Skroeiende sosatie

SATERDAG 30 AUGUSTUS 2003

Almal maak foute, al probeer ons hoe hard om mekaar tegemoet te kom. Ontsteltenis was egter te verwagte toe die vrou vanaand by die deep fried stalletjie nie haarself kon indink wat ek bedoel toe ek vir haar in Chinees vra hoeveel kos die tofu-sosatie nie.

My Chinees is ver van vlot af, maar ek kry dit redelik goed reg om elke dag in uiteenlopende situasies te sê wat ek moet sê. Ek kan oor dit en dat gesels met kollegas by die werk; ek kan nuwe skedules bespreek met ’n skoolhoof, en ek kan maklik ’n halwe periode lank met sesjariges gesels en grappe maak (in Chinees, as ek eintlik betaal word om Engels te praat). “Hoeveel kos dit?” is ’n frase wat uitlanders gewoonlik onder die knie het na die eerste week in Taiwan. Om dan na ’n paar jaar nie verstaan te word nie wanneer jy ’n frase gebruik wat ten minste jyself gedink het jy bemeester het, is ontstellend vir die ernstige taalstudent.

My uitspraak van “Hoeveel kos hierdie ding?” was, soos meeste van my Chinees, heel waarskynlik nie 100% akkuraat nie. Maar watse ander inligting kan mens denkbaar by haar soek as jy die stokkie met blokkies ingerygde tofu optel, jou mond oopmaak en vraend in haar rigting sê, “blaf-blaf”? Om ’n bedrag te uiter, moes, in my opinie, ’n instinktiewe reaksie gewees het op enige klanke wat uit my mond gekom het! Maar in plaas daarvan om ’n prys te noem, verklaar sy dat sy my nie verstaan nie.

Rekende toe dat sy miskien nie enige klanke uit die mond van hulle gereelde en gewoonlik stom buitelandse kliënt verwag het nie, en dat sy moontlik terselfdertyd verskrik was omdat sy vir ’n oomblik gemeen het sy moes Engels praat, herhaal ek dit toe weer. Stadiger. Weereens glimlag sy asof ek simpel is, en vra vir die ouer dame wat langs haar die kos in die olie gooi, “Antie, die uitlander het nog nooit gepraat nie, nou praat hy. Wat sê hy?”

Ek probeer toe weer. En weereens kan sy nie uitpluis dat ek nie vir haar vra na die geskiedenis van olierige kos in Noordoos-Asië nie, maar net na die prys van die vervlakste tofu-sosatie. Toe sy my dus vir die derde keer aankyk met ’n goed bedoelde maar onbehulpsame glimlag, kook my eie olie genoeg om die sosatie daar en dan in die straat te verskroei.

Ek meen toe dat dit mag help om ’n muntstuk uit my broeksak te ruk, maar slaag toe net daarin om my sleutels in die bak hoenderpote te gooi.

Briesend en terselfdertyd verleë hou ek toe ’n oomblik later wel ’n muntstuk triomfantlik in die lug. “Qian, qian! Duo shao qian?!” pleit ek toe weer in frustrasie.

Die ouer tannie draai toe vir ’n oomblik weg van ’n ander ou se spek-en-weensie-worsie-sosatie wat besig was om te braai in die kokende olie, en vertaal my poging as “Duo shao qian?” in haar moedertaal-dialek, oftewel “Hoeveel geld?”.

“Dertig,” dui die jonger vrou toe aan met drie vingers in die lug.

Rooi in die gesig krap ek toe my sleutels tussen die hoenderpote uit, en begin my groen plastiekbakkie vol tofu-sosaties te pak. En omdat ek toe in ’n slegte bui was en dit nodig gehad het, ook ’n paar happe seekat.

“Haven’t you heard a foreigner speak Chinese before?” kap ek toe in my beste Engels oor die bondels boontjies en blomkool.

Maar ’n gloed het reeds oor die vrou se wange begin dans, en ek los toe maar my drama. Miskien, reken ek toe, was sy net ingedagte, en toe ek skielik begin praat, het sy haar bes probeer om te verstaan wat sy moontlik gedink het was Engels.

Die laaste glimlag was egter hare. Ek verkies my diep-gebraaide blomkool en tofu met net so ’n snarsie rooi peper, en ek het anderpad gekyk toe sy die speserye vasvat.

______________________

BALLINGSKAP 14

[Die redigering van BOEK EEN is afgehandel in Mei 2003, en hierdie stuk het daarna gefunksioneer as ’n dagboek en ’n platform vir idees vanaf Sondag 11 Mei, tot en met Dinsdag 19 Augustus 2003.

Die teks is soms gefragmenteerd, op tye amper akademies, en op ander tye onapologeties self-gesentreerd. Neem dit maar as kenmerkend van hierdie tipe materiaal.

