Om te kommunikeer

WOENSDAG 16 AUGUSTUS 2000

“Daar’s soveel dinge wat op die oomblik aangaan in my lewe, maar hoe sit ’n mens dit om in ’n email? Daar’s groot dinge wat met ’n mens gebeur, soos in julle geval, en jy dra dit doodgewoon oor as feite …

Wat saak maak is dat dit goed gaan met my. Ek wens soms ons kan langs die see gaan stap, dat ek kan probeer om my lewe te verduidelik op ’n manier wat sal maak dat jy sê, ‘Ek weet wat jy bedoel.’

Ek gaan moontlik hierdie naweek ’n trein uit die stad uit vat, na die ander kant van die eiland toe. Of miskien gaan ek by die huis bly. Miskien gaan ek ’n date hê hierdie naweek, of dalk nie.

Ek weet nie meer hoe om ’n normale brief te skryf nie. En ek vermoed ek wíl dalk my vermoë verloor om op ’n normale, verstaanbare wyse te kommunikeer.

Ek dink ek raak toenemend vervreemd van plekke wat aan my bekend is, en tot ’n mate is dit hoe ek dit wil hê … en ook nie wil hê nie. Ek het altyd gesê ek is gebore as ’n gewone ou, wat net die gewone dinge wou gehad het en tevrede sou wees met minder. Maar my lewe het ander draaie gegooi en nou sit ek tussen die boom en die bas. Ek wil alles hê, en ek weet ek mag dalk opeindig met niks. Ek moet óf voortgaan met my lewe en die highway waarop ek geklim het, óf ek moet op een of ander stadium ’n afdraai maak, en hoop dit werk uit.

Dis moontlik nie te laat om te sê, ‘Dis eintlik alles baie eenvoudig’ nie. ‘Doen net dit en dat, en dan sal alles wees soos wat jy tien jaar gelede gedink het dit sou wees.’

Ek het iemand nodig om vir my ’n baken te wees, om te dien as iets soos ’n ligtoring wat die pad kan terugwys na die hawe toe elke keer nadat ek my draaie in die storm gaan maak het.

Dit klink dalk asof ek wil hê jy moet iets sê in die rigting van godsdiens, maar dis nie goed genoeg nie.

Ek kan selfs kies om nou hierdie hele teks te delete, en dinge te skryf oor my lewe wat meer verstaanbaar is, en meer volgens die konvensie. Maar jy ken my gelukkig beter. En jy skryf altyd terug! Jy verstaan my moontlik beter as wat ek vermoed.

En om te dink jy wou eintlik net gehoor het of dit oukei gaan met my, en of ek darem gereeld eet …”

~ Uit ’n e-pos aan ’n vriendin

______________________

Strofes, joernale, en stukkies papier

SATERDAG 5 AUGUSTUS 2000

Die gedig, soos ’n aantekening in ’n joernaal, is vir my ’n verwysingspunt. Dit vertel hoe ek gekom het waar ek is vandag; hoe dit gebeur het dat ek is wát ek is, op hierdie spesifieke tydstip van my lewe.

Solank ek ’n pen en ’n stuk papier het, kan ek uitdrukking gee aan wie ek is, op ’n bepaalde tyd, in ’n bepaalde konteks, en derhalwe weet dat ek lewe. Ek is verder bewus daarvan dat elke dag ’n voortsetting is van één lewe, en dat hierdie lewe alles insluit wat ooit opgeteken is – in notaboeke, op stukkies papier, op die agterkant van telefonrekeningkoeverte, asook ander dinge wat gebeur het maar wat onverwoord en onopgeteken gebly het.

Al die strofes en stories oor liefde, geloof en hoop, en oor teleurstellings, twyfel en wanhoop, lei uiteindelik tot die belangrikste van alle kennis: die kennis van wie ek is.

______________________