Tel-die-voordele-minus-die-nadele No. 7542, oftewel … Ballingskap, deel VIII

WOENSDAG 31 OKTOBER 2001

Die plan

Ek bly aan in Taiwan, tot voorlopig die einde van volgende jaar.

Die onmiddellike voordele

•    Ek kan […]
•    Aprilmaand […]
•    NT$45,000 […]

Wat is die langtermyn voordele?

Al die planne van die afgelope vier tot ses weke is gebaseer op TWEE groot begeertes:

1) om teen einde Junie 2003 op die laatste […]; en
2) om so gou as moontlik behoorlike tyd met my familie te spandeer.

Die derde faktor

’n Derde, maar nie minder belangrike faktor nie wat ook die heeltyd in ag geneem moes word, is die strewe om maksimum produktiwiteit te handhaaf met my skrywerk (en ander projekte). Dit is hierdie saak waaraan ek vir die oomblik meer aandag wil gee.

Ek is, en was nooit bestem om die hoof van een of ander maatskappy te word nie. Ek is ’n skepper gebore – dis in my bloed, dis in my gene, dis in my hart, en dis in my brein. Dis die een ding wat ek nie kan ontken sonder om myself ernstige persoonlike probleme op die hals te haal nie.

Die wêreld waarin ek grootgeword het, waarin my waardes gevorm is, waaruit meeste van die mense kom waarmee ek sosialiseer, beloon egter mense vir hul keuse om geld te verdien op meer konvensionele wyses – wat ’n bydrae lewer tot die handhawing en versterking van die ekonomiese en politieke orde van die dag.Persoonlike sukses, en die hoeveelheid respek wat ander jou gee, word gemeet aan die hand van die resultaat van jou arbeid binne hierdie waardestelsel. ’n Man kan byvoorbeeld die mees komplekse, en mooiste musiek komponeer sedert Amadeus Mozart, maar as hy geld moet bedel vir koffie en op ’n vriend se vloer slaap, sal hy uit die vuis geag word as ’n mislukking.

In hierdie wêreld word mense uitgeken aan ’n reeks “kentekens” – nasionaliteit, sosio-ekonomiese agtergrond, ras, godsdiens, politieke oortuigings, statussimbole, gedrag en kleredrag, om ’n paar voorbeelde te noem. Nog ’n voorbeeld, wat oorvleuel met van die reeds genoemde items, is beroep. ’n Advokaat, byvoorbeeld, word met eerste ontmoeting met meer respek behandel as ’n straatveër, ’n bankbestuurder met meer respek as ’n kleuterskoolonderwyseres.

My ouer suster het gegradueer met ’n kwalifikasie wat haar na die toepaslike ondervinding die reg gegee het om haarself voor te stel as ’n “Geoktrooieerde Rekenmeester”. My een vriend is ’n gesertifiseerde “Landskapargitek”. Ek het na vyf jaar se tersiêre opleiding die wêreld in die gesig gestaar as ’n gekwalifiseerde “Hoërskoolonderwyser”.

Om ’n onderwyser te wees – selfs in ’n vak soos Geskiedenis waarvoor ek ’n sterk affiniteit het – was egter nog nooit die antwoord wat ek wou gee op die vraag van hoe ek ten minste agt ure per dag, jaar in en jaar uit, wou spandeer nie.

Hoe nou gemaak?

Na ’n warrelwind van studielenings het ek teen die begin van ’96 gesit met duisende rande se skuld. Ek het ook die behoefte gehad om elke nou en dan ’n nuwe hemp te koop, miskien een keer elke twee jaar ’n nuwe paar skoene, en elke dan en wan ’n nuwe CD. En ek moes eet, en êrens woon. Teen die einde van 1995 het ek dus gesit met ’n dilemma: Ek wou nie ’n loopbaan begin as ’n “Hoërskoolonderwyser” nie, ek wou definitief nie ’n “Administratiewe Klerk” word in ’n kantoor nie, en ek wou nie enige ander betrekking aanvaar waar ek elke dag agt plus ure moes doen wat ander vir my voorskryf nie. Maar geld móés ek verdien.

