Om onthou te word

SONDAG 20 FEBRUARIE 2000

Tradisie was ’n kenmerk van die hoërskool waar ek my tienerjare geslyt het. En soos dit ’n skool betaam wat hulleself roem op tradisie, het foto’s van ses dekades se eerste rugbyspanne gehang op ’n plek waar dit elke jong seun in die verbystap kon konfronteer met die moontlikheid van sy eie gesig teen dieselfde muur. Soms, as jy nuuskierig genoeg was en jy’t tyd gehad, kon jy vir ’n paar minute stilstaan by ’n foto om name by gesigte te plaas. Soos jy dan nou daar staan en staar na ’n foto, sou jy ’n vreemde term oplet tussen al die Jan Burgers en Floors van Jaarsvelds: NOG EEN. Ek kon nooit uitwerk hoe dit gebeur het dat hierdie ouens se name nie op die foto’s verskyn het nie, want ’n naam moes hy tog gehad het! Hierdie indruk dat nie almal onthou word nie, het by my vasgesteek.

Die mens word gebore, en soos die tyd aanstap, begin hy om sy wêreld te leer ken. Hy begin leer hoe dinge werk, wat hy moet doen om te oorleef, wat hy nié moet doen nie om uit die moeilikheid te bly, en wat oor die algemeen van hom verwag word. Uiteindelik besef die mens ook dat almal tot ’n mate soos hy is, dat hy tot ’n mate soos almal is. Almal eet, dra klere, borsel tande, raak soms kwaad, lag, en praat in tale wat die meeste mense in die omgewing verstaan. Hy besef as hy wil oorleef en uit die moeilikheid wil bly, hy die res se voorbeeld moet volg. Hy moet inpas by sy omgewing. Hy moet probeer om te wees soos die ander mense wat deel is van sy wêreld.

Soos die lewe maar is, maak hy ook op een of ander tyd kennis met die verskynsel dat mens doodgaan. Hy sien, en ervaar moontlik self, die groot rou: mense wat huil, en ’n atmosfeer wat oor die huis hang wat hy nog nooit voorheen teëgekom het nie. Hierdie jong mens sal seker nie verkwalik kan word as hy dink dat dít is hoe dinge van nou af gaan wees nie – ’n belangrike lid van die familie is dood, en niemand gaan hom of haar ooit weer sien nie. Maar die weke en maande gaan verby, en hy kom agter dat sy ma en pa weer begin lag as die hond iets snaaks aanvang, en die gras word nog steeds elke ander Saterdag gesny. Ook die lewe van hierdie jongeling gaan voort, soos voor die Groot Gebeurtenis.

Hierdie gebeure laat ’n groot indruk op die jong kind: Iemand wat altyd daar was, was skielik een dag nie meer daar nie; en die lewe het voortgegaan.

Dieselfde ding gebeur dalk weer – ’n ouma of oupa, of ’n oom of tannie, moontlik selfs iemand wat nou die dag nog saam met hom op die speelgrond rondgehardloop het. Dieselfde drama speel homself weer af: Mense huil, gedempte gesprekke word gevoer, en daar’s ’n stilte wat selfs die honde se geblaf uitdoof. Maar die kind let weereens op dat die grootmense nog steeds werk toe gaan, en elke aand eet hulle nog steeds aandete – soos tevore.

Die gewaarwording dat mense doodgaan, en dat die wêreld voortgaan sonder hulle – soos ’n trein wat passasiers aflaai en weer vertrek – word versterk by hierdie jong mens.

Op hierdie stadium is dit net ’n kwessie van tyd voor die kind besef dat ook hý eendag nie meer daar gaan wees nie. En soos met al die ander mense wat doodgegaan het, gaan die wêreld ook voortgaan sonder hóm. Ook dán sal iemand die nuus lees op TV, iemand sal voortgaan om grappies te maak, en al die honde in die buurt sal steeds blaf vir alles wat roer in die nag.

