Sikt fij huyt!

SONDAG 10 SEPTEMBER 2000

Sikt fij huyt, n’hu bi’ste sydi mujt …

Ek wens dit kon so gewerk het. Ongelukkig is ek vir die soveelste maal in my lewe verplig om woordeskat van ’n taal wat gepraat word deur miljoene mense te gebruik om my gevoelens te verwoord; om die ledemate wat vingers is te gebruik om woorde op papier neer te vel sodat ek, en moontlik jy, kan sien hoe ek voel.

Ek doen dit in die taal wat bekend is aan die wêreld as Afrikaans. Ek kon dit in ’n ander taal ook gedoen het, maar dit sou aan die einde dieselfde effek gehad het. Iemand anders sou daarna kon kyk en sê: Ja, ek dink ek verstaan.

Soos dinge staan, is jy aan die ander kant van hierdie teks. Ek hoop dus die proses werk soos dit moet.

Hoe voel ek? Ek voel angstig, en eensaam. Angstig, omdat ek steeds op ’n vreemde manier glo aan die god aan wie my ouers my voorgestel het met die beste van bedoelings; die god oor wie ek geleer is dat hy soos ’n goeie vader is – die beste van vaders wat enige kind ooit kan hê.

Toe, op ’n sekere tyd van my lewe, het die sterk vermoede by my posgevat dat hierdie god gemaak is deur mense, soos die goue kalf wat die Israeliete gemaak het terwyl Moses op die berg was. Ek het oortuig geraak daarvan dat mense oor die verloop van eeue hierdie God van Woorde geskep het om dieselfde redes hoekom die Israeliete die Goue Kalf gemaak het: Hulle wou ’n god hê wat hulle kon sien, voor wie hulle kon neerbuig, voor wie hulle offerandes kon neerlê. Die god met wie Moses in die Bybelverhaal gaan praat het was eenvoudig te ver – te ver, te onsigbaar, te misterieus, te onaantasbaar. Die God van Woorde, soos die Goue Kalf, is nie te misterieus nie; hy word wel “misterieus” genoem, maar net omdat dit ’n eienskap is wat die mense graag aan hulle god wil toeskryf. Hoe kan ’n god immers misterieus wees as die mense wat hom misterieus noem ook terselfdertyd aanspraak maak dat hulle weet wat hy dink, wat hy gaan doen, wat jy as mens kan doen om sy guns te wen, weet wat hy al gedoen het, en wat hy nog gaan doen? (“O, maar ons weet niks van hierdie dinge nie,” sal mense met groot verontwaardiging uitroep. “Ons weet nie wat God dink nie! Ons weet nie wat Hy gaan doen nie! Jy kan nooit Sy guns wen nie! Ons weet nie die helfte van alles wat Hy al gedoen het nie, en ons kan nooit Sy planne, of Sy doel met dinge verstaan nie!”) Hierdie God van Woorde kan ook gevoel word. In die regte omstandighede, bygesê, wat gewoonlik plaasvind in kerke met baie instrumente op die verhoog, en ’n prediker wat met ’n mikrofoon rondloop. (“O nee,” sal die mense weer sê, “jy kan God ook voel in die privaatheid van jou binnekamer.”) En soos die Goue Kalf kan hierdie God van Woorde tevrede gemaak word, kan sy guns vir jou saak gewen word, deur die magiese krag van ’n hele reeks rituele. Jy kan sing en neerval, en jou hande saamslaan, of Bybelstudie doen, of lang gebede doen, en so aan, en so aan. En die verontwaardigdes sal met elke punt my hewig daarvan beskuldig dat ek alles verdraai, dat ek duidelik nie die eerste waarheid oor hulle god ken nie, en mag hulle vir my bid, sommer nou, ek hoef nie eers my oë toe te maak nie.

Waarop dit alles neerkom is dat ek nie meer glo aan hierdie God van Woorde nie. Ek het dit al so in my eie weergawe van ’n amptelike deklarasie uitgespel. En ek het beter gevoel daarna, want woorde kan ’n ding tog so amptelik laat lyk.

Maar soos die tyd verby gegaan het, het ek agtergekom dat ’n mens nie so maklik van jeugtyd oortuigings ontslae raak nie. Dit is wel waar dat ek nie meer glo aan die detail nie (die Persoonlike Verlossing doktrine is een voorbeeld), maar elke nou en dan, in ’n stil oomblik, het ek hierdie visie van die god waarin ek nie meer glo nie: ’n aller-magtige koning, op sy goue troon, wat in peinsende stilte kyk na my. En ek weet die manier hoe hy na my kyk, is nie dié van ’n liefdevolle vaderfiguur nie. Hierdie figuur sal ’n enkele woord nie uiter nie, maar ek weet goed genoeg wat hy dink: dat ek maar net moet wag, dat my dag sal kom. “Dan sal ons sien wie’s baas. Dan sal ons sien wat maak jy met al jou goed deurdenkte argumente. Jy wil mý kritiseer? Omdat ek nie wát gedoen het nie? Omdat ek gesê het ek sal wát doen? Wie dink jy is jý om mý te kritiseer?” En ek sal my woorde sluk, en skielik bewus wees van die feit dat dit alles waar is. Wie is ék immers om voor hierdie majestueuse figuur te staan en aantygings rond te slinger? Ek sal moontlik stil-stil wil omdraai en wegkruip, maar hy sal sy vinger lig, iets sê wat ek nie sal kan uitmaak as woorde nie, en die volgende oomblik sal ek myself in ’n verskriklike poel vuur bevind.