Korea het my in staat gestel om tyd te wen. Ek kon ’n bietjie avontuur smaak deur in ’n vreemde land te woon, enterselfdertyd kon ek ’n inkomste genereer sonder om geëtiketteer te word as “Onderwyser”, en sonder dat te veel mense my vra wat presies ek met my lewe wil aanvang (of besig is om daarmee te doen). Na twee jaar in Korea was ek egter gevul met ’n begeerte om te “commit” tot iets, en êrens te “belong”.

Terug in Suid-Afrika is ek weer gekonfronteer met die probleem van watter kenteken ek vertoon in ’n omgewing waar mense beroep beskou as ’n primêre aanduiding van wie jy is, en hoe hulle teenoor jou moet optree.

Om ’n skrywer te wees, was ’n ambisie wat jare tevore al begin groei het in my binneste. Dit was nie net ’n kenteken waarmee ek gemaklik was nie, dit het werklik verteenwoordig hoe ek my tyd wou spandeer. Teen die einde van ’98 het die idee by my posgevat dat om te skryf meer kon wees as net iets waarin ek belangstel – dít kon my beroep wees!

Om ’n skrywer van beroep te wees is egter meer kompleks as om ’n Geoktrooieerde Rekenmeester te word. Om ’n G.R. te word moet jy ten minste vier jaar lank amper voltyds agter jou boeke deurbring ten einde die regte tersiêre kwalifikasie te verwerf. Dan moet jy een of ander eksamen skryf, en drie jaar lank êrens ’n klerkskap doen. Uiteindelik, na hierdie uitgerekte proses, het jy die reg verdien om jouself ’n volwaardige “G. R.” te kan noem in beskaafde geselskap.

Die Pad na G. R.-skap ken ék, wat nooit eens sulke ambisies gekoester het nie. Hoekom weet ek dit? Dit is formeel uitgelê – en natuurlik het ek die merkers gesien soos my eie suster op die pad gevorder het.

Die Pad na die Eer om Jouself ’n Voltydse Skrywer te Noem is veel minder formeel. Daar’s nie ’n graad wat jy kan verwerf wat netjies geraam kan word, en wat aan alle belangstellendes sal sê, “Hierdie ou is ’n skrywer” nie. Jy kan nie vir maande lank jou senuwees rou studeer om ’n moeilike eksamen deur te kom, waarna ’n Raad van Skrywers jou amptelik verwelkom as een van hulle nie.

Daar is, helaas, net één ding wat jy kan doen om uiteindelik die Kenteken van die Skrywer te kan dra: skryf. Skryf bladsye vol, skryf boeke vol. Ontwikkel idees, lees, dink en skryf. Skryf gedigte, skryf kortverhale, skryf artikels, skryf essays, skryf briewe, skryf gemors, skryf goeie goed. Skryf oor die lewe. Skryf oor die dood. Skryf oor mense, diere, instellings en die natuur. Skryf oor berge, karre, beeste en blomme. Skryf oor liefde en haat. Skryf oor dorpe. Skryf oor stede. Skryf oor gutters en skryf oor paleise. En tussen al die geskrywery deur, stuur wat jy reken goed genoeg is, na uitgewers toe. Leer hoe om manuskripte voor te lê. Vind uit in watse tipe materiaal uitgewers of publikasies belangstel. Wees kreatief, maar leer die gewoontes van ’n professionele arbeider aan. Wees ’n kunstenaar, maar weet ook dat jy jou eie brood en komberse moet koop.

Laaste gedagte

’n Mens word soms maklik verlei deur die beeld van die boheemse kunstenaar – die kunstenaar wat nie sy hande vuil maak met iets so vulgêr soos geld nie, wat nooit sy kuns kompromitteer ter wille van finansiële beloning nie, wat honger en vuil en moeg deur die strate strompel in ou, gehawende klere, en wat op weggegooide velle kantoorpapier woorde krabbel wat eers na ’n ontydige dood as “Briljant!” bestempel sal word.

