glimlag ontlok, maar nie veel meer nie. Die aanvanklike reaksies sal jou miskien ’n bietjie gespanne laat, so jy verander dalk jou storie so effens. Jy vertel dat jy en jou maat ook reeds ’n afstammelinkie verwek het, en dat ’n tweede enetjie reeds driftig op pad is. “Veels geluk!” sal die Hekwag dalk sê, “maar gaan gerus voort.”

As jy aan die ander kant in die posisie is om te kan sê, “Ek het ’n boek geskryf oor die betekenis van die lewe, en ek het regtig ellendig gevoel meeste van die tyd,” mag jy, so glo ék in elk geval, dalk net ’n halwe kans hê op ’n plek in die paradys.

* * *

Hier sit ek dus met ’n bakkie vars ontbytpap, krappend aan meer notas oor my ellendige bestaan, opsoek na beter antwoorde oor die doel en betekenis van my lewe as dié wat ek reeds geformuleer het.

Ek reken die feit dat ek die woonstel wat ek vir 56 maande lank beset het, verlaat het om presies 4:39 vanmiddag,[1] vul my nie met hoe ek veronderstel ’n LSD-trip behoort te voel nie. Ek voel effens verlore. En die kakkerlakke in my nuwe hoofkwartier is nie bevorderlik vir ’n beter gemoedstoestand nie. Ek het ook ’n donkergroen laken oor my sitkamervensters gedrapeer, maar dit blyk ’n onaangename effek op my te hê – ’n bewuswording van intense afgeslotenheid.

Ten spyte van al hierdie dinge klou ek vas aan die oortuiging dat nuwe tye voor my lê. Ek oorweeg immers tans ’n transformasie van my totale wese – ’n algehele metamorfose. Ekis moeg daarvoor om ellendig te wees. Ek is moeg daarvoor om nie te “weet” nie. Ek is moeg daarvoor om rond te sweef soos ’n verkoolde stuk koerantpapier by ’n Saterdagbraai. Ek is selfs besig om hoogs ontevrede te raak oor my huidige finansiële situasie. Ek is ook moeg vir kakkerlakke, klam vloere, lugbesoedeling, gebreekte wasmasjiene, toilette waar die ring en die deksel verskillende, ewe afstootlike kleure is, en baddens net groot genoeg om my groottoon in te druk.

Ek beplan om hierdie skryfprojek klaar te maak en myself dan te kwalifiseer as … ’n rekenmeester. Ek sal onherkenbaar wees vir vriend, vyand en familielid. Ek sal ’n duur pak klere kantoor toe dra, en ’n duur horlosie sal aan my linkerpols hang. Aan my voete sal ek die beste kwaliteit skoene dra, mét sokkies. En ek sal ’n motorkar bestuur, en ’n nuwe huis bewoon – sonder kakkerlakke, in die regte deel van die dorp.

Beplan ek om “uit te verkoop”? Beslis. Ek beplan om alles in my vermoë te doen om my huidige oortuigings te verloën. Ek sal my bes doen om skaamte te kultiveer vir my jare van armoede en kreatiewe ambisies. Ek sal al my notaboeke verbrand. Ek sal nooit weer ’n pen besit nie, behalwe as dit ’n goue pen is wat aan my geskenk word deur ’n maatskappy as dankbetuiging vir jare se getroue diens. Ek sal elke aand láát werk in die desperate hoop dat ek bevorder sal word. Ek sal trou en twee kinders kry, maar ek sal nie eens aan ’n grassnyer vát nie omdat dit benede my nuwe status sal wees.

Ek sal die plakkaatseun wees van volmaakte geluk. En ek sal vergeet dat daar ooit ’n tyd in my lewe was wat ek nie “geweet” het nie, of wat ek probeer het om te “verstaan”.

Op hierdie punt moet ek myself egter in die rede val. My wasgoed moet opgehang word, en ek moet na die Seven Eleven toe stap om kakkerlak valletjies te koop. En na hierdie nuutste uitbarsting is my notaboek nog nader aan sy einde. Plus, ek kan definitief doen met ’n nuwe pen …

———————-

[1] Hierdie was reeds die Dinsdag na die Vrydag wat meeste van my besittings en meubels na die nuwe woonstel toe gekarwei is. Ek het tot op hierdie Dinsdag nog heen en weer gery met plastieksakke vol ou koerante en kosbare ornamente.

