Vir wie skryf ek?

SONDAG 18 AUGUSTUS 2002

Ek dink baie keer daaraan dat wat ek te sê het oor die “lewe” nie op alle mense van toepassing is nie. ’n Voorbeeld: die hele wat-wil-ek-doen-met-my-lewe kwessie is moontlik nie so relevant vir die seun van ’n kleinboer in China as wat dit is vir een of twee van my tyd- en kultuurgenote wat met soortgelyke onsekerhede sit nie.

Vir wie skryf ek aan die einde? Vir myself, natuurlik, en vir die werkende mense van die geïndustrialiseerde wêreld.

~ Uit die Pers Notaboek

[Hoeveel waarde het my kritiek oor die middelklas, en my griewe oor arbeidsverhoudinge en “konvensies van die establishment” vir die pa van drie kinders wat ses maande gelede sy werk verloor het?

Wat ek sê oor die middelklas, en oor die heersende sosio-ekonomiese orde van die geïndustrialiseerde wêreld, gaan nie die pa van drie kinders help om vir die jongste ’n (nuwe) skooltas te koop, of ’n (nuwe) paar skoene vir die seun wat hoërskool toe gaan nie.

Maar beteken dit dat wat ek sê noodwendig nutteloos en ligsinnig is? Sal die pa van drie geïrriteerd vir my vra: “Jy weet wat, dis alles baie interessant, maar waar stel jy voor moet ons intrek as hulle ons aan die einde van die maand uit die karavaanpark skop?”

Sal ek dan my netjies uitgedrukte papiere weer in my aktetas pak en antwoord, “Ekskuus meneer, ek wou nie jou tyd mors met ligsinnighede nie”?

Is hierdie alles net ék wat vies is vir ’n sekere sosio-ekonomiese orde?

Moet ek eerder skryf oor die hitte, of oor die nuwe BMW wat pas sy verskyning gemaak het op die strate van Taiwan, of oor watter politikus vir wié, wát gesê het? Dalk later. Dalk raak ek later moeg vir kritiseer, vir vingerwys, en vir voorstelle oor hoe ’n sosio-ekonomiese orde sou lyk as ék die baas van hierdie wêreld was.

En miskien lees niemand anders as ek en die persoon wat ek gaan omkoop om hierdie teks te proeflees ooit wat ek geskryf het oor hierdie dinge nie. In daai geval kan ek seker net sê ek moes dit uit my sisteem kry.

Ek is ook bewus daarvan dat baie mense droom van presies dit wat ek so graag kritiseer – ’n lewe in die middelklas, met ’n mooi drie slaapkamer huis in ’n stillerige voorstad, ’n vaste betrekking, en ’n inkomste wat sal voorsien aan die behoeftes van al die lede van die gesin. Ek weet ook dat vele mense alte gretig is om die “konvensies van die establishment” te eerbiedig om so ’n lewe te bewerkstellig en te handhaaf.

Ignoreer ek die feit dat ’n middelklaslewe vir baie net ’n droom sal bly? Is ek onbewus daarvan dat daar op hierdie oomblik arm mense is wat in kartonbokse slaap langs ’n snelweg, met kinders wat nooit skool toe sal gaan nie? En wat sê ek van die voormalige middelklas gesin wat gister by familie in ’n minder gegoede woonbuurt moes intrek, met al die gepaardgaande finansiële en emosionele probleme wat dit tot gevolg sal hê?

Ek is nie nóú blind nie. En ek was verseker nie blind toe ek die eerste keer hierdie dinge gesien het nie. Ek skryf met oop oë.]

______________________