Wat onder die vel lê

Ek kyk soms na mense, vriende van my om meer spesifiek te wees, en ’n sekere beeld dring homself by my op. Die beeld is een van kinders – kom ons sê sewejariges – wat huis-huis speel, wat voorgee asof hulle volwassenes is.

Die addisionele metafoor wat ek dan kies om hierdie besondere insig verder te verduidelik, is een waar ’n mens aan iets krap om te sien wat onder die oppervlak lê. In die geval van hierdie goeie mense wat ek my vriende noem, krap ek dan aan hulle, en onder die vel wys die kinders dan.

Dis belangrik om te noem dat hierdie mense geensins neig tot kinderagtige gedrag nie. Inteendeel, hulle is waardige volwassenes, in terme van hulle verhouding, die dinge waarin hulle geïnteresseerd is, hulle huishouding, en hulle finansiële verantwoordelikhede.

Steeds kan ek nie wegkom van die idee dat hulle net besig is om hulle ouers na te aap nie, al kwalifiseer hulle as “volwassenes” volgens die gemeenskap se standaarde. ’n Voorbeeld van hierdie na-aping is wanneer so ’n kind-volwassene daai eerste huis koop, en dit trots aan die ouers wys: “Kyk Pa, kyk Ma! Ek het ’n huis gekoop!” En dan klap Pa en Ma trots hulle hande saam en sê, “Haai, kyk Pa (of Ma), boetie (of sussie) het ’n huis gekoop!”

Ek voel gewoonlik ’n bietjie skuldig as ek sulke siniese dinge dink oor my vriende, veral as dit is net nadat ek dankie gesê het vir die koppie koffie wat hulle, as gasvrye volwassenes, vir my gemaak het.

Ek dog toe nou die dag, as ek sulke interessante insigte kry as ek “krap” aan ander mense, wat sal ek ontdek as ek ’n bietjie krap aan my eie vel?

Sonder versuim kom ek toe vorendag met ’n antwoord: ’n mal ou man met ’n weekoue grys rasperbaard, wat in sy pajamas voor ’n stom TV sy kop sit en vryf terwyl hy met homself argumenteer.

Nie heeltemal tevrede met hierdie kritiese self-insig nie, gaan ek toe een stap verder – ek krap aan die ou man. Wat toe uit hóm sypel was ’n bietjie nader aan die hart: ’n kind, niks meer as vyf jaar oud nie, wat laatmiddag by ’n plaashek staan en wonder waar al die mense is, hoekom hulle hom alleen gelos het, en of hulle kwaad vir hom is omdat hy gelê en slaap het op die sitkamervloer. En hoekom klink daai jakkals so naby?

———————

“Chimps can codify their cultural behaviour – how to hunt, how to groom oneself and others – and pass that knowledge along to their young.”

~ Uit ’n TV-program

* * *

“All that is human must retrograde if it does not advance.”

~ Edward Gibbon (1737 – 1794) oor die agteruitgang en val van die Romeinse Ryk (aangehaal uit A World Lit Only By Fire, deur William Manchester)

______________________

Arbeiders van antieke tye

DINSDAG 7 AUGUSTUS 2001

In die middeleeue en antieke tye, hoe het die magte van die dag die arbeiders behou wat hulle grond bewerk het, en wat derhalwe eersgenoemde se mag en bevoorregte posisie verseker het?

Slawerny was een manier. Daar was ook die feodale verhouding tussen die landeienaar en die grondbewerker waar laasgenoemde verplig was om arbeid te verrig in ruil vir die landeienaar se beskerming. Later was daar ook die verskynsel van “indentured servitude”. Met al hierdie stelsels is arbeiders gebind aan die grond waar hulle arbeid vereis was deur wette wat die grondeienaar bevoordeel het, en deur maatreëls soos belasting, wat die grondbewerker altyd arm en afhanklik gehou van sy Baas.

Hoe word mense vandag gebind aan die “grond” waar hulle arbeid of diens vereis word? Deur onder andere goedkoop krediet, en langtermyn terugbetaalopsies: maandelikse inkomste minus paaiemente op produkte wat reeds gebruik word – soos ’n nuwe sitkamerstel, of ’n kar – laat die gemiddelde burger met min genoeg geld om “weg te kom”.

Natuurlik kom baie weg, en baie val nooit in nie. Daar’s drop-outs, kriminele, en mense wat vir jare in ander lande rondswerf en op verskillende maniere geld verdien. Solank ’n sekere persentasie van die bevolking egter gebind kan word aan die “grond”, kan die res afgeskryf word – of later benut word, soos die drop-out wat ’n musikant word en vir die Gebindes vermaak verskaf, of bemoediging.

Dit is belangrik om te noem dat hierdie situasie vloeibaar is. Mense maak aan die einde van die dag hul eie keuses. Dus impliseer ek nie grootskaalse manipulering, of sinister agter-geslote-deure beplanning nie … nee wag, manipulering wel. Soveel as moontlik mense móét bereik, en “gedraai” word …

~ Uit die Pers Notaboek

______________________