______________________

Om te ignoreer wat vanselfsprekend is

SATERDAG 27 SEPTEMBER 2003

Buite my voormalige wegkruipplek, terwyl ek die laaste paar plastieksakke vol vuil wasgoed aan my fiets hang, hoor ek ’n jong laaitie van oorkant die stegie iets uitroep. Te besig om te reageer, klim ek op die fiets en ry wankelrig weg.

By die verkeerslig dink ek daaraan dat die jong seun my heel waarskynlik beledig het, omdat die klanke wat hy geuiter het baie soortgelyk was (behalwe vir een woord) aan die woorde in die Taiwannese dialek vir “vet, lui vrou”. Vir ’n oomblik was ek spyt dat ek nie iets toepaslik beledigend teruggeblaf het nie. Teen die tyd wat ek by die volgende verkeerslig gekom het, het ek egter my spyt laat vaar met die idee dat ek hom geïgnoreer het, wat ek beskou as ’n groter belediging.

“Hoekom so?” wonder ek toe.

Deur iemand te ignoreer, ontneem jy daai persoon van jou erkenning van sy of haar bestaan. En wie is so seker van hom- of haarself dat hulle nie net ’n bietjie ongemaklik voel as hulle tussen mense is wat nie hulle bestaan erken nie?

Jy kan argumenteer dat die mense tog moet sien dat jy ’n partikulêre spasie in hulle onmiddellike omgewing vul, of dat hulle móét weet jy bestaan, selfs al reageer hulle geensins op jou teenwoordigheid nie.

Hierdie gedagte dat iemand in teorie moet weet jy bestaan, is egter nie goed genoeg nie. Wie raak nie geïrriteerd, by tye kwaad, en soms selfs gewelddadig as sy teenwoordigheid, en daardeur sy bestaan, nie erken word nie?

Ons het almal gereelde bevestiging nodig van ander mense (selfs diere, soos ’n hond of ’n kat) dat ons bestaan. Dit hoef niks meer te wees nie as ’n glimlag, die knik van ’n kop, of ’n “verskoon my” as iemand per ongeluk aan jou stamp, al is dit sonder om oogkontak te maak.

Intieme kontak – en selfs beter, gereelde intieme kontak – is die ideale onderdrukker van die sluimerende angs (of onsekerheid?) oor ons bestaan. Sou dit die onderliggende motivering wees agter die begeerte (of instink) om ’n baba te pamperlang – om aan ’n klein mensie wat onlangs eers ’n afsonderlike fisiese entiteit geword het, die versekering te gee van sy of haar bestaan?

Om ’n Westerling te wees in sommige Oosterse lande gee natuurlik ook aan ’n mens meer sigbare erkenning van jou bestaan as wat die geval sou wees in jou eie land. Een voorbeeld is die ongeskikte laaitie wat jou beledig in ’n taal wat hy dink jy nie verstaan nie, net omdat hy ’n ooggetuie was van jou poging, as hoogs sigbare buitestander, om jou fiets te balanseer met ’n halfdosyn plastieksakke aan die stuurstang. ’n Ander voorbeeld is die dogtertjie wat agter haar ma skuil in die supermark terwyl sy haar vingertjie na jou toe wys asof jy ’n veraf-neef is van die olifantman. Ook mense wat, lank na jy verby hulle gestap het, nog “Hallo!” in jou rigting skree asof jy beroemd is. Al hierdie insidente bevestig jou teenwoordigheid en jou bestaan op daai spesifieke oomblik en op daai spesifieke plek, en op wyses wat nie noodwendig die goeie (of slegte) geluk is van die gewone Taiwannees (in my geval) met wie jy die straat of die supermarkgang deel nie.

Sou dit miskien ook die begeerte van sommige mense verduidelik om beroemd of selfs berug te wees – die begeerte dat soveel mense as moontlik hul koppe moet knik in erkenning dat hulle weet van jou bestaan?

Nog ’n vraag: Hoekom groet vreemdelinge mekaar?

Een van die redes is wedersydse erkenning van hulle bestaan.

Hoekom dus, sal iemand jou nié groet nie?

Een van die moontlike redes is dat die persoon jóú erkenning van sy/haar bestaan, op daai spesifieke oomblik, nie nodig het nie (of in sommige gevalle dalk nie as wenslik ag nie).