Soos die kind ouer word, word hy ook blootgestel aan die name van mense wat lankal dood is, maar wat om een of ander rede onthou word. In een gemeenskap is dit Piet Retief en Koos De La Rey, in ’n ander Elvis Presley en Marilyn Monroe, en in ’n ander deel van die wêreld Bruce Lee of Mao Zedong. Die kind besef dat daar sekere mense is wat nie net doodgegaan het en vergeet is na ’n tyd nie. Hy besef sekere mense het dinge gedoen gedurende hulle leeftyd wat maak dat hulle onthou word. Hulle word onthou in skoolboeke, in tydskrifte, in koerante, en op TV. Dalk word daar oor hulle gepreek Sondag in die kerk. Daar word dalk oor hulle gepraat op TV of langs ’n braaivleisvuur. En, lees hy in ’n tydskrif, mense herdenk nog steeds hulle gunsteling sanger se verjaarsdag dekades na sy dood.

Die kind kyk na homself, en na die mense om hom, en die tyd kom wat hy wonder waar hý inpas in hierdie HIËRARGIE VAN ONTHOU WORD. Gaan sý gesig eendag op seëls verskyn? Sal mense nog sy verjaarsdag onthou jare na hy dood is? Sal hulle jare later nog oor hom praat?

Die gemiddelde mens weet hy of sy is belangrik vir ’n klein groepie mense. Hulle weet die vrou wat die nuus lees op TV gaan moontlik nie huil as hulle doodgaan nie, maar hul ouers en broers en susters sal sekerlik vir ten minste ’n paar maande hartseer wees. Vir sommige mense is dit genoeg – om te weet dat hulle onthou sal word deur ’n klein maar betekenisvolle groepie mense. Ander mense hoop ten minste ’n paar honderd mense daag op by hulle afskeidsparty. En dan is daar mense wat nie ’n oomblik verloor om te dink aan sulke dinge nie, maar wie se begrafnis ’n hele stad – selfs ’n hele nasie – tot stilstand sal dwing.

Aan die een kant van die spektrum het ons die man wat ’n staatsleier was, moontlik die held van ’n politieke rewolusie, wie se idees eeue later nog bestudeer sal word. Hierdie man het dalk ook ’n hele paar kinders gehad, en talle kleinkinders en agterkleinkinders. Die man aan hierdie kant van die spektrum sterf dalk op ’n bejaarde ouderdom, omring deur sy kinders, en deur sy kleinkinders en agterkleinkinders. Sy idees, en sy goed gedokumenteerde woorde en dade leef voort in instellings, in biblioteke, en as deel van mense se algemene kennis. Aan die ander kant van die spektrum het ons ’n man wat geen broers of susters gehad het nie, wat nooit getrou het nie, nooit kinders gehad het nie, en nie veel het hulleself sy vriende genoem nie. Hy’t nooit enige boeke geskryf nie, nooit enige musiektreffers geproduseer nie, nooit enige iets gebou nie, en nooit enige iets ontwerp of uitgevind wat lank na sy dood nog van nut sou wees nie.

Die een man se naam gaan voortleef. Hy gaan onthou word. Die ander ou sal onthou word as net … NOG EEN. Mense sal later na hom verwys as die een wat in Kapasiteit X in Kantoor Y gewerk het, of as Die Man Wat In Die Rooi Huis Gewoon Het. Tien jaar na sy dood sal nie veel mense nog sy naam onthou nie.

Vele onder ons koester ’n begeerte om onthou te word vir dinge waaraan onsself waarde heg. Maar is dit enigsins meer as ’n soeke na ’n goeie gevoel oor jouself? ’n Mens sou wou sê dat dit juis hierdie begeerte is wat mense dryf om dinge te doen wat nog nooit voorheen gedoen is nie, of om iets te vermag wat baie werk en toewyding verg – iets wat uiteindelik waarde sal hê vir meer mense as net ’n enkele individu.

Wat is dit wat maak dat mense erkenning soek? Hoekom hoop mense dat hulle onthou sal word lank na hulle sitplekke op die trein koud geword het?

