’n Verantwoordelike stuk: Ballingskap essay # 10

MAANDAG 26 NOVEMBER 2001

’n Mens kom op ’n tyd in jou lewe wanneer jy ’n paar waarhede in die gesig moet staar. Een van hierdie nare waarhede is dat jy dalk vir ewig gaan leef – of ten minste tot jy so oud en seniel is dat jy nie eens kan onthou jy’t ooit geleef nie. Die noodwendige vraag wat ’n mens vir jouself wil afvra as jy nie hierdie onaangenaamheid uit jou kop kan skud nie, is wat op aarde jy gaan doen as jy wél vir nog veertig of vyftig jaar gaan leef.

’n Mens vind jouself tans in ’n posisie waar jy nog relatief jonk is. Jy’s steeds in ’n stryd gewikkel om hang-ups af te skud wat jy al sedert jou tienerjare saam met jou rondsleep; jy’s nog besig om vir jouself ’n klein erfie af te span in die groot, wye wêreld; en jy’s nog hard aan die stry met jouself (en met jou familie) oor presies wat dit is wat jy wil doen met jou lewe …

———————

[Nog ’n stomp einde. Nie ’n goeie teken in ag genome dat dit die lang verwagte “verantwoordelike stuk” was nie, maar nou ja.

Ter apologie kan ek noem dat ek eers vyftien maande later op die idee van hierdie literêre projek sou kom, en dat ek in November 2001 nie te veel gepla was daarmee om enige stukke af te handel nie. Dit was maklik om nuwe stukke te begin, terwyl ernstige konsentrasie nodig was om dit af te handel.]

______________________

Ballingskap nege

DINSDAG 20 NOVEMBER 2001 (en ’n paar dae daarna)

Ses jaar het al verloop sedert ek geleer het dat dit meer saak maak dát jy geld het, as hóé jy die geld maak. Hierdie briljante insig het my getref omtrent ’n week nadat ’n kettingbrief in my posbus beland het, wat, in teorie, vir my X-bedrag geld per maand in my bankrekening kon besorg indien ek die instruksies noukeurig uitgevoer het. Die insig het op my neergedaal soos ’n seëning dat ek nie noodwendig in ’n besoldigde situasie hoef te wees om elke maand die huur te kan betaal, en van tyd tot tyd ’n nuwe paar jeans te kan koop nie.

Hierdie idee het goed gekorrespondeer met my gebrek aan entoesiasme om in te pas by die konvensionele gang van sake waar jy universiteit toe gaan, na graduering jou C.V. uitstuur in die groot hoop dat jy spoedig jou lewe as ’n “grootmens” kan begin, en dan na ’n jaar of drie trou met die persoon met wie jy op daai stadium seks het. Ek wou voortgaan met die tipe lewe waarvan my sogenaamde studentedae net ’n voorsmaak was – ’n lewe gevul met boeke, kennis opdoen, laat slaap, biblioteek toe gaan, die middag spandeer in ’n tweedehandse boekwinkel, en bowenal, die vryheid om ’n baard te kan groei maak nie saak hoe sleg dit lyk nie.

Ek was 24 toe ek besluit het om Ooste toe te kom. Ek het geweet dit sou my die reg gee om vir almal wat wou weet te kon sê dat ek ’n “Engelse Onderwyser in Korea” is. Ek het ook geweet dat dit beteken dat ek die moontlik onvermydelike punt ’n bietjie langer kon uitstel wanneer ek my vryheid moet inruil vir ’n meer konvensionele lewe en ’n skoongeskeerde gesig.

So’t ek my soektog voortgesit na ’n antwoord op die Groot Vraag: Wat is dit wat hierdie ou wil doen met sy lewe? (Ek wonder hoe dit moet lyk in die Kosmiese Kantoor van die Departement van Belangrike Vrae en Antwoorde. Die klerk, wat al die pos beklee sedert sy pa afgetree het in die jaar 976, skuif op ’n Maandagoggend agter sy lessenaar in, maak die eerste brief oop, en daar is dit, die geykte pleidooi: “Ek wil net graag aansoek doen tot ’n antwoord op die vraag van wat ek met my lewe moet doen …”).

In die verloop van die volgende twee jaar het ek met ’n paar idees vorendag gekom. Ek wou in Engeland of Duitsland woon vir ’n paar maande, of ’n jaar. Ek wou soos McArthur van die Filippyne met trompetgeskal ’n terugkeer maak tot die lieflike universiteitsdorp van Stellenbosch. En ek wou skryf.