Ek het die stuk opgedeel in drie dele: Die eerste deel strek vanaf 11 Mei tot voordat ek op vakansie gegaan het; die tweede deel is geskryf gedurende my vakansie; en die derde deel strek vanaf my terugkeer na Taiwan in die derde week van Julie, tot en met 19 Augustus 2003.]

———————

DEEL EEN

Brand Smit en ’n besoldigde posisie
Toekomsvisie, moontlikheid een
Soldaat in ’n groter oorlog
In die naam van die vader
Die nuwe etiket (dele een tot vier)
Waar is my plek in die Groot Hiërargie?
Bleekbaard op die Trans-Mongolië
Toekomsvisie, moontlikheid twee
Bleekbaard doen sy wiskunde
Soldaat vir die siel (as sy wapen net wil vuur…)
Realiteit, en ’n paar ander feite
Die vraag bly steeds …

DEEL TWEE

Die digter leer om slim te wees
Wat ek sien
Rede vir onsekerheid – nuwe mantra
Laaste uitbarsting (voor die einde van my vakansie)

DEEL DRIE

Weer tyd vir wiskunde | Oor aartappels en vrugte
Donker Dinsdag | Ligter Donderdag
Aanvaar verantwoordelikheid vir jouself in 2018
Foute, insigte, vrae, nuwe woordeskat en advies
Voltyds kreatief
Sê nou maar net …
Toekomsvisie, moontlikheid drie

______________________

Toekomsvisie, moontlikheid drie

DINSDAG 19 AUGUSTUS 2003

Brand Smit en sy vrou, Elsa Kleynhans, woon saam met hul twee jong kinders in Blousteensingel nommer 11. Martie, hulle oudste, is vyf en ’n half, en Ben is drie. Brand spandeer meeste van wat as die konvensionele werksdag beskou word aan sy literêre projekte. Hy werk tans aan ’n “first draft” oor die verband tussen Stryd en Kreatiwiteit, spesifiek in die konteks van die voorstedelike middelklas. Tussen sy werkskamer, die sitkamer en die kombuis is die waarskynlikheid groot dat jy ’n kopie sal kan raakvat van ten minste een van sy twee digbundels, asook die versameling opstelle en ander stukke hoofsaaklik oor sy tyd in Taiwan en Korea.

Brand se daaglikse roetine volg ’n bekende patroon. Hy staan gewoonlik op voor Elsa en die kinders, maak vir hulle ontbyt, vat die kinders kleuterskool toe, en laai dan vir Elsa by die laerskool af (waar sy ’n onderwyseres is). Dan sal hy miskien ’n draai maak by die biblioteek, en so van net na middagete se kant af is hy agter sy rekenaar.

Behalwe vir die skamele inkomste wat hy uit sy skryfwerk verdien, publiseer hy ook Engelse handboeke saam met ’n besigheidsvennoot in Taiwan. Dié onderneming verseker dat hy ten minste een keer per jaar Ooste toe gaan vir boekskoue en om besigheid te praat met plaaslike skole.

Verlede Desember was die gesin Kaap toe om by Elsa se familie te kuier, en Brand het gesweer nie weer nie. Elsa se broer is ’n plaaslike besigheidsman en gesiene lid van die gemeenskap. Hulle het, soos voorheen, nie langs dieselfde vuur gesit as die gesprek – soos amper altyd gebeur – gaan draai het by politiek en godsdiens nie. Brand het aanvanklik gesê hy dink hulle moet by die huis bly hierdie Desember, maar hy en Elsa het weer daaroor gepraat. Hulle beplan nou om dalk vir ’n week of so Mosambiek toe te gaan saam met Brand se jonger suster en haar man. Kersfees sal weer by Elsa se ouers in Bloemfontein wees, en Nuwe Jaar by sý ouers in Middelburg.

Brand praat gereeld oor die tyd wat hy in die Ooste gespandeer het. Elsa luister geduldig, al kan sy self al die stories teen hierdie tyd in presies dieselfde woorde vertel. Soms kom iemand kuier waarmee hy bevriend was in Taiwan. Hulle gesels dan tot laat in die nag oor tifone, besoedeling, epidemies, Engelse klasse en Chinees. Brand het na sy terugkeer uit Taiwan ingeskryf vir ’n korrespondensie kursus in Chinees by UNISA; hy vind dit ironies dat hy nou beter Chinees praat as toe hy in Taiwan gewoon het.

Toe Brand verlede jaar veertig geword het, het hy vir homself ’n grassnyer gekoop. Elsa het gelag toe hy die dag die voorstel maak, maar hy’t gereken die tyd het aangebreek om te kyk of hy nog een kan gebruik (tuindienste het tot op daai stadium die nodige instandhouding gedoen).

