31 Desember 2001

Dis Maandag 31 Desember 2001 om 23:40. Ek gaan nou poog om in die oorblywende twintig minute ’n opsomming te maak van wat ek hierdie jaar gedoen het, ’n kort opinie daaroor te verwoord, en ook om ’n paar dinge te vermeld wat voorlopig vir my belangrik is vir die jaar wat oor twintig minute gaan begin. (Dit is natuurlik gepas dat ek hierdie jaar uitgaan op dieselfde wyse wat ek soveel duisende ure deurgebring het gedurende die afgelope twaalf maande – agter my Toshiba Satellite 2180 CDT.)

Ek het hierdie jaar voortgebou op wat ek verlede jaar begin het – deur nie meer te praat oor wat ek nog gáán doen nie, maar om te praat oor wat ek besig is om te doen. Of nog beter, om nie eintlik te praat daaroor nie, maar eerder te wys wat ek reeds gedoen het. Ek het hierdie jaar minder geld verdien as wat ek gedink het die geval gaan wees. Aan die ander kant het ek baie meer geskryf, en meer projekte aangepak en klaargemaak as wat ek gedink het ek sou.

Ek het hard gewerk hierdie jaar – aan my eie projekte. Ek het tot vyfuur, sesuur in die oggende in my “kantoor”, of in die sitkamer, of op die stoep gesit en gestaan, en geboorte gegee aan nog meer idees. Soms sou ek ontbyt gaan koop het by McDonald’s, en teen die tyd wat die meeste mense al op kantoor was, het ek eers gaan slaap. Ek het ure, dae, en weke gewerk aan dinge wat uiteindelik in bruin koeverte sou opeindig, uitgesluit uit die projekte waarvoor dit bedoel was. Ek het baie geleer oor myself, en oor dinge wat ek wil doen.

Ek het ook (weereens) besef dat ek ’n werklike belangstelling het in taalstudie. Ek het baie tyd gespandeer om materiaal saam te stel wat ek gebruik om Chinees te leer, en ek het darem opgeëindig met ’n paar ekstra woorde en uitdrukkings in my kop.

In kort, ek is trots op myself. Ek het ’n goeie jaar gehad – en ek het hard gewerk daaraan om dit ’n goeie jaar te maak! (Snaaks dat ek amper lus voel om vir iemand dankie te sê.)

Daar’s nog ses minute oor. Idees vir 2002? Betaal my skuld af, koop ’n huis in Suid-Afrika, word ’n miljoenêr, bemeester Chinees, vlieg om die wêreld in my eie Boeing met ’n dosyn minnaresse om my geselskap te hou, doen ’n meestersgraad in Geskiedenis, koop vir my ouers ’n huis, trou en kry kinders, sien hoe die hare teruggroei op my kop …

Die tyd is op. Ek moet vir my ’n Muskadel gaan skink, en my eerste sigaret van die nuwe jaar gaan rol.

* * *

Oukei, die nuwe jaar is al veertien minute aan die gang. Laat die werk begin!

Brand Smit in sy kantoor agter ’n rekenaar wat hom heeltemal te veel gekos het

______________________

Geen gereelde verslae oor my lewe nie

MAANDAG 10 DESEMBER 2001

“Dis vreemd, maar soms is ek nie lus om te praat oor my lewe nie. En dit is nie omdat dit nie goed gaan nie; op die oomblik gaan dit eintlik beter met my as baie keer in die verlede. Ek het onder andere onlangs ’n klomp mense uit Suid-Afrika ontmoet – beide nuwe aankomelinge en mense wat al hier is vir ’n tydjie. Maar om te skryf daaroor of om mense te vertel daarvan laat my voel asof ek verslag lewer oor my lewe. Asof dit ongewoon is dat ook ék dinge doen wat genotvol kan wees, of asof dit nodig is om te rapporteer dat ek nuwe mense ontmoet het.

Hierdie onwilligheid is nie net van toepassing op goeie vriende nie; ek doen dit ook met my familie. Hulle sal my vra vir nuus, en ek sal die beelde in my kop sien van hoe ek ’n goeie tyd het saam met mense, en plekke besoek en dinge doen, maar ’n oomblik later sal ek antwoord dat ek nie regtig enige nuus het nie, en dat alles voortgaan soos gewoonlik. Vreemd, is dit nie?

Ek is ook weer baie besig op die teaching front. Baie van daai goedkoop kontrak onderwysers het die land verlaat, so skole is skielik weer op soek na nuwe mense.

Ek gaan huis toe vir twee weke aan die einde van Maart, en ek is van plan om terug te keer vir nog ’n jaar of so …”

~ Uit ’n e-pos aan ’n vriendin

______________________