Kort voor die einde van my tyd in Korea (Mei 1998), het ek nog ’n paar idees by die lys gevoeg. Twee hiervan was dat ek myself wou toewy aan iets of iemand, en dat ek êrens wou behoort. Ander idees het ingesluit dat ’n mens één ding moet hê waarop jy fokus, en dat die helfte van almal se lewens gaan oor die ontdekking van wat hierdie een ding is; dat my posisie in die samelewing by verstek dié is van ’n boemelaar; dat middelklas suburbia my nie gaan insluk as ek per ongeluk my paraatheid vir ’n oomblik verloor nie; en dat mag die groot verskil is tussen mense wat dit uiteindelik maak, en dié wat sneuwel langs die pad.

Terug in Suid-Afrika – waar ek veronderstel was om toe te wy en te behoort – oorweeg ek toe die hele konsep van ’n beroep. Ek vind toe, in nie die eerste briljante insig van my lewe nie, dat ek nie noodwendig ’n probleem het met die idee van ’n beroep nie. Die probleem was dat die beroep van so ’n aard moes wees dat ek myself volslae daaraan kan toewy.

Kort daarna koop ek vir my ’n paar boekies oor skryfwerk by ’n Hospies-winkel (vir R1 elk), en ek vat my skryfambisies en my vars insig na nuwe hoogtes deur te verklaar dat dít my beroep sal wees – ek sal ’n skrywer word! Meer as dit, skryfwerk sou my besigheid wees. Ek sou dus besigheidsvernuf en my skryfambisies kombineer. Ek sou nie net skryf wat ék wou nie, ek sou kyk waarvoor daar ’n mark is, en die tipe materiaal produseer wat publikasies soos tydskrifte nodig het om hulle bladsye mee te vul.

Vyf en ’n half maande later was ek op ’n straathoek in ’n stad in die suide van Taiwan, besig om die konsepte van vryheid en onafhanklikheid te kontempleer. Siende dat die vermoë om verbysterend helder te dink my toe nie meer onkant gevang het nie, was ek nie verbaas nie toe ek na net vyf minute se staan vorendag kom met die insig dat vryheid en onafhanklikheid vir my, leë ambisies is. Ek het besef dat die aantrekkingskrag van hierdie twee konsepte fundamenteel te make gehad het met my begeerte om nie skuld te hê nie – om nie meer verplig te wees om ’n finansiële skuldlas soos ’n verrottende karkas agter my aan te sleep nie. (En natuurlik het dit ook verband gehou met die ou begeerte om ’n baard te kan groei, al lyk ek soos ’n boemelaar.) Die aantrekkingskrag het begin kwyn toe ek besef dat volmaakte vryheid en onafhanklikheid ook sal impliseer dat jy niemand het vir wie jy omgee, of vir wie se lewe jy verantwoordelik is nie. Dít, het ek geweet, is in stryd met my ware ambisies. Ek wíl lief wees vir mense, en ek wíl eendag deel wees van ’n intieme groepie mense waarvoor ek medeverantwoordelikheid sal aanvaar.

So byt lank vertroetelde ideale in die stof.

Dit was in my 24e jaar op hierdie planeet toe ek die insig gehad het wat ek vermeld het aan die begin van hierdie negende deel van wat nooit so ’n lang “ballingskap” reeks moes gewees het nie. Ek is nou dertig jaar oud. Dis 20 November 2001, vyf-en-twintig minute oor ses in die oggend. Die son het al slaperig haar eerste lig gegooi oor die koue, winterlandskap van Fengshan City. Ek het ’n klein hondjie wat my regtervoet warm lê, en ’n sigaret wat lê en uitbrand in ’n nuwe asbakkie. Die mense by die plaaslike McDonald’s is besig om gereed te maak om die eerste cholesterol belaaide ontbytkos in bakke vars olie te gooi soos ek hierdie woorde tik, en ek moet ’n tweede skof gaan slaap sodat ek teen een-dertig intelligent genoeg kan lyk vir my 21-jarige Chinese onderwyseres.