Redes hoekom iemand nie jou erkenning nodig het nie? Ander mense in die onmiddellike omgewing wat reeds hulle bestaan erken, soos vriende, of ’n kind wat aan die hand vasgehou word?

Dat hulle jou nie groet nie, hoef dus nie noodwendig as beledigend gesien te word nie; dis net dat hulle reeds het wat jy hulle sou gee, naamlik sigbare erkenning van hulle bestaan.

———————

[U as leser moet kan waardeer dat ek baie gelukkig is met my beroep as Amateur Denker en Sekretaris van Insigte. Watter straatveër of ingenieur of administratiewe klerk sou nie eerder sy dae wou slyt nie deur vrae te kontempleer soos hoekom groet vreemdelinge mekaar op straat, en hoekom dit soms beter is om iemand te ignoreer?]

______________________

Die einde van ’n adres/Transformasie

VRYDAG 26 SEPTEMBER 2003

Ek sit in ’n kaalgestroopte woonstel en wag vir die verhuisingstrok om my en my gemors te verskuif na ’n nuwe habitat toe. Sommige gedagtes moet egter dringend genoteer word.

Eerstens, soos ek reeds talle kere genoem het, is my sin van waar ek behoort hoogs onstabiel op die beste van tye. Dit het die vraag laat ontstaan of ek ooit werklik êrens tuis sal voel. Ek bedoel, sommige mense pas nooit in op enige plek nie, reg? Is dit nie die betekenis van die etikette “swerwer” en “eensame” nie?

Teenstrydig met die eerste punt het ek ook onlangs ’n méér ontwikkelde sin van waar ek hoort, ervaar. Ek is ook skepties daaroor om té goed in te pas. Is dit omdat ’n mens moet konformeer aan stelle reëls (wat meestal nooit uitgespel word nie) om te kan inpas? Sulke reëls sluit in wat en hoe jy moet aantrek, hoe jy moet optree teenoor verskillende mense, hoe jy jouself moet gedra, wat jy moet sê en wat nie, wat jy moet glo, watter ideale aanvaarbaar is en watter nie, en watse ambisies mens behoort te hê. Maar wat help dit om eerlik te wees – om nie te konformeer ten koste van wie jy glo jy werklik is nie – as jy alleen opeindig? Wat is die waarde daarvan om getrou te bly aan jouself, as dit beteken dat jy altyd alleen loop?

Die ander ding wat ek graag wil noem – wat verwant is aan die eerste saak, is dat ek miskien myself moet transformeer in ’n kreatuur wat makliker inpas. Dit kan tog nie só moeilik wees nie – ek het immers vriende! (Familie tel nie regtig in hierdie geval nie – hulle het ’n morele verpligting om jou te aanvaar in hulle midde … dis nou te sê as jou klerestyl, jou gedrag, wat jy sê, waarin jy glo, en jou ideale, nie jou familie so teen die bors stuit dat hulle die punt bereik waar hulle voel dit sal beter wees vir almal as jy nie daarop aandring dat hulle jou behoefte moet bevredig om deel te wees van hulle intieme sirkel nie. My klerestyl, my gedrag, en selfs my ambisies is gelukkig nie van so ’n aard dat dit my ouers of my twee susters se waardigheid te lelik krenk nie. Dit strek natuurlik ook tot my voordeel om so te glo.)

So, terwyl die behuisingslorrie al nader kom, wat is die kanse dat ek myself tot so ’n mate kan transformeer dat ek makliker ’n toetrede kan maak tot groepe en gemeenskappe?

* * *

Teen vyf voor drie was alles verby. Ek wou die vorige deel geëindig het met die woorde, “So, terwyl die skurke in hulle blou lorrie al nader kom …” maar ek het gedink ek sal hulle die voordeel van die twyfel gee. Skurke was hulle toe wel, maar vriendelik genoeg na hulle twee keer meer geld van my afgepers het as wat ek gehoop het die hele operasie my sal kos. Ek wou geargumenteer het, maar hulle het dreigend saamgegroepeer, met die een wat sy T-hemp so effens opgetrek het om sy onderwêreld tatoeëermerk te vertoon. Op daai oomblik onthou ek toe nog een van die Belangrike Beginsels van Oorlewing: Beteuel jouself voor jy betrokke raak in fisiese konflik met meer as een skurk op ’n slag as jy alleen is. Hierdie beginsel is natuurlik nog meer van toepassing as die skurke die tipe is wat groot rusbanke en wasmasjiene op hulle rûe by drie stelle trappe opdra, en soveel te meer as jyself, sal ons maar net sê, die skolastiese tipe is. (Is dit nodig om by te voeg dat dit nie ’n goeie idee is om los papiere met notas op uit die rusbank te wil trek terwyl die reeds genoemde skurk besig is om die rusbank by ’n stel trappe op te dra nie?)

