Die mooi wêreld

MAANDAG 30 APRIL 2001

’n Vriendin van my het onlangs iets genoem van vier dae per week werk, en werk wat afgesaag raak. Dat sy hoogs gefrustreerd is met wat sy doen om geld te maak, is om dit sagkens te stel. Ek kon net op een manier reageer. “Jy’s ’n skeppende mens!” het ek gesê. “Hoeveel ure per dag spandeer jy om iets te maak, om iets te skep? Hoeveel ure per week, miskien?!”

Ons – die soort van opgevoede bewoners van geïndustrialiseerde lande – leef in ’n wêreld waarin ’n groot persentasie van die bevolking benodig word om sekere dienste te lewer om die ekonomiese status quo te handhaaf. En dit verg soms opoffering van mense, op ’n daaglikse basis, om die tipe arbeid te verrig wat vereis word vir hierdie doel.

Een van die opofferings wat vele mense maak, is hulle kreatiwiteit, om in kontak te wees met hulle ware natuur – om skeppend te wees. Natuurlik is daar beroepe waar kreatiwiteit vereis word, en ’n bevoorregte minderheid vul hierdie poste. Die meeste ander werkers van die Eerste Wêreldorde, soos ons dit ken, moet egter die inherente behoefte wat hulle het om skeppend te wees, ignoreer – ten minste tydens “werksure”.

Omdat ons nie leef in totalitêre state waar mense gedwing word om hulle vryheid op te gee nie, moet hulle oorreed word op ander maniere. Hoekom op aarde sal mense vir veertig, vyftig, sestig van die beste ure van die week die vrye vervulling van hulle kreatiewe behoeftes vrywilliglik opgee? Vir “Goeie Geld” natuurlik! Vir die geleentheid om te kan behoort aan die “Mooi Wêreld”! Om “mooi te kan lyk” beteken in hierdie wêreld om duur te lyk. Om bewonder te word as een van die “mooi mense” vereis dat jy jou lewe vul met “mooi goed” – wat, soos ons almal weet, beteken dat dit heel moontlik nie by die plaaslike Hospies-winkel opgetel is vir ’n paar rand nie.

“Reken jy dan nie ook dat ’n Ferrari mooi is nie? Sou jy nie ook graag een wou hê nie?” mag iemand dalk vra.

Natuurlik! Is ’n Gibson Les Paul elektriese kitaar van R6 000 nie mooier én beter as ’n Fender replika van ’n duisend nie? Enige iemand sal die verskil kan sien en hoor. Maar ons moet onsself afvra hoeveel ons opoffer om besitters te kan wees van hierdie “mooi goed”.

’n Vlugtige rondkyk sal die indruk tuisbring dat meeste mense bereid is om te veel op te offer. Een van die heilige koeie wat ons sonder te veel seremonie werp op die altaar van die Mooi Wêreld, is ons vermoëns om kreatief te wees, om dinge te kan skep uit ruwe materiaal. Want dit is wel so dat dit baie tyd vereis! Maar meeste van die tyd is ons óf besig om geld te maak met aktiwiteite waarmee ons sekerlik nie onsself sou besig hou vir veertig-plus ure per week as dit nie was vir die finansiële kompensasie nie, óf ons is besig om ons hoofpyne te probeer weg ontspan na werk, óf ons is besig om ons Goeie Geld te blaas. Maar die feit dat ons die keuse maak om nie kreatief te wees nie, neem nie die inherente behoefte weg om te wil skep nie!

Tensy ons moeite doen om hierdie behoefte op een of ander volhoubare wyse te bevredig – anders as met die arbeid wat sommige van ons verrig, vul ons die vakuum deur die geld wat ons verdien te spandeer op “mooi goed”, om onsself sodoende ’n bietjie beter te laat voel oor onsself. As dit nie werk nie, dan regverdig ons die keuses wat ons maak deur te wys daarop dat ons “volwasse” is, dat ons die sogenaamde “real world” beter verstaan as daai kunstenaar wat nie geld maak nie. En ons lag soveel beter vir flou grappe in ons peperduur uitrustings as vir iets wat regtig snaaks is, maar dit doen nie ons versigtig aanmekaargelapte persona goed om te wys ons waardeer dit nie. En dis soveel makliker om iemand skeef aan te kyk wat vra, “Wag ’n bietjie, wat presies doen ons hier?” as jy, wat self nie ’n antwoord daarop het nie, skitter met pêrels, en jou nuwe Italiaanse skoene blink soos jy die straat afstap na nog ’n winkel toe.

Maar wat help pêrels en duur horlosies en Italiaanse skoene as jy op veertig besef dat, ten spyte van jou vroeëre drome en ambisies, ook jý gesneuwel het in die ou strik wat vir alle kinders van die middelklas gestel word? Dan koop jy maar vir jou ’n Gibson Les Paul vir … R6 000? “Nee wag, gee vir my die een vir R9 000, ek het baie verlore tyd om in te haal!”

Maar jy besef dis dalk te laat. Jy besef dan dat jy jou lewe daaraan gewy het om “mooi dinge” te koop, in plaas daarvan om mooi dinge te skep. Jy’t ’n verbruiker geword, jouself oorgegee aan die disproporsionele verbruik van die resultate van ander mense se besluit om nie ook hulle kreatiewe natuur te verloën nie.

Dit is nodig om te sê dat ek nie getrou wil wees aan my kreatiewe natuur, maar as dit kom by die betaalslag, moet die ou wat tien ure per dag in ’n kantoor sit, vir my steak en bier betaal nie. Ek is baie geïnteresseerd in geld, en verkieslik baie daarvan. My motivering is egter dat dit my júís in staat sal stel om myself nog minder te steur aan die konvensies van die Mooi Mense; om ’n lewe te kan bewerkstellig wat herkenbaar is as ’n goeie lewe, sonder om ’n sentrale aspek van die menslike natuur te ignoreer.

Wat ek wil hê – om dit ietwat anders te stel – is dat die “mooi mense” hulle ongetoetste argumente moet afsluk met duur Franse wyn waarvoor ek die nodige kontant uit my beursie sal skud.

Hoe om kreatief te wees, én duur drinkgoed te kan bekostig vir jou spesiale gaste? Ek kan nie ’n antwoord gee waarmee almal tevrede sal wees nie, maar ek glo te veel mense skram weg van selfs die moontlikheid daarvan. Of hulle beskou die “werklikheid” waarin hulle kreatiwiteit moet opoffer vir geld as so beslis en onveranderbaar, dat hulle bang is hulle word beskou as naïef, as “idealiste” (’n vuil woord in sommige kringe), as hulle skamerig iets wil voorstel wat teen die aanvaarde dogma van hulle “real world” indruis.

Mense noem my ’n idealis, en ek pleit skuldig. Ek is, inderdaad, hardnekkig in my idealisme, want die alternatief is nie naastenby mooi genoeg om my te oorreed om my eie natuur te verloën nie.

[En tussen die lyne spruit die gedagte dat dit steeds vir die skrywer belangrik is om die “mooi mense” te oortuig van sy standpunte nie net in sy eie wêreld van goedkoop bier en knoffelbrood nie, maar in die tipe omgewing waar “duur Franse wyn” verwag word deur die “spesiale gaste”. Dalk ’n geval van “preek vir die onbekeerdes in hulle eie wêreld”?]

______________________