Ek is deesdae vriende met mense van eksotiese plekke soos Krugersdorp, Kimberley, Vereeniging en Stellenbosch. Ek werk 14 ure per week by drie verskillende skole,[1] en ek verdien ’n paar duisend Taiwan dollar ekstra elke maand deur kort stukkies te skryf vir ’n plaaslike uitgewer van ESL-tydskrifte. Ek het twee boekprojekte hierdie jaar afgehandel. Ek kan Battle Hymn of the Republic op my keyboard speel, en ten minste ses of sewe drukke op my twee kitare. En as ek moet, kan ek ook ’n deuntjie op die blokfluit, of op een van my twee mondfluitjies speel.

Die vraag wat egter in die lug hang soos ’n slegte reuk op ’n windstil wintersoggend is steeds dieselfde: Wat wil ek doen met my lewe?

———–

[1] Ek het aan die einde van hierdie maand ’n terugkeer gemaak na die besigheid van kleuterskool-onderwys, wat my klastyd amper verdubbel het, en my ook gedwing het om aansienlik vroeër te gaan slaap in die aande.

* * *

’n Heerlike oggend van rus – gevul met koorsagtige drome vol moord, en soene op bloedrooi lippe van girlfriends wat nooit teruggebel is nie – het, soos gewoonlik, nuwe insig gebring. Ek weet lankal dat ek wil skryf. Die eintlike vraag is dus nie wát ek wil doen nie, maar watse tipe skryfwerk ek wil produseer.

’n Sekondêre vraag het te make met iets wat ek aangeraak het in Ballingskap Nommer 8, naamlik dat om ’n skrywer te wees soms soortgelyk is aan die beroep of roeping van sending. Die sendeling, wat glo hy of sy is geroepe om ’n bepaalde boodskap te verkondig, kan nie voltyds ’n bankbestuurder wees én voltyds die beroep of roeping van die sendeling beoefen nie. Die sendeling het ’n trade nodig, iets waarmee hulle geld verdien op ’n deeltydse basis, terwyl hulle meeste van hul aandag en tyd spandeer aan die soms baie tydrowende aktiwiteite wat verband hou met hul sending. Wat ook al die sendeling se ambag is – Paulus was byvoorbeeld ’n tentmaker, dit sal altyd net ’n praktiese maatreël wees om te verseker dat hulle en hul families nie honger ly nie, en dat daar meeste van die tyd petrol in die kar is. (As hulle natuurlik onderhou word deur ’n ryk voorstedelike gemeente, sal hulle situasie effens anders daarna uitsien.) Dieselfde kan ook gesê word van die politieke aktivis, wie se eerste prioriteit sy of haar politieke aktiwiteite is, maar wat moontlik iets anders doen om kos op die tafel te sit. (Behalwe weereens as ook hierdie persoon aan die gang gehou word met geld uit Noorweë of Swede … het ek die verkeerde roeping gekies?)

Die eerste vraag wat ek moet beantwoord is dus in watter genre ek wil skryf, en derhalwe ook watter temas ek wil aanraak. Die tweede vraag, wat ter wille van suksesvolle nastrewing van my roeping deeglik oorweeg moet word, is watse werk ek op ’n daaglikse, dog deeltydse basis wil doen om te verseker dat ek ’n gereelde inkomste het.

* * *

’n Ding wat al hoe duideliker begin blyk is dat nie alle beroepe dieselfde waarde het in die arbeidsmark nie. En indien sekere arbeid of sekere vaardighede nie in aanvraag is nie, is die kans goed dat jy nie goed gekompenseer sal word vir wat jy ook al doen op hierdie gebied nie. Dit gee ook nie noodwendig aan die persoon in hierdie beroep ’n status in die gemeenskap waarmee hy of sy gelukkig is nie.

As jy dus na jare se observasie van jou unieke persoonlikheid en deeglike oorweging van die beskikbare beroepsmoontlikhede, op die punt kom waar jy nie anders kan as om te aanvaar dat dit wat jy wil doen nie hoog in aanvraag is nie, moet jy besluit watse ander, verwante moontlikhede vir jou aanvaarbaar sal wees. Jy moet ook deeglik oorweeg wat jou idee is van ’n behoorlike inkomste, en hoe belangrik status in die gemeenskap vir jou is.

Die alternatief is dat jy die belangstelling of aanleg of vaardigheid waarop jy graag sou wou fokus as beroep (of selfs roeping), reduseer tot stokperdjie (vir die gebrek aan ’n beter woord) status. Jy sal verder tevrede moet wees om die meeste van jou tyd en aandag – inderdaad jou daaglikse bestaan –  te wy aan ’n beroep wat van die begin af nie jou eerste keuse was nie; ’n beroep wat jy heel waarskynlik nooit met passie of oorgawe sal kan beoefen nie.

