Blonde meditasie

SONDAG 30 JANUARIE 2000

Die hele episode het begin toe ek die Saterdagoggend ’n oproep kry van W., ’n plaaslike besigheidsvrou wat my gehelp het om werk te kry toe ek in Taiwan aangekom het. Sy’t pas teruggekeer uit Suid-Afrika met ’n vrou wat nou gaan werk vir ’n vennoot van haar in ’n naburige stad. Maar die vrou het ’n paar klein probleempies, en kan ek asseblief saam met haar en haar man na die stad toe gaan om met die vrou te gaan gesels. Ek is natuurlik opgewonde. Ek het altyd gedink dit sal lekker wees as daar ’n paar ekstra mede-landgenote in die omgewing is. En W. het genoem dat die vrou blond is …

So piekel ek toe saam om die Blonde Vrou te gaan ontmoet.

Die oomblik toe ek haar sien, weet ek iets is verkeerd. Haar hande bewe, sy’s effe bleek om die kiewe, en sy is duidelik oorstelp om iemand te sien wat haar moontlik kan help. Sy verduidelik toe hoe ongelukkig sy is met haar werksituasie, en hoe sy saam met haar baas en sy familie moet woon in dieselfde huis. En dié en daai beloftes wat gemaak is, is nog nie nagekom nie.

Ander mense sien soms dollar simbole voor hulle oë flits. Terwyl sy met my gesels, sien ek die Ruiter in Swart. Ek sien hoe my mond in ’n goed geoliede Colt verander, hoe ek ’n paar argumente afvuur in die rigting van die rampokkers, en hoe ek teen sononder saam met die Blonde Vrou op die trein sit terug Fengshan toe.

Na ’n hele middag van argumente voer, kom ons toe op die punt waar W. se vennoot, “Honest” Jimmy, ’n voorstel maak: As ek waarborg dat hulle nie die geld sal verloor wat hulle betaal het om die vrou hier te kry nie, sal hulle haar in my sorg “vrylaat”.

Vir ure al praat ek namens die Blonde Vrou, en ek besef toe dat as ek nie instem nie, my hele poging om haar te probeer help so belaglik soos ’n leë Colt sal vertoon by ’n skietgeveg. Ek stem toe in: Ek waarborg dat, as sy nie vir hulle gaan werk nie, ek persoonlik seker sal maak dat hulle die NT$40,000 sal terugkry wat hulle op haar gespandeer het.

Die Blonde Vrou gaan pak toe haar sakke, en ’n paar minute later is ons daar weg.

Terug in Fengshan bel ek toe my vriend O., die enigste ander Suid-Afrikaner wat ek op daai stadium geken het in Taiwan, en lig hom in oor die groeiende getal landgenote in ons dorp. Vyftien minute later toe staan hy in my sitkamer, en terwyl hy nog bladskud, oortref hy amper my eie heldedaad deur in te willig om sommer self vir haar die NT$40,000 te leen, en te help om vir haar ’n nuwe werk te kry.

Die Blonde Vrou was op die punt om trane van vreugde te stort. Twee helde! In een dag!

Sondag maak ons toe ’n paar oproepe, en ek ry die hele stad plat met haar agterop my scooter om vir haar ’n alternatiewe betrekking te organiseer. Teen die aand se kant het ons ’n paar afsprake gemaak met skole wat sy Maandag sou besoek. Ons gaan sien toe weer vir O., en hy krap, volgens belofte, die kontant uit sy laai.

Maandag oor middagete neem ek toe die vrou na W. toe, om haar in te lig dat ons vir my landgenoot ’n ander werk gekry het, en, soos ek dit verstaan het, om vir W. en haar vennote die veertig duisend te gee. W. se man, wat geen woord Engels kan praat nie, luister toe aandagtig na wat ons te sê het, en na W. soos sy vertaal. Toe hy meen ons het klaar gepraat, staan hy op, en begin sonder verdere versuim op ons te gil.

Ek word toe eers effens bleek, en die vrou word effens bleek, en in die paar oomblikke van stilte wat volg op die uitbarsting probeer ek my bes om uit te werk wat ons verkeerd gedoen het. W. verduidelik toe dat dit nie was wat hulle van my verwag het nie. Omdat hulle my gevra het om saam te gaan, was ek veronderstel om aan húlle kant te wees. En hulle het al baie vir my gedoen, en hulle is my vriende, en ek ken nie eens die Blonde Vrou nie, en hoe kon ek hulle so verraai het.

Soos ek dit toe verstaan was ek veronderstel om die Sondag te gebruik om die Blonde Vrou te oortuig dat W. en haar vennote eintlik goeie mense is, en dat om vir hulle te werk eintlik die regte ding sal wees om te doen. En dat Meneer S., W. se man, nou kwaad is vir my omdat ek my hulp aan die verkeerde kant verleen het.

