Rede vir onsekerheid, en ’n nuwe mantra

DONDERDAG 10 JULIE 2003

Ek identifiseer ’n swakheid in my toekomsplanne. Finansieel kan dit werk, maar daar is steeds ’n onsekerheid wat deurskemer in my idee om miskien huis op te sit in Bronkhorstspruit, en dan eers weer vir ’n paar maande terug te keer na Taiwan.

Op my gebruiklik wetenskaplike manier werk ek toe uit dat dit te make het met identiteit. Ek weet wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê. Solank ek in Taiwan bly, is hierdie dinge moontlik. Die oomblik as ek huis opsit in Bronkhorstspruit, so reken ek, gaan ek effens onseker wees of wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê, nog steeds so geanker gaan wees in Eksterne Realiteit.

Ek vat toe ’n middagslapie, en die boodskap kom deur: Wees wie jy is – ’n skrywer.

Die onsekerheid verdwyn toe feitlik onmiddellik, soos ’n speelgrond boelie wat die pad sal vat as sy teiken se ouer, groter broer op die toneel verskyn.

Die rede vir die onsekerhede is omdat ek ’n bloedstollende angs daarvoor het om ’n doellose, betekenislose bestaan te voer. Om net in Bronkhorstspruit te woon en “genoeg” geld te maak, is nie goed genoeg vir my nie. In Taiwan is ek ’n onderwyser, ’n skrywer, en ’n student. As ek dit duidelik stel aan myself dat ek steeds ’n skrywer sal wees in Bronkhorstspruit, dan sê ek dat ek ook dáár sal weet wie ek is, hóé ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê. En ook dáár sal dit gegrond wees in Eksterne Realiteit.

* * *

Ek kyk deur my ou foto’s (1990, 1991, 1997), en ek lees deur ou joernale (1996, 1997) en ek begin wonder: Het ek darem iets met my lewe gedoen die afgelope sewe jaar, en miskien meer spesifiek die afgelope vier en ’n halwe jaar?

Die antwoord is, “Ja.” (Ek het ’n paar dae gelede ’n soortgelyke vraag gevra, so ek het gelukkig reeds die antwoord geken.) Ek het die afgelope sewe jaar geleer wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê (dankie vir Steven Burgess en sy boek SA Tribes: Who we are, how we live and what we want from life in the new South Africa vir hierdie reël wat ek deesdae soos ’n mantra opsê). Ek het ook spesifiek die afgelope vyf jaar daaraan gewerk om ’n skrywer te wees, en nie net te wil word nie.

______________________

Wat ek sien

VRYDAG 4 JULIE 2003

Ek glo altyd almal het drome wat verby die lewens strek wat hulle tans leef. En ek reken dat een of twee honderdduisend rand ’n ver ent sal gaan om hierdie drome te verwesenlik. Ek glo verder dat een of twee jaar in ’n plek soos Taiwan die ideale manier is om daai tipe kapitaal bymekaar te skraap.

Wat ek geneig is om te vergeet, is dat die lewe van ’n expat in vele gevalle wortelloos is, en dat vele mense ’n ander tipe lewe verkies. Hierdie mense het huise – ruimtes wat hulle ingerig het oor die jare presies soos hulle dit wil hê. Hulle het vriende, en miskien familie wat óf in dieselfde stad woon, óf in ’n naburige dorp. Hulle het troeteldiere. Hulle het pensioenfondse wat hulle al vir jare aan die opbou is. En hulle droom van kinders kry – as hulle nie reeds begin het met ’n gesin nie, en om hierdie kinders groot te maak in ’n omgewing wat aan húlle, die ouers, bekend is. Dis ’n lewe waaroor hierdie mense baie keer kla, maar dit is ook ’n lewe waarbinne hulle veilig voel. Dit is verder ’n lewe wat hulle reken hulle kan volhou, en wat hulle hoop hulle kan voortgaan om te leef tot hulle 60 of 65 tref, en daai pensioen uitbetaal.

Die feit is dit, nie almal weet wat hulle sal doen met ’n honderd of twee honderdduisend rand tussen wanneer hulle terugkeer van ’n plek soos Taiwan, en wanneer hulle aftree-ouderdom bereik nie. Mense is geneig om te kies wat aan hulle bekend is – al beteken dit dat jy jou tydkaart moet pons, dieselfde tyd elke oggend, vir veertig jaar lank.

______________________