Ek is nie die baas van hierdie wêreld nie

WOENSDAG 21 MAART 2001

Ek voel ietwat verward op die oomblik.

Vir die rekord moet ek sê ek dink dis simpel dat daar hierdie verwagting is dat almal teen 18, en op die laatste teen 24, moet weet wat vir hulle belangrik is en wat hulle wil hê uit die lewe. En indien dit wat hulle wil doen, wat vir hulle belangrik is, en wat hulle uit die lewe wil hê, nie lekker strook met wat gewoonlik goeie finansiële belonings meebring nie, moet hulle weet hoe hulle dit wat hulle wil doen, gaan versoen met die wêreld waarin hulle leef – waar elkeen op eentonige reëlmaat sy pond vleis na die offertafel toe moet bring.

Burgers van die establishment hoop – en verwag – dat almal wat gradueer uit die Skole van Middelklas Opvoeding en Kultuur sonder twyfel en met oorgawe hulle plekke sal inneem, sodat ’n ordelike en siviele samelewing kan voortgaan om ordelik en beskaafd te wees. Teen dié tyd weet die Wyses van die huidige inkarnasie van Beskaafde Gemeenskap egter dat ’n sekere persentasie van middelklas kandidate van vroeg af reeds paaie sal opsoek wat nie heeltemal ooreenstem met wat vir hulle uitgelê is nie. Die Wyses weet óók die meeste paaie loop na Rome – nie almal hoef ’n konvensionele beroep te volg om hulle deel by te dra tot die handhawing en uiteindelike ewolusie van hierdie samelewing nie. En vir dié wat aandring om steeds nie ’n bydrae te maak nie, is daar genoeg plek in tronke, op straat, en in tuistes vir haweloses.

Siende dat ekself nooit een was wat sterk gevoel het oor ’n lewe in die tronk of op straat nie, poog ék ook maar heelhartig om op een of ander manier my pad te vind Rome toe.

“Waar lê die verwarring dan?” mag jy vra.

Ek sou orraait wees op my eie, en ek weet watse pad ek kan loop om te kom waar ek moet – en die pad loop selfs deur die tipe landskap waaruit ’n mens so nou en dan inspirasie kan put. Maar nou dikteer die natuur wat die bestaan van ’n miljoen generasies verseker het dat ek iemand nodig het om die pad mee te deel. En, soos ons almal weet, maak die volgende geslag kort voor lank hul verskyning, ongeag of jy al jou domein afgemerk het of nie.

Verward is ek, want wil ek hê die kinders moet blonde hare en skrefiesoë en Chinese name hê, of sal ek verkies dat ook hulle moeder se taal dieselfde bekende klanke sal wees as waarmee ek grootgeword het? En as dit dan nie hier is nie, dan daar … En dán wat moet Pappa doen om brood te koop vir die kinders?! En Sussie wil ’n grassnyer hê, en Kleinboet ’n paar hoë hakskoene! En die vrou wil alweer ’n Huisgenoot koop?! En al wat Pappa wil doen is om te skryf. En goeie bliksem, hier kruip nog een nader! Vrou, wanneer het dit gebeur? Ek het dan skaars tyd om te skeer! Ek dink nie hierdie Babilon was ooit vir my bedoel nie … maar nou’s dit te laat want hulle downsize al weer! En ek strike al amper veertig en al wat ek wou doen is skryf maar toe dikteer die natuur dat ek nie meer alleen om my eie vuur wil sit teen dertig nie! En ek sit toe nog op ’n eiland in die Verste Ooste, en ek dog toe die oupa en ouma sal seker ook die kleinkinders wil sien. En toe moet ek maar my beddegoed oprol en loop …

Ek is nie die baas van hierdie wêreld nie. So is die reëls, so is die spel.

______________________