Alles in ag genome het die proses sonder veel insident verloop. Ek sit nou buite my gunsteling koffieplek, rustig suigende aan ’n koppie romerige Weense koffie, terwyl ek die swael-besoedelde lug van hierdie deel van die dorp inadem.

In die ure wat verby gegaan het tussen die trekkery en die koffie, moes ek ook ’n klas gee by die skool waar ek al amper vyf jaar lank werk. Hier was ek in die gelukkige posisie om ’n paar keer so uit die hoek van my een oog ’n Taiwannese kollega – wat in die kantoor werk – raak te sien. Nodeloos om te sê besiel haar sensuele skoonheid my om soveel as moontlik fotokopieë te maak, en selfs om gesprekkies met haar aan te knoop in my eiesoortige Chinese dialek.

Ek het gehoor sy lig een van die studente in dat sy nog nie ’n knoop gehaak het met ’n manlike lid van ons spesie nie. Dit forseer my toe om my eie reputasie te kontempleer as ’n swerwende wolf van die pad tussen my huis en … wel, die Seven Eleven. ’n Vinnige hoofberekening van die redes vir hierdie jammerlike stand van sake herinner my toe daaraan dat ek ’n probleem het met my plek in die wêreld.

Dit bring ons terug by my pre-konfrontasie met die getatoeëerde vervoerman vraag: Is dit moontlik dat ek myself kan transformeer in ’n individu wat die vermoë sal hê om makliker in te pas?

______________________

Eindkontemplasie, deel twee

DONDERDAG 25 SEPTEMBER 2003

Is die issue van “ballingskap” steeds relevant?

Die einde van hierdie literêre projek kom nie net omdat ek genoeg bladsye vol getik en geskryf het vir die totaal om ’n “boek” genoem te kan word nie. Ek glo – miskien omdat ek regtig wíl glo – dat ek nou ’n beter begrip het van hoe dinge werk as wat die geval was tien jaar gelede. Ek het ’n paar beginsels geïdentifiseer wat ek glo geldig is vir alle mense, en oor alle tye heen. Nie een van hierdie insigte of beginsels is oorspronklik nie; dit was nietemin belangrik dat ek dit self, op my eie tyd, moes uitsorteer, en in my eie woorde moes weergee. Ek het ook nou ’n meer gevorderde waardering van my eie naam (by wyse van spreke), en ek het ’n vae idee ontwikkel van hoe ek inpas in die massa lewe buite my woonsteldeur.

Is die issue van ballingskap, so sentraal in die “verhaal” van hierdie projek, egter steeds relevant? Is dit steeds belangrik dat ek moet “huis” toe gaan?

Hierdie projek het ’n ewolusie ondergaan. Ek het nie oorspronklik die skryfproses onderneem met die idee van ’n boek as ’n eindresultaat nie. Al wat ek geweet het, was dat ek onseker was oor sekere dinge in my lewe, en dat dit gehelp het om dinge neer te skryf. Om te skryf is ook ’n goeie manier om lang dae en nagte produktief te spandeer as jy die wêreld buite jou voordeur meestal vermy. Skryfwerk was, en is ook steeds my hoofbron van vermaak, benewens die feit dat dit my vat van punt A na punt B in sielskwessies.

So ook het ek nie hierdie tweede rondte van ballingskap [na die eerste een in Korea] op myself geforseer met die doel om antwoorde te kry op vrae nie. Hierdie projek het begin as ’n gekrap in notaboeke en op weggooipapier, en as briewe aan vriende en familie. My reis na Taiwan het begin as die beste roete uit kantoorwerk en ’n bediendekamer. Maar wat kan jy doen as sekere vrae hulleself aan jou opdring, of nog erger, as ’n boek aan die binnekant van jou skedel klop, en “ballingskap” blyk die enigste manier te wees om aandag te gee daaraan?

Is ek dan, vir die derde keer, steeds in ballingskap? Het ek steeds nodig om huis toe te gaan?

______________________