Icarus joernaal, inskrywings # 11 & 12

# 11

SONDAG 4 JULIE 1999

Hoekom is identiteit so belangrik? Omdat jy ’n individuele entiteit is met ’n afsonderlike bewussyn, met ’n bewussyn van ’n eie self. En om deel te kan wees van enige gemeenskap moet jy jouself ken. Jy moet voortdurend keuses kan maak in uiteenlopende situasies, en jy moet ten minste ’n goeie idee hê hoekom jy daai spesifieke besluite maak. Hierdie besluitnemingsproses affekteer jou persoonlikheid, en jou persoonlikheid is ’n essensiële bestanddeel van hierdie proses. Die ontwikkeling van ’n patroon word ook geopenbaar – môre moet jy weer dieselfde tipe besluite neem, of soortgelyke keuses maak, en ten einde jouself nie ten volle te vervreem van ander mense nie, moet daar tot ’n betekenisvolle graad ooreenkoms wees tussen die jy-van-gister en die jy-van-vandag.

Identiteit is ook ’n handige instrument in die proses van onderskeiding tussen jouself en jou omgewing. Jy is immers nie ’n boom nie, en jy is nie ’n hond of ’n motorkar nie. Jy moet weet hoe en waar jy inpas in jou onmiddellike omgewing, en in die groter werklikheid, anders gaan jy nie weet watter stappe jy moet neem ter wille van selfbehoud en oorlewing nie. Dink aan die situasie in ’n teater – mense in die gehoor en die akteurs op die verhoog. Die individuele lid van die gehoor ken die reëls van die situasie. Hulle ken die grense, en hulle ken hul plek in die onmiddellike omgewing (die teater waar die stuk opgevoer word). Hulle gaan nie hul persoon in gevaar stel, of hulleself in die verleentheid stel, deur op die verhoog te spring en die akteurs en aktrises te begin rondklap nie (tensy dit regtig ’n slegte stuk is).

Om ’n sensasie te ervaar dat jy hoort op ’n sekere plek of tussen ’n sekere groep mense, beteken dat jou identiteit heel waarskynlik aanvaarbaar is vir ander mense in die omgewing, wat natuurlik ook jou plek in hierdie omgewing bevestig. Om te voel dat jy êrens hoort, laat jou ook veilig voel, en dit gee aan jou ’n sin van eiewaarde.

Op ’n meer persoonlike noot, as dit so belangrik is vir die individu se welstand om te voel hy hoort êrens, doen ek myself groot skade aan deur myself te weerhou van die vervulling van hierdie behoefte. Anders gestel, as die bewuste onthouding van lewegewende elemente – soos om jouself te weerhou van suurstof (om jouself te vergas), of bloed (om jou polse te sny) – neerkom op selfmoord, dan is ek stadig maar seker besig om myself dood te wurg, by wyse van spreke.

# 12

SONDAG 11 JULIE 1999

’n Paar punte:

1) Om hard te werk en te weet daar’s kontant in die pyplyn, stimuleer ’n gevoel van well-being. Dit maak jou ook onbewus van baie ander dinge, of dit verminder jou bewussyn daarvan.

2) Rome is nie gebou in ’n dag nie. As jy ’n huis koop, kry jy nie outomaties kaste vol beddegoed en stapels ornamente en kinders en ’n hond en ’n grassnyer nie. Wat uiteindelik ’n warm aangename tuiste gaan word, word opgebou oor ’n lang tydperk.

3) Sukses volg nie altyd ’n chronologiese orde van gebeure nie. In vele gevalle is dit twee treë vorentoe en een-en-driekwart treë terug. Maar uiteindelik het jy die belangrikste plekke op die reis aangedoen, en as jy weer kyk, bevind jy jouself in ’n meer aangename situasie.

Moenie bekommerd wees daaroor as jy nie altyd ’n goed uitgewerkte plan volg nie. Om net te begin êrens, en dan van een afgehandelde taak te beweeg na ’n volgende, is beter as om aksie uit te stel tot ’n volmaakte plan geformuleer is.

Laaste punt: As jou gemoed reeds aan die bleek kant is, sorg dat jy skoon onderklere het.

______________________