Wat dit ook al is, dit dryf mense vorentoe. Dit dryf hulle om grense te verskuif, om nuwe grond te breek, en soms om hoop te gee wanneer ander dit die nodigste het. Dit dryf mense om vermoëns aan te leer wat hulle in unieke posisies plaas; om hulle eie lewens sodoende te verbeter, en om dalk die wêreld vir almal om hulle, en ná hulle beter te maak. Ongelukkig is hierdie soeke na erkenning ook die vuur wat mense dryf om oorloë te ontketen, en om te vernietig eerder as om te bou.

Laat daar dus konsensus wees: Laat dié wat dit verdien, beloon word met ’n posseël na hulle afsterwe, en laat hulle verjaarsdae onthou word. En laat die name van dié wat erkenning soek op destruktiewe wyses (en dit tragiese gevalle soms vind) onthou word as die resultaat van wanneer die donker kant soms die lig oorweldig.

Sal ons dan sê soeke na erkenning is goed, solank dit ’n oorwegend positiewe nalatenskap agterlaat? Om dus onthou te word vir ’n goeie bydrae – ’n enkele heldedaad, of ’n lewe van toewyding aan ’n goeie saak.

Elkeen van ons word uiteindelik gekonfronteer met sekere vrae: Waar, in hierdie HIËRARGIE VAN ONTHOU WORD, pas jy in? Waar wíl jy inpas? En laastens, vir wát wil jy onthou word?

______________________

Begin vandag reeds te lewe

SONDAG 6 FEBRUARIE 2000

Een ou vra ’n ander ou wat hy met sy lewe wil doen. Die ander ou antwoord dat hy wil skryf.

Die eerste ou vra hom dan wat hy nodig het om meeste van sy tyd te kan spandeer aan skryfwerk, waarop die ander ou antwoord: ’n woonplek, ’n goeie rekenaar, en werk wat hom sal dwing om so nou en dan vars lug te kry, wat hom van genoeg geld sal voorsien om al sy uitgawes te dek, maar wat ook nie te veel van sy tyd sal opneem nie. So drie of vier ure per dag, sê die ou.

Op die vraag na wanneer, en wáár die ou meen om hierdie lewe sy eie te maak, antwoord die ander ou dat hy dit sal doen oor twee of drie jaar wanneer hy al sy skuld afbetaal het en hy homself kan vestig in die Boland, of êrens langs die see.

Die eerste ou vra dan vir die ander ou om sy huidige situasie te beskryf. ’n Woonstel in ’n stad in die suide van Taiwan, ’n TV en ’n videomasjien, ’n rekenaar, ’n goeie radio, heelwat musiek, boeke en so aan, kom die antwoord. Oor sy werkskedule sê hy dat hy eintlik net omtrent tien ure per week hoef te werk vir die skool met wie hy ’n kontrak het, maar dat hy heelwat ekstra klasse by ander skole doen. Hy verduidelik verder dat hy net nodig het om drie of vier ure per dag klas te gee om sy verpligtinge na te kom en sy basiese uitgawes te dek.

“Wat sou jy sê stimuleer jou kreatiwiteit?” vra die een ou dan

Die ander ou dink ’n paar oomblikke daaroor na, en verduidelik dan dat die tye wat hy nog die meeste geskryf het, en moontlik die materiaal geproduseer het waarvan hy die meeste hou, tye was wat hy verveeld was; wanneer hy nie net ure gehad het om te dink en te skryf nie, maar dae en weke van doen net wat hy wil. Hy voeg lakonies by dat dit ongelukkig ook tye was wat hy die minste geld gehad het, wat hy nie eers behoorlike sigarette kon bekostig nie.