Vraag een

Om ’n lang storie eenvoudig te maak, ek wil skryf wat ék wil skryf. Ek meen, ek is nie op pad om ’n bankbestuurder of ’n skoolinspekteur te word nie. Die eenvoudige rede hiervoor is omdat ek ’n lewe nastreef waarin ek daagliks, en sonder om verskoning daarvoor te maak of toestemming te vra daarvoor, uiting kan gee aan my kreatiwiteit. Watse waarde sal dit dus hê as ek al my tyd spandeer deur net die soort materiaal te skryf wat in aanvraag is, waarvoor ek weet daar ’n mark is, en my kreatiwiteit in die proses beperk in terme van woordeskat, en sinskonstruksies wat soos resepte reeds voor die tyd uitgelê is?

Dit gesê, om artikels en ander materiaal te skryf wat ek nie sou geskryf het as ek nie geweet het ek word betaal daarvoor nie, is steeds beter as om daai honderd of ’n duisend rand te verdien in ’n beroep wat géén kreatiwiteit vereis nie. Ek is dus steeds bereid om materiaal te skryf volgens vasgestelde riglyne, omdat die besigheid wat dit gaan koop, dit so wil hê. Ek is egter nie bereid om na al hierdie tyd myself hoofsaaklik toe te spits op sulke tipe skryfwerk nie.

Om te skryf wat ék wil skryf … die hele teorie oor die middelklas … is dit nie al weer tyd om te gaan slaap nie?

* * *

Ek wil skryf oor die lewe, oor die mens, oor verhoudings, oor geskiedenis, oor godsdiens, oor die samelewing, oor politiek, oor kultuur, en oor hoe die mens dit regkry om elke oggend uit die bed op te staan en presies dieselfde ontbytpap te eet as die vorige dag. Ek wil nie gebonde wees aan ’n spesifieke tema en styl omdat die verbruiker wat boeke en ander leesmateriaal kan bekostig se smaak op die huidige tydstip dit so dikteer nie.

Ek wil skryf wat ék glo geskryf moet word, al is ek die enigste een wat so glo. Ek wil my eerlike opinie gee oor kwessies wat na vore kom in my eie lewe – kwessies wat vele ander mense sekerlik sal herken. Ek wil so verwaand wees om te dink dat ek dinge het om te sê wat niemand anders sê nie, of dalk nie op die manier wat ek dit sê nie. Ek wil my insigte deel met ander mense, selfs al is ek nie die eerste, laaste, of enigste skrywer wat oor hierdie spesifieke insigte beskik nie. Ek wil skryf, en skryf, en nog meer skryf, en aanhou skryf tot iemand sê, “Het julle al gelees wat hierdie ou geskryf het?” En dan wil ek nog ’n bietjie skryf …

Skrywers skryf gedigte, kortverhale, opstelle, romans, preke, toesprake, toneelstukke, draaiboeke, liedjies … of iets van alles. Skrywers skryf oor dinge wat reeds gebeur het, dinge wat tans aan die gebeur is, en dinge wat nog moontlik gaan gebeur (as niemand hulle skryfwerk ernstig opneem nie). Skrywers skryf fiksie, en nie-fiksie. Hulle skryf vir hulle vriende, familie, kennisse, vyande, en vir vreemdelinge. Hulle skryf vir volwassenes, en hulle skryf vir kinders. Hulle skryf vir mense wat hulle gister ontmoet het, en vir mense wat hulle nooit sal ontmoet nie selfs al raak hulle beroemd. Hulle skryf soms net vir mense in hulle binnekringe, en soms vir mense in lande wat hulle nooit sal besoek nie.

Uit die aard van die saak wil ek nie myself beperk tot enige genres of lesersmarkte nie. Maar as ek gedwing word om meer spesifiek te wees, sal ek sê dat ek hoofsaaklik, vir eers, in Afrikaans sal skryf, vir my tydgenote in Suid-Afrika, maar ook in lande soos Taiwan en Engeland en Frankryk en Amerika.