So much for my arguments.

Eensaamheid: teoloë van ’n sekere denkrigting sal miskien sê dít, hierdie alleen-wees, dit is my hel. Waarop ek sal sê maar ek was al eensaam toe ek nog in die God van Woorde geglo het!

Straf-hel of sommer-net-hel, teen dié tyd is ek al moeg vir hierdie ding van alleen-wees. Ek het dit nou al vir myself uitgemaak dat as ’n man net iemand in sy lewe het, kan hierdie persoon vir hom sê dat hy nie bekommerd hoef te wees nie, en haar hande op enige van verskeie plekke op sy lyf sal hom dit laat glo. Dit sal al wees wat saak sal maak.

Feit bly egter staan, soos dit gestaan het gister, en die ontelbare dae en nagte voor gister, dat ek alleen is. In ’n ander tyd van my lewe sou ek hard aan die bid gewees het elke dag dat hierdie god vir my iemand moet stuur om die wakker-ure beter te maak, en om my beter te laat slaap in die nag. Siende dat geloof ’n vereiste is voor ’n mens dié metode kan gebruik ter verlossing uit jou persoonlike hel, laat dit my met iets meer banaal: “Hallo, my naam is Brand” – of die meer desperate, “Voormalige gelowige nou in hel van eensaamheid soek iemand in soortgelyke posisie.”

Ek het ook lankal uitgewerk dat die ding van nie-alleen-wil-wees-nie te make het met kragtige instinkte en begeertes – waarvan die seksuele maar net een is. Om in ’n verhouding te wees met iemand beteken dat jy êrens behoort. Jy sal gemis word as jy aan die einde van ’n dag nie huis toe kom nie. Om êrens te wil behoort, is volgens mense wat veronderstel is om te weet van hierdie dinge, die spit waarom alles draai (miskien ook maar te make met vrees; solank iemand saam met jou is, of jy saam met iemand is, het julle ’n beter kans op oorlewing).

Toewyding aan iemand anders fokus ook heelwat van jou energie op iets wat in beginsel goed is, naamlik ’n verhouding wat verskeie van jou basiese behoeftes vervul. Dit behoort natuurlik ook bevorderlik te wees daarvoor om jou gedagtes weg te hou van ewige verdoemenis, en soortgelyke onaangename aangeleenthede. En hierdie soort kameraadskap kan ook lei tot die bevrediging van een van die mens se sterkste begeertes, naamlik die begeerte om lewe te gee. Om deur die korrekte prosedure te gaan, en dan na ’n lang gewag ’n derde persoon in jou hande vas te hou – wat nie jy is nie, en ook nie die ander vennoot in die verhouding nie, maar ’n aparte lewende entiteit. En jy sal staar na die miniatuur weergawe van ’n mens en jy sal weet, jy was deel van ’n proses wat lewe gegee het.

Wat alles daarop neerkom dat ek aan heelwat goeie redes kan dink hoekom ek nie meer alleen wil wees nie.

———–

Genoeg woorde vir nou. Het ek daarin geslaag om met die beperkte medium van woorde te kommunikeer wat ek voel op hierdie Sondagaand? Maak dit regtig saak? Die rede hoekom ek die eerste letters neergevel het was omdat ek ’n bietjie angstig, en tot ’n groter mate alleen gevoel het. Die proses van woorde uitkies en rangskik in sinne was aan die einde wat werklik waarde gehad het. Want soos dit maar gaan met dié dinge, voel ek nou ’n klein bietjie beter.

Hoekom maak dit saak dat jy, die leser, verstaan wat ek hier skryf? Omdat die regte woorde beelde en gevoelens uit die stoorkamers van jou brein kan benut om aan jou ’n idee te gee wat ek voel op hierdie oomblik. En dit sal net saak maak dat jy verstaan hoe ek voel as jy my kon oortuig dat ek nie meer die god hoef te vrees waarin ek nie meer glo nie – en as jy ’n vrou ken met ’n oop hart en ’n oop kop wat vir ’n geruime tyd al wens sy kan iemand ontmoet wat háár sal verlos van haar eie hel van ’n eensame bestaan, sal dit ’n besonders gelukkige toeval wees.

Min dinge is egter ooit so eenvoudig, so sikt fij huyt! Oftewel, so is dit …

______________________