Brand is toegewyd aan sy vrou en hulle kinders. Hy hoop Martie gaan ’n argitek of ’n veearts word. Hoewel dit nog bietjie vroeg is om te sê, reken hy klein Ben mag dalk ook ontwikkel in ’n skrywer. Hy vertel dit vir almal wat wil hoor, en lyk elke keer verleë as Elsa vir hom sê, “laat die kind toe om sy eie mens te word”. Sy gewone reaksie – hy kan dit in die seun se oë sien. ’n Skrywer, of – wie weet? – dalk ’n dominee.

* * *

Stella Adler het gesê: “Life beats down and crushes the soul. Art reminds you that you have one.”

Brand Smit reken: “Die toekoms wag vir dié wat geduldig genoeg is om eers die betekenis van die lewe uit te werk.”

______________________

 

Sê nou maar net …

DINSDAG 19 AUGUSTUS 2003

Kom ons speel ’n speletjie. Kom ons verbeel onsself ek is verkeerd, in terme van 90% van die dinge wat ek kwytgeraak het die afgelope paar jare. Wat sou dit beteken? Dit sou beteken dat kreatiwiteit ’n luuksheid is wat net deur die rykes geniet kan word, of dan slegs as ’n stokperdjie deur die res van ons. Dit sou beteken dat ’n mens dankbaar moet wees as jy enige job kry, en dat jy derhalwe dankbaar moet wees vir die voorreg om iemand as BAAS te kan aanspreek. Dat as jou dienste nie meer benodig word deur ’n maatskappy nie, dit maar net jou bad luck is, en heel moontlik jou eie skuld omdat jy afdankbaar was in die eerste plek. Dat jy teen die tyd wat jy skool verlaat – as jy so bevoorreg was om twaalf jaar op skool te kon spandeer – jy sonder groot drama reeds moes uitgewerk het waar jy inpas in die Groot Hiërargie, en gereed moet wees om jou plek met trots te kan volstaan. Dat jy moet vat wat na jou kant toe kom, en dit maar net moet aanvaar met ’n waardige “dis maar soos die lewe is”. Dat jy moet trou en begin paar so gou as wat jy ’n job gekry het, omdat dit is wat die natuur bepaal, en wat die samelewing van jou vereis. Dat jy hel toe gaan as jy nie die Tien Gebooie gehoorsaam en glo wat die dominee jou vertel nie, en as jy so astrant wil wees om saam te gesels met linksgesindes. Dit sal verder beteken dat die banke, die groot maatskappye, en die regering reg is omdat hulle sterker is as jy. Dat jy die bankbestuurder, die baas en die politikus met groot agting en respek moet behandel omdat hulle hoër as jy is op die Hiërargie. As hierdie dinge waar is, en ek verkeerd, is ek bevrees ek is diep in die moeilikheid.

Anyways, waar was ek laas …

______________________

 

Voltyds kreatief

MAANDAG 4 AUGUSTUS 2003

Waarom was die Beatles “larger than life”? Omdat hulle gedoen het waarvan hulle gehou het, en waarin hulle geglo het. En omdat hulle meeste van hulle produktiewe tyd daaraan gespandeer het, het hulle vermoëns toenemend verskerp.

Die feit dat hulle skeppings – hulle spesifieke tipe musiek – in aanvraag was op daai tydstip, het natuurlik ook gehelp. Maar die feit bly staan dat hulle hulself besig gehou het, op ’n voltydse basis, met dit waaroor hulle die sterkste gevoel het, dit waaraan hulle werklik geglo het. As gevolg hiervan, het hulle ’n vlak van kreatiewe vaardigheid bereik wat enige talentvolle, kreatiewe persoon kan bereik indien hy of sy hulself besig hou met dit waarvan hulle die meeste hou, vir die groter gedeelte van wat beskou word as ’n normale werksdag.

Goeie bemarking en die talente van ander mense het ook ’n belangrike rol gespeel in hulle kommersiële sukses. Maar as die individuele lede van die groep agt ure per dag moes werk by een of ander fabriek in Liverpool, en dan in die aande aan hulle musiek gewerk het – na ete en ’n bietjie TV, sou selfs die beste towenaars van bemarking nie hulle noodwendig meer middelmatige werk kon verkoop aan die massas nie.

Die Beatles was dus so groot soos wat hulle geword het, omdat hulle geslaag het in ’n ideale kombinasie – kreatiewe uitnemendheid en kommersiële sukses.

——————–

[Dit is belangrik om te benadruk dat die hele Beatles storie gewerk het omdat dít waaraan hulle met groot oorgawe die meeste van hulle tyd gespandeer het, kommersiële waarde gehad het.

Ongelukkig werk dit nie vir almal om die grootste deel van ’n “werksdag” te spandeer aan dit wat ons met die grootste passie en oortuiging wil doen nie, omdat ons steeds geld nodig het, en as dit waaraan ons meeste van ons tyd spandeer – al is dit dan meesterstukke – nie soms verhandel kan word vir kontant nie, moet ons steeds iets anders doen ter wille daarvan om fisies te kan oorleef.]

______________________