Gelukkig is die kunstenaar wat ryk ouers het en steeds sakgeld kry al is hy of sy veertig jaar oud, of wat ’n vriend of beminde het wat vir hulle sorg sodat hulle ongesteurd kan werk aan hul artistieke skeppings, of wat nie van tyd tot tyd ’n nuwe broek of rok of nuwe paar skoene wil koop uit eie sak nie.

Voorwaar, voorwaar, gelukkig is die kunstenaar – of skrywer – wat nie studieskuld het nie …

______________________

Ballingskap 7/Die 22 Oktober 2001 deklarasie

MAANDAG 22 OKTOBER 2001

Ses duisend boksies groentee, ses honderd pakkies dried beancurd, sestig “Finale Planne!” en ses Ballingskap opstelle later is ek nog steeds hier, agter my komper, besig om te skryf oor hoekom ek wel in “ballingskap” is, en wat ek volgende gaan doen.

(Moet ek nou in detail ingaan oor my nuwe post-”Belonging & Commitment” teorie? Moet ek praat oor die boeke wat ek hierdie jaar geskryf het, en die stories wat ek nog wil skryf? Moet ek praat oor die feit dat ek al Level C songs op my keyboard kan speel, en dat dit my twintig minute gevat het om “Battle Hymn of the Republic” uit my kop te leer speel? Moet ek praat oor al die mense wat ek ontmoet het die afgelope paar weke? Moet ek ’n lyn spaar oor die Boney M Gold CD wat ek gekoop het met die eerste geld wat ek as ’n vryskutskrywer verdien het?[1] Moet ek met slim draaie praat oor hoe ek voel dis my morele plig om my ouers met hulle besigheid te gaan help? Moet ek in detail die huidige reeks planne uiteenlê, netjies met kolomme vir voor- en nadele? Moet ek verduidelik hoe ek, as ek nog X-hoeveelheid maande hier bly, al my skuld kan afbetaal? Hoe ek my blou kitaar en ’n klomp boeke saam met my kan vat as ek in April huis toe gaan, en dan einde Augustus – wanneer my skuld afbetaal is – myself lock, stock en res van die boeke relocate na die plaashuis buite Pongola? Of hoe ek sonder ’n sent op my naam einde Februarie kan teruggaan Suid-Afrika toe, in die goeie geloof dat “dinge sal uitwerk”? How about die nuutste een? Ja, al gehoor van hoe hulle teachers soek in Londen? Hoe hulle iets soos 100 pond per dag betaal word? Kan ek vertel hoe ek al my skuld kan afbetaal in moontlik ’n jaar se tyd, en gedurende vakansies enige Europese stad of enige Eerste Wêreldoorlog slagveld kan besoek? Hoe lekker dit sal wees om gereeld my ouer suster te sien, en ook meer gereeld my ouers en my jonger suster? Is dit werklik nodig om nóg ’n Ballingskap opstel te annekseer met planne, en visoene, en drome, en realiteit? Of kan ek sommer net sê, “Hoesit, hoe hang hulle? Woef.”)

“Uh-huh … toets-toets, een-twee-drie-vier … kan almal my hoor? Ek dink ek gaan einde Februarie volgende jaar terug Suid-Afrika toe op ’n enkel-kaartjie, dan gaan ek registreer by daai teacher’s agency, en dan einde April, na [M.] en daai ander perd se troue, gaan ek Londen toe vlug, uh … vlieg, en dan my agterent trek deur drie maande van Britse skoolgeëry, en dan Berlyn toe gaan vir ’n week … of ’n Eerste Wêreldoorlog slagveld besoek. Dis al.”

———————-

[1] Ek het vir ’n paar maande lank teks geskryf vir ’n Engelse opvoedkundige tydskrif.

______________________