Icarus joernaal, inskrywing # 22

Ek sit in kamer 1102 in die New Cathay Hotel in Hong Kong. Dis 30 Desember 1999. […]

Elke jaar gedurende hierdie laaste paar dae probeer ek om iets sinvol te skryf oor die jaar wat verby is. Hoe op aarde moet ek dit doen oor ’n hele dekade? Kaapstad, Tukkies, Stellenbosch, Godsdienskunde, Emmaushuis, vyf weke in Europa, Phyllaria 1995, Pongola, Pretoria, Korea, Johannesburg, Taiwan. Alles deel van ’n persoonlike rewolusie.

’n Mens voel amper lus om vir iemand dankie te sê dat jy dit alles oorleef het. En hoe het ek dit nie oorleef nie?! Ek is vandag iemand wat ek nie was op 1 Januarie 1990 nie. Ek is ook vandag meer as wat ek was op daai dag. En tot ’n mate is ek nog steeds dieselfde siel, in ’n ietwat verouderde liggaam.

Alles het verander. Alles het groter geword, beter geword, slimmer geword.

Daar was soveel dinge waarin ek geglo het aan die begin van hierdie dekade. Soveel dinge waarop ek hoop aan die einde.

’n Reis waar die eerste spore soms vaag, en soms vars sal bly lê in die twintigste eeu, in die negentigerjare, in 1999, sal voortgaan in die 21e eeu, in die jare nul, in 2000.

Ek glo in die lewe, en ek glo in myself. Ek glo in die goed en die mooi van die lewe, selfs in die aangesig van die teenoorgestelde. Ek glo in hoop. En ek glo dat die nuwe tyd wat spoedig sal begin, óók aan my gaan behoort.

Mag die lewe vorentoe mooi wees; en indien nie altyd mooi nie, vrugbaar; en indien nie altyd vrugbaar nie, wel … laat daar ten minste altyd lewe wees!


1999 – Twee dae voor die einde van die wêreld
1999 – Boot in Hong Kong
1999 – Hong Kong in die nag
2000 – Ten minste vyf mans in ’n foto
2000 – Hong Kong, eerste oggend van die nuwe jaar

______________________