Die situasie neem toe ’n selfs ernstiger wending. Ek word ingelig dat ek geen bystand meer van hulle moet verwag in my aansoek om my verblyf in Taiwan te verleng nie. Dat hulle selfs verder sal gaan en my aansoek sal verhinder op onwettige wyses.

Ek wil toe nog vir hulle sê maar as dit oor die geld gaan, die vrou hulle nou kan terugbetaal. Sy self sê egter niks. Eers later het sy my ingelig dat sy haar “opsies oopgehou” het. (Haar plan was blykbaar om die veertig duisend te leen van ’n skool waar sy gehoop het om ’n werk kry, en dan dadelik vir O. sy geld terug te gee.)

Die volgende paar dae was vol spanning. Ek moes sekere dokumente vervang, en die enigste mense wat my kon help was die einste mense wat ek vervreem het – W. en haar man, die gillende Meneer S. Hulle het geweier om enige bystand te verleen, soos per dreigement.

Die Blonde Vrou het intussen by O. ingetrek, omdat sy van opinie was dat die atmosfeer in my woonstel “negatief” geraak het. Beide ek en O. was teen dié tyd bewus daarvan dat sy ’n ietwat esoteriese uitkyk op die lewe het: Sy’t gereeld haar sterre bestudeer, haar kaarte uitgepak op die bed om te sien hoe die situasie gaan uitwerk, en gereeld op haar kussing gesit om kontak te probeer maak met die Stiltes Wat Waarheid Openbaar. Die atmosfeer in my woonstel was dus meer as die verwagte resultaat van ’n spannende situasie; dit was negatief op wyses wat ’n gewone sterfling nie sou verstaan nie.

Teen die volgende week het ek genoeg gehad. Ek bel haar toe en sê vir haar dat sy vir W. en haar man die geld moet gee wat O. vir haar geleen het, sodat ek my lewe in orde kan kry en die dokumente kan vervang wat ek nodig het. Sy lig my toe ongeërg in dat sy nie van plan is om vir hulle die geld te gee voordat hulle nie vir haar die vliegtuigkaartjie gegee het wat hulle in Suid-Afrika vir haar gekoop het nie.

Ek verduidelik toe dat ek háár gehelp het om uit ’n slegte situasie te kom, en dat die minste wat sy vir my kan doen is om haar besigheid met hulle af te handel. Steeds ongeërg, sê sy toe dat sy nie haarself gaan benadeel ter wille van mý nie, en dat sy my inderdaad nie gevra het om haar te help nie. En om te illustreer dat sy haar sê gesê het, plaas sy toe die gehoorstuk terug op die mikkie voor ek die punt verder met haar kon beredeneer.

Teen die einde van daai week is O. Suid-Afrika toe vir ’n vakansie, hopende dat die vrou intussen ’n werk sal vind sodat hy sy geld kan terugkry.

Minder as ’n week later was sy ook op ’n vliegtuig terug Suid-Afrika toe – met ’n kaartjie wat sy met die veertig duisend gekoop het.

Hy’t later te vertelle gehad dat sy met hom in kontak was in die Kaap. Sy’t vir hom ’n tjek gegee vir die geld wat sy by hom geleen het, en dadelik vir hom gevra of sy dit nie weer by hom kon leen sodat sy kan teruggaan Taiwan toe nie. Hy’t vriendelik die versoek geweier.

Ek het net een keer weer van haar gehoor. In ’n bisarre, kriptiese e-mail het sy onder andere haar verbasing uitgespreek oor hoe dinge uitgewerk het.

Die hele episode het my laat dink aan ’n paar dinge. Jy ontmoet iemand in nood. Jou eerste instink is om die persoon te help. Edel, reg? Ingewikkeld soos die situasie is, bring dit jou in die moeilikheid by ander mense. Drie dae later is jou senuwees klaar, en jy bekla die feit dat niemand vir jóú opkom nie. Jy besluit om stappe te doen om jou eie situasie te verbeter, en die persoon wie jy oorspronklik probeer help het, steek haar vinger in jou oog. Sy’s verbaas dat jy enige iets van háár verwag! En om sout op die wond te gooi, sê sy dat dit immers jóú keuse was om betrokke te raak. En dan gooi sy die telefoon in jou oor neer.

Jy’s in die moeilikheid omdat jy iemand gehelp het, en die persoon wat jy probeer bystaan het in haar nood, verklaar dat sy eintlik van die begin af niks met jou uit te waai wou gehad het nie. Al wat jy kan doen vir die oomblik is om op jou stoel te gaan sit, en deur vyftig TV kanale te flits opsoek na iets anders om aan te dink.

Ek vind myself toe op my eie meditasie kussing, gereed om gevul te word met Insig Wat Geopenbaar Word Aan Een Wat Homself Bejammer. Bene gekruis, hande in die hare, wonder ek toe: Hoekom is ek op my eie?

