Icarus joernaal, inskrywings # 13 ~ 15

SATERDAG 14 AUGUSTUS 1999

# 13

Die lewe is ’n stryd na ’n Hoër Bestaan. Jou daaglikse lewe is ’n proses waar jy óf vooruitgaan na hierdie beter bestaanstoestand, óf waar jy al verder afdwaal. Die konkrete betekenis van hierdie Hoër Bestaan verskil van persoon tot persoon. Om te definieer wat jóú spesifieke Hoër Bestaan is, is deel van jou stryd.

# 14

Is dit nie waar nie dat die mens, sonder om noodwendig daaraan te dink, konstant besig is om te verander, en dinge beter te probeer doen as hy of sy agtergekom het ’n spesifieke manier van dinge doen berokken hulle skade, of bied nie aan hulle vervulling nie, of is doodgewoon nie goed genoeg om ’n onderneming suksesvol te voltooi nie? Natuurlik kry jy mense wat keer op keer dieselfde foute maak. Hulle stryd sal net soveel langer, en soveel moeiliker wees.

* * *

Die man sit op sy stoep en rook ’n sigaret. Hy dink aan die lewe, en vra homself Die Vraag. Hy’t die oorleweringe en doktrines van sy jeug laat vaar, en kyk nou na sy eie lewenservarings en al die kennis wat hy sover opgedoen het, en poog om daarin te soek na ’n antwoord. Hy sal dit vind: in sy eie ervaringe, in sy kennis, in homself, en in ander mense. Want net soos hý soek, uit die wese van sy natuur en gedryf deur sy instinkte, so soek ander ook.

Niemand beskik oor volmaakte kennis nie, maar luister na ’n honderd mense, en jy sal ’n honderd brokkies inligting kry wat deel vorm van die geheel. Baie brokkies kennis sal oorvleuel, en daar is vele wat slegs resiteer wat aan hulle geleer word. Daar’s ook biblioteke vol boeke van mense wat generasies of eeue gelede kennis van die Waarheid gehad het, al het hierdie kennis deur die generasies, of oor die eeue heen, soms vergete geraak.

Soms sal jy iemand vind – deur ’n persoonlike ontmoeting, deur ’n storie of ’n artikel of ’n nuusberig te lees, deur ’n film te kyk of deur iemand se musiek te luister – wat lank genoeg sy of haar eie ervaringe gekontempleer het ten einde te beskik oor wat genoem kan word, Dieper Kennis. Op dieselfde wyse, indien hy ernstig is oor sy soeke, sal ook die man op die stoep vrede vind oor wat sý lewe beteken.

# 15

Ek weet nie van “God” nie. Dit beteken nie ek glo nie aan “God” nie. Al wat ek sê is dat alles wat ek gedink het ek weet van “God”, deur mense aan my gegee is. Eers jare later het ek uitgevind dat baie van hierdie mense óf nie my vertroue in hulle woord waardig was nie, óf hulle het ook maar net aan my vertel wat aan hulle vertel is, en wat hulle besluit het om te glo om hulle eie persoonlike redes.

Feit is, ek het nog nooit vir “God” gesien nie – as “God” gesien kan word in die konvensionele begrip van die woord, so ek moet luister na ander mense se opinies of leerstellings oor “God”. Die probleem? Hierdie mense het ook nog nooit vir “God” gesien nie. Hulle glo net wat aan húlle geleer is om te glo. Of hulle baseer hulle geloof op ’n kombinasie van wat aan hulle geleer is en persoonlike ervaring – wat steeds beteken hierdie persoon se waarheid is subjektief.

Nog ’n ding: kennis – of “waarheid” – wat van geslag tot geslag oorgelewer word, bly nie eers altyd dieselfde nie! Soos kulturele praktyke verander en soos die res van die mens se bestaanswêreld verander, word subtiele verstellings gemaak aan doktrines en persoonlike oortuigings.

Ek sê dus nie ek glo nie aan “God” nie, ek sê net ek weet nie van “God” nie. Ek weet wat ánder glo hulle weet, maar ek kan nie net in iets glo omdat ander so glo nie. Ek moet self die waarheid leer ken, op my eie tyd en op my eie manier.

______________________