Soldaat in ’n groter oorlog

SATERDAG 7 JUNIE 2003

Miskien moet ek uit hierdie spel tree terwyl ek nog jonk genoeg is en nog ’n paar dinge het wat in my guns tel. Miskien moet ek erken dat ek my verwagtinge ver oortref het.

Ek sal teen die einde van hierdie jaar al sewe jaar lank in die Verre Ooste gewoon het. Ek kan ’n bietjie Chinees praat en lees, en teen die einde van hierdie jaar sal ek dit nog beter kan doen. Ek het lewenservaring opgedoen, plekke gesien en dinge gedoen waarvan ek nooit gedroom het nie. Ek het ’n versameling gedigte uit my siel gewring, en ’n biografiese tipe boek oor my (eerste) vier jaar in Taiwan. En ek het my verhouding met my krediteure verbeter tot so ’n mate dat hulle, ironies genoeg, aan my dink as ’n verantwoordelike volwassene.

Miskien is ek nou op my kruin. Miskien gaan niks van hierdie punt af ooit weer so goed wees soos nou nie. Miskien gaan ek drie of vyf of vyftien jaar van nou af terugkyk en sê, “Damn, dis waar ek weer ’n bord gesien het vir ’n afdraai wat my terug kon vat na die plek wat ek voorheen doelbewus verby gery het.” Miskien moet ek huis toe gaan, en soos ’n tweede span ou op pad terug na die kleedkamers die werklike helde op die skouers klap en sê, “Daarsy, manne! Sterkte!”

Is ek soos die pretender to the world heavy weight title wat, in alle eerlikheid, nooit so ver moes gekom het nie? En wat nou op die vooraand van sy titelgeveg besef hy’t almal om die bos gelei? En hý weet wat miskien een of twee mense in die skare vermoed: dat hy gaan val, lelik, op sy gesig, in die eerste rondte.

Of miskien is ek die Ware Jakob. Miskien is daar regtig iets wat ek wil sê …

Dan weer, wat is dit wat ek wil sê? Is dit nie waar dat al die stellings wat ek maak en al die argumente wat ek probeer verwoord, reeds gemaak en verwoord is nie? Is dit nie waar dat daar ander mense is wat presies dieselfde dinge sê nie? Is dit nie waar dat wat ek wil sê nie heeltemal so nuut en diepsinnig is soos wat ek soms reken dit is nie? Is dit nie waar dat ek nie exactly die Bewaarder van een of ander Geheim is nie? En is dit nie aan die einde waar wat daai ander ou in die Chuck Norris movie sê nie – dat die wêreld nie gered wil word nie? Is dit nie waar dat die wêreld maar net ’n bietjie vermaak wil word, en so nou en dan vertroos wil word, maar die res van die tyd uitgelos wil word nie?

Of is ek ’n soldaat, soos Chuck Norris in die genoemde movie, wat reageer op die ou wat glo die wêreld wil nie gered word nie, met ’n uitdagende, “Not my world”? Is dit ’n stryd, en moet ek wakker skrik en besef ek is reg, en dat ek al vir ’n paar jaar op die regte pad is? Dat dit nie een of ander simpel spel is waar die middelklas die Monopoly Meesters is nie? Dat ek inderdaad ’n soldaat is in ’n stryd waar die hele middelklaswêreld maar net die nuutste slagveld is?

Dit herinner my egter aan die Matrix, waar die hoofkarakters deur die telefoonlyne vlieg en dan in ’n gesimuleerde werklikheid vuiste klap met die bad guys. As jy sterf in die Matrix – in die gesimuleerde wêreld – dan’s dit die einde vir jou. Jou fisiese liggaam blaas dan sy werklike laaste asem uit in die werklike realiteit. So is dit ook met Die Wêreld van Geld, en Goeie Jobs, en Huiskoop, en Trou-en-Kinders-Kry, en Verantwoordelik Wees. Dit gaan nie uiteindelik oor hierdie dinge nie. Hierdie dinge is aan die einde net deel van ’n Groter Realiteit. Maar as jy misluk in jou skermutselings in hierdie wêreld, dan’s dit ook verby vir jou in die Groter Oorlog.

Is ek ’n Deelnemer aan ’n Groter Stryd?

______________________