Dit is sekerlik so dat ’n mens, tot ’n baie groot mate, verantwoordelik is vir jou eie situasie. Was dit nie immers tóg my keuse om betrokke te raak by die Blonde Vrou se situasie nie? As ek dit verder moet neem, lei dit seker tot die konklusie dat ek ook verantwoordelik is vir my eie isolasie, my eie eensaamheid. (Wat ’n vreemde woord is dit nie! “Eenheid” is goed, “saamheid” is goed. Maar is “een” en “saam” nie teenoorgesteldes nie? Alleenheid. Dis ’n beter woord: Al-een. Al-een hier, en al-een daar. Al-een wat soos ek is, wat soos ek dink, wat hierdie partikulêre sorge dra. Al-een in hierdie woonstel. Al-een agter hierdie rekenaar. Al-een-heid.)

Soos almal ontmoet ek soms mense, maar dis asof ’n Hoër Hand net die mense oor my pad bring wat nie troos en uitkoms vir hierdie ewigdurende lot kan bring nie. En hierdie Hoër Hand weet waarmee ek hierdie week weer gekonfronteer is: my eie nietigheid – hoe swak, en magteloos ek werklik is.

Ek het sover al ’n paar dinge uitgewerk in my lewe. As ek voorlopige konklusies moet maak, lyk die groter prentjie nie rooskleurig nie. Dit wil blyk asof die goddelike regter van my vader en moeder se religie nie werklik betrokke is by die wêreld wat hy volgens oorlewering geskep het nie. Is dit dan almal vir hulleself? Ook hieroor is daar nie duidelikheid nie.

So hier sit ek, vasgevang tussen twee pole: op die oog af geen regverdigheid nie, maar moenie waag om te doen wat jy wil nie, “because karma is gonna get you”. En as dit nie karma is nie, dan een of ander vorm van geregtigheid om die skale weer gelyk te maak.

Ek is moeg vir hierdie legkaart waar geen van die stukke pas nie. Ek sit nou al vir jare met ’n hamer onder my tafel om al die stukke inmekaar te kap, want pás wil hulle wragtig nie pas soos legkaarte moet nie. En ek sê maar vir mense dat my ambisieuse poging om alleen sin te maak van alles, goed vorder. Ek sny mystukke fyn, en my legkaart is nog nie so groot soos wat dit was toe ek geglo het soos ’n kind nie, maar dit kom aan. En hierdie keer is dit mý legkaart.

Maar elke keer as ek terugkeer na die tafel met my legkaart op, het die stukke uitmekaar gebeur!

Dis dan wanneer ek die hamer te voorskyn bring. Want as dit dan nie hierdie stukke is op hierdie manier nie, hoe dan? Want god alleen weet ek kan nie sonder ’n legkaart klaarkom nie! Ek moet op een of ander manier sin maak van die wêreld buite my venster. Maar ek is moeg vir retoriek en argumente! Ek is moeg vir teologie, en filosofie, en wetenskap, en verduidelikings!

Gee my net ’n bietjie troos, for once! Soos die kelnerin in die padkafee op die Roger Waters CD wat vra of die ou koffie wil hê, en dan verskoning maak omdat sy hom miskien wakker gemaak het, of te hard gepraat het. Of soos een vreemdeling wat vir ’n ander vreemdeling sê, “Ek ken nie jou spesifieke situasie nie, maar dalk sal dit beter raak van nou af …”

Ek werk aan planne wat moontlik oor twee of drie jaar vir my ’n orraait lewe sal gee. Dit spreek tog van hoop, dan nie?

Of is dinge soos dit maar nog altyd was? ’n Mens raak ouer, jy leer meer van die lewe, miskien kan jy oor ’n paar jaar iets koop wat jy nou nie eens van weet nie, en die lewe gaan voort. En dis nooit so goed soos wat jy die heeltyd vir jouself vertel het nie. Tog, ons roei voort soos ’n span dwase tot ’n golf ons êrens teen ’n kus te pletter gooi, of tot ons dryf tot in die middel van ’n enorme oseaan.

Miskien het Nero die regte idee gehad. In plaas daarvan om Rome te probeer te red, het hy viool gespeel. Miskien moet ons meer dans, en meer musiek maak. Miskien moet ons nóg meer dink. Miskien moet ons aanhou mediteer tot ons onsself verbeel die hele tafel is van hoek tot hoek gevul met ’n legkaart waar ál die stukke pas. “Watse mooi kleurvolle prentjie is dit nie!” sal ons uiteindelik kan uitroep. ’n Bottel-blonde antwoord op die vaalheid van ons werklikheid.

Ek raak toe aan die slaap op my meditasie kussing, en droom van ’n blonde vrou wat op die straathoek staan en tweedehandseviole verkoop. En ek droom ek leen geld by “Honest” Jimmy, koop vir my een, en gaan speel vir W. en haar man terwyl O. hulle by die straat afjaag met brandende vliegtuigkaartjies in sy hand.

______________________