Ek wil my idees oor die lewe, oor hoe ek dink dinge is en hoe ek dink dit veronderstel is om te wees, verwoord in stukke wat mense sal lees om verskeie redes. Miskien lees hulle dit bloot omdat hulle iets soek om die tyd mee te verdryf, of omdat hulle iets wil wysraak wat hulle nie geweet het nie, of omdat hulle inspirasie soek of alternatiewe sienswyses wil oorweeg oor ’n spesifieke aangeleentheid.

Dit is wel vir my belangrik om te skryf vir meer as net ander mense se vermaak. Ek wil myself aanstel as ’n stem van rede, al vat dit twintig jaar om ander mense sover te kry om te luister.

Tweede vraag

Om te wil skryf, is nie ’n eenvoudige ambisie soos om ’n doktor te wil word nie. Met laasgenoemde hoef jy net universiteit toe te gaan, jou kop vir ses jaar lank onstabiel te leer, en dan kan jy lekker begin geld maak en almal respekteer jou en noem jou “dokter”. Om suksesvol te wees as ’n skrywer verg baie meer tyd, en meer verstandelike en emosionele onstabiliteit (ten minste in sommige gevalle). Dit vereis ook ’n deeltydse werk wat kontantaan die vloei hou terwyl jy ’n paar volgelinge bymekaarmaak wat dink dit wat jý te sê het, wel ’n plek het in die Annale van Idees en Opinies (en miskien ook op boekrakke vol kortverhale en digbundels).

Die lewe is nie volmaak nie. (Sou ’n volmaakte lewe in kleur gewees het? Swart-en-wit is soveel netjieser.) ’n Volmaakte lewe sou sekerlik beteken het dat elkeen van ons twee of drie weergawes sou hê van ons lewens om alles te kon doen wat ons wou doen. Elkeen sou ook heel waarskynlik sy eie persoonlike tydmasjien nodig gehad het, sodat as ons later belangrike lesse leer, of – kan jy jouself dit voorstel?! – ons per ongeluk ’n blaps maak, ons vinnig kan teruggaan en weer kan probeer.

Feit is, nie eens ryk mense se lewens is volmaak nie. (Kan Bill Gates byvoorbeeld skielik besluit om ’n hippie te word en sy baard te laat groei?) Ons almal maak foute. Ons mis goeie geleenthede. Ons maak droog. Ons maak besluite en ons doen dinge wat maak dat ander mense hulle koppe skud en vir mekaar vra, “Wat dink die ou doen hy met sy lewe?” En meeste van die tyd is ons te verleë om te antwoord, of doodgewoon nie lus om te verduidelik nie.

Teen hierdie tyd het ek nou al sekerlik die punt goed tuisgebring dat ek ’n inkomste nodig het wat my aan die lewe kan hou terwyl ek skryf, sodat ek nie nodig het om te skryf vir geld nie.

Sedert ek klaar gemaak het met my tersiêre studie het ek nog net twee jobs gehad: Die een was om ’n glorified sekretaresse en verkoopsman van subskripsies te wees vir ’n vriend se omgewingsjoernaal; die ander was om kinders, en so nou en dan ’n volwassene, in die Verre Ooste te leer om Engels te praat.

Laasgenoemde is nie ’n werk waaroor ek vreeslik opgewonde is nie. Soms is ek verleë as ek in ’n klaskamer staan en dink hoe belaglik ek moet lyk terwyl ek my arms swaai, of vir die vyftiende keer die woord “name” sê, terwyl ek my lippe opmekaar pers om te wys jou mond moet tóé wees met die “m”. Dis nie ’n werk wat veel sekerheid bied nie, en daar’s geen huissubsidie of pensioen nie. Om ’n “expat English teacher” te wees in Taiwan of elders in die Ooste gee ook nie aan jou status wat vergelyk kan word met wat ingenieurs of joernaliste of suksesvolle besigheidsmense geniet nie.

Nietemin, om elke week ’n paar Engelse klasse te gee, genereer ’n inkomste. ’n Mens maak óf genoeg geld sodat jy ’n …

[… nuwe printer kan bekostig? ’n Pruik? ’n Buskaartjie uit die stad uit? So, asof ek skielik oorval is deur slaap of verveling, sneuwel nog ’n poging tot ’n essay. Maar daar was nog …]

______________________

Dieselfde vrae verteer steeds

SONDAG 18 NOVEMBER 2001

Ek word verteer deur vrae: Wat is die mens? Hoekom doen ons wat ons doen? Hoekom leef ons soos ons leef? Wat is “geluk”? Wat beteken dit om “ongelukkig” te wees? Wat doen mense om “tevrede” te wees? Is daar universele patrone te bespeur? Wat beteken dit om ’n “betekenisvolle lewe” te leef? Hóé leef ’n mens ’n betekenisvolle lewe? Wat is die natuur van die mens? Behoeftes, drange, doel … Ek kan nie my lewe daaraan toewy om geld te maak terwyl ek verteer word deur hierdie vrae nie. Ek word gedryf om antwoorde te vind. Ek kan dit nie ignoreer nie.

