(Onder andere) Die woonstel

WOENSDAG 13 OKTOBER 1999

Ek reken dit sal my R111 296.29 kos om terug te gaan Suid-Afrika toe, myself te vestig, ’n kar te koop, al my studieskuld af te betaal, en die heeldag rond te lê. Aan die ander kant kan ek vir myself ’n yskas en ’n wasmasjien koop, en vir ewig hier bly.

Ek kan nie slaap in die aande nie. Of eerder, ek raak al hoe meer onwillig om bed toe te gaan. Ek kry nagmerries, dan staan ek vyfuur in die oggend op, en dan verslaap ek.

My TV het nou net in fokus gekom … op ’n Koreaanse movie. Ek mis die kos in Korea, en die winters. Miskien sal ek eendag teruggaan. Miskien sal ek volgende jaar New York toe gaan … en Europa … en miskien Suidoos-Asië. Maar eers moet ek vir my ’n yskas en ’n wasmasjien koop.

Dit sneeu in hierdie movie. Ek mis dit – die sneeu, die koue. In Taiwan is dit warm die hele jaar deur. Ek het ’n ernstige probleem met hierdie hitte. En my woonstel het so te sê geen vensters nie. Ek het nog altyd gehou van ’n plek met baie vensters – groot vensters, baie vars lug, miskien so ’n ligte, koelerige herfsbriesie …

* * *

Ek sal in die hoek van die balkon sit op ’n rottangstoel, en ná ’n paar minute insluimer. So 20 minute later, net voor die lug begin grys raak, tel ’n kouer wind op. Ek raak wakker, en stap binne toe. Ek besluit op pannekoek vir aandete. Dan draai ek na die hoek met die blikke en die potjies om ’n vars pot koffie te maak – my gedagtes op ’n ander plek.

Na ’n paar minute gaan sit ek op die groot rusbank. Ek trek my notaboek nader, en kyk vlugtig oor iets wat ek vroeër begin skryf het. Nog besig om te oorweeg waarheen ek op pad is met die storie, strek ek oor na die CD-rak en trek iets van die laat sestigs uit.

Ek hoor ’n klop aan die deur.

Sy’s jammer om te pla, sê sy, sy wou net die boek terugbring wat sy die ander dag geleen het. Sy aarsel vir ’n oomblik. Die aroma van kookwater wat drup op varsgemaalde koffie perkoleer uit die kombuis. Ek sê dankie vir die boek, en maak ’n opmerking oor pannekoek en koffie en aande soos dié.

Sy glimlag. “Hoekom nie?” antwoord sy dan.

______________________