“So,” reageer die een ou, “jy’t die woonstel, die rekenaar, die klein weelderighede wat die lewe makliker maak, en jou werksituasie is van so ’n aard dat jy oor heelwat meer vrye tyd kan beskik as jy die risiko wil neem om minder van jou ure te ruil vir kontant, terwyl jy steeds genoeg sal verdien om jou skuld elke maand te betaal en goed te leef. Wat verhoed jou dus om nóú die lewe te lei wat jy hoop om miskien oor twee of drie jaar ’n werklikheid te maak?”

“Wel,” antwoord die ander ou, “die feit dat ek skuld het, en dit eers wil afbetaal. En dan wil ek genoeg geld hê om myself te kan vestig êrens.”

“Ek kan nie met jou stry dat dit belangrik is om jou skuld af te betaal nie,” begin die vraagsteller met sy slotrede, “maar die storie dat jy jouself eers wil vestig en dan eers wil besig raak met die skrywery, jy weet soos wat klink dit vir my? Dit klink soos iemand wat ’n verskoning soek sodat hy nie nou al die sprong hoef te vat om vandag reeds die lewe te begin waarvan hy droom nie.

“Hoekom sal so ’n mens verskoning soek om nie reeds vandag stappe te neem om sy ideale lewe te begin leef nie, selfs al is dit so duidelik binne sy bereik? Ek sal jou sê hoekom: Omdat hy bang is. Hy’s bang hy misluk. Hy’s bang hy vind uit dat hy nie rêrig ’n skrywer kan wees nie. Hy’s bang dat hy dalk aan homself moet erken dat hy fake is, ’n pretender by die hekke van die Gemeenskap van Skrywers en Denkende Mense. Hy’s bang om aan hierdie hekke te ruk, net om te sien hoe sy pogings teruggegooi word in sy gesig as te onbeduidend vir ernstige oorweging. Dat hy gevra sal word om liewers op ’n ander plek ’n tuiste te gaan soek. Dat hy nie moet voorgee om te wees wat hy nooit kan wees nie.

“Hy is bang hy vind dalk uit dat hy niks meer as net ’n gewone ou is nie. Dat hy uiteindelik met sy stert tussen sy bene sy pad sal moet vind na ‘the real world’ toe, waar hy ’n ‘regte werk’ sal moet kry ‘soos almal’. Hy is bang as hy die sprong moet vat en homself moet toewy tot die lewe van ’n voltydse skrywer, hy dalk sal vind dat sy geloof in sy vermoëns net ’n illusie was.

“Hy’s bang hy besef dalk dat alles wat hy nog altyd gehoop het hy is, en wat hy kan doen en vermag in die lewe, bokant sy vuurmaakplek is. Dat hy homself oorskat het. En as hy misluk in hierdie groot ideaal, dan sal hy moet erken dat hy sonder sy illusies soveel minder is as wat hy altyd gehoop het die geval sou wees.

So, nou stel hy dit uit. ‘Môre,’ sê hy. ‘Oor twee of drie jaar as ek myself êrens kan vestig,’ sê hy.

“Maar wat van as hy risiko’s neem – soos om minder van sy ure te ruil vir kontant en meer elke dag te skryf, en hy ontdek dat daar tog substansie is, dat sy hoop nie op illusies gebou was nie? Wat van as hy vind dat hy nie net die uitlewing van hierdie ambisie as genotvol en vervullend ervaar nie, maar dat ook die finansiële risiko’s wat hy nou sal moet neem, op die langtermyn finansiële belonings mag bring? Sal hy nie dan die dag herdenk wat ook hý uiteindelik gesê het ‘môre is te laat vir my’ nie?

“Wat het so ’n man … wat het jý om te verloor anders as enige illusies wat jy dalk mag hê? En het jy nie baie meer om te wen as jy hierdie risiko neem nie?

“Ek hoef nie vir jou te sê die lewe is kosbaar, en soms korter as wat ’n mens verwag nie. Dat ’n mens geleenthede, soos die situasie waarin jy nou is, moet aangryp; dat jy nog relatief jonk is, en as jy illusies het oor jouself om te verloor, jy net ’n beter mens sal wees sonder dit.

______________________