Ten spyte van my obsessie moet ek steeds op ’n daaglikse basis speel volgens die neergelegde reëls: Ek moet kos en kruideniersware koop, huur en water en elektrisiteit betaal, ensovoorts. Ek kan nie my behoeftes vervul deur in ’n grot te woon, en te jag, of miskien my eie lappie grond te bewerk nie – nie in die wêreld waarin ek woon nie, in elk geval.

Ek het lankal geleer dat wat ek nodig het, verkrygbaar is, solank ek iets kan ruil vir die kos wat ek wil eet, en vir die klere wat ek wil aantrek. Wat ek nodig het, is krediet.

Hoe kry ’n mens krediet in die hande? Deur óf ’n produk vir ’n mark te produseer, óf deur ’n diens te lewer. Dis hoekom ek om 6:45 elke oggend opstaan – sodat ek ’n diens kan lewer, krediet kan ontvang daarvoor in die vorm van kontant, wat dan omgeruil kan word vir wat ek nodig het. Of ek my dienslewering geniet, is van sekondêre belang – ek móét dit doen.

Maar steeds word ek verteer deur dit wat ek nie weet of verstaan nie. Kan daar iets soos ’n doel toegeskryf word aan die mens se lewe? Miskien, miskien nie. Maar wat ek weet is dit, indien daar ’n doel is maar jy vervul dit nie, sal jy die spyt later in jou lewe soos ’n ton bakstene op jou skouers voel.

Formele studie in enige van die vakgebiede waar hierdie vrae bestudeer word, is te eng vir my. Derhalwe het ek op die punt gekom waar ek glo ek geen ander keuse het anders as om op my eie te studeer nie.

~ Uit die Pers Notaboek

______________________

Oor ’n naweek in die berge

[Gedurende die derde kwartaal van 2001 het ek heelwat ander Suid-Afrikaners in Kaohsiung ontmoet wat, soos die geval was aan die begin van 2000, ’n effek gehad het op hoe ek my lewe in Taiwan ervaar. Die volgende stukkie teks kom uit ’n brief aan my ou vriend van Johannesburg.]

———————

SONDAG 4 NOVEMBER 2001

“Kaptein X=2 hier (hoewel ek nou eintlik bekendstaan as X-is-was-en-sal-nooit-4-wees-nie)

[…]

Ek het nou net teruggekeer van ’n naweek in – glo dit of nie – ongerepte wildernis. Uitgekamp langs ’n rivier, met berge wat bokant ons uitgetroon het, ensovoorts. En dit alles net meer as twee ure se ry op ’n scooter van die vieslike, vuil, besoedelde Sodom waar ek al my tyd verwyl.

Siende dat soveel moederlanders nou die gemeenskap van vreemdelinge hier geïnfiltreer het, hoef ek nie eens die heeltyd Engels te praat nie. Hierdie naweek was geen uitsondering nie. Ons het selfs Anton Goosen geluister tot laat in die nag!

Anyways, ek’s bly jy leef nog. Ek moet nou eers die sand van my hond gaan afwas (’n storie vir later), en vir my ’n glasie vars groentee gaan skink.

Tot later dus

Kaptein Formule-4”

~ Uit ’n e-pos aan ’n vriend

[Gedurende die Saterdagaand langs die rivier het ek ook ’n argument gehad met my nuwe vriende oor godsdiens. Dit het gelei tot die stuk “Om oor God te praat”.]


My hond, Jackie op pad berge toe (November 2001)
Berge, rivier, tent – Maolin, Taiwan (November 2001)
Berge – Maolin, Taiwan (November 2001)
Berge – Maolin, Taiwan (November 2001)
Bergpas – Maolin, Taiwan (November 2001)
Bont hemp kamoefleer man op rotse – Maolin, Taiwan (November 2001)
Nuwe en ou vriende – Maolin, Taiwan (November 2001)

______________________