Ballingskap, deel twee

MAANDAG 21 JUNIE 1999

Miskien was ek nie gemaak vir vreemde lande nie. Miskien was ek bestem om net ’n gewone ou te wees wat vir die regering stem en ’n skoon kredietrekord het. En wat dink die nuwe shopping mall is die beste ding sedert grassnyers. Maar nou sit ek hier in Chiang Kai-Shek se China, en ek dink dis orraait om op ’n Sondagaand dumplings te eet in plaas van oorskiet braaivleis en koue aartappelslaai. En ek gee voor dis ’n lekker job om te kyk hoe kleuters prentjies van Mickey Mouse inkleur, terwyl ek hulle een vir een vra, “What colour is this?” en dan maak asof ek opgewonde raak as hulle sê “Yellow!” as dit eintlik pers is.

[…]

Steppenwolf. Ek is nog steeds die moer in vir die vrou wat my kopie van [Hermann Hesse se] Steppenwolf gesteel het in Korea. Ek het dit so sorgvuldig deurgelees, en al die dele onderstreep wat op my van toepassing was. Ek het gedink: dis ek, hierdie Steppenwolf, die alleenloper wat dink almal wat by kroeë uithang en probeer om die lewe te geniet, is oppervlakkig.

[…]

Ek is moeg vir alleenwees. Ek hou nie daarvan om actually daaraan te dink nie, maar wat van as ek doodgaan, hier in Taiwan? Ek leef asof ek nog ’n miljoen jare het om lief te wees vir mense! Asof alles kan wag tot die hele Asië se kinders vlot Engels kan praat!

Klink ek ’n bietjie af? Wel, ek het weer vanaand dumplings geëet. Daar is alternatiewe, maar nêrens kan ek braaivleis en aartappelslaai kry nie. So of dit nou pizza, McDonald’s of dumplings is, it’s all the same.

ek hoort nie hier/in hierdie land van vreemde skrif en woorde nie/ek hoort nie hier/in hierdie land waar ek so vreemd is nie/soveel om voor te leef/soveel om te voel/soveel om nog te weet …

* * *

Maandag het nugterheid gebring. Ek kan nie teruggaan Suid-Afrika toe nie, want ek sal binne enkele maande platsak wees.

[…]

Nee, het ek besluit, hierdie tweede ballingskap sal vir drie jaar duur. Ek sal my skuld afbetaal, vir my nog electronics koop, en volgende jaar Europa toe gaan.

* * *

Ek is ietwat bekommerd oor myself. Ek het geen motivering vir enige iets nie. Ek wil net die heeldag voor die TV lê en dink aan niks. Ek wil nie dink aan geld, of hoe om geld te maak nie. Ek wil nie eers dink aan die boek wat ek nog wil skryf nie.

[…]

[Ek het ’n groot escapist geword teen my laaste jaar op hoërskool.] Ek het my onmiddellike omgewing gehaat, maar eerder as om die beste daarvan te maak, het ek gedroom van beter plekke. Of at least ánder plekke.

Miskien was dit tog nodig, anders sou my lewe dalk beroof gewees het van die bietjie avontuur wat ek al beleef het. Hel, as ek daaraan dink, as ek destyds [in 1991] gelukkig was in Pretoria sou ek moontlik nou getroud gewees het, en in ’n huis êrens in die suburbs gewoon het! Ek sou nou – of at least dié tyd van die nag – knus langs my vrou gelê het met my hand op haar een bors. En ek sou môre-oggend in my kar geklim het en met ’n mengsel van oggendverkeer en ligte popmusiek in my ore, gery het na een of ander kantoorgebou vir my daaglikse arbeid. Sou ek gelukkig gewees het? Wie weet. Ek sou heel moontlik gevoel het ek hoort êrens, en ek sou sekerlik nog steeds gedroom het. Waaroor – sal ek nie kan sê nie.

Maar nou sit ek hier, in die Republiek van Chiang. Dis al weer drie-uur in die oggend (Dinsdag dié keer), en ek probeer my lewe uitsorteer op die rekenaar wat ek verlede week kontant gekoop het. Agter my, op die TV, flits die beelde van ’n movie uit Hong Kong. Ek moet gaan slaap, want al begin my eerste klas eers môre-middag half-vyf, wil ek ontbyt gaan koop by McDonald’s. En hulle gee net ontbyt tot elfuur.

* * *

Saterdag 26 Junie, net na middagete (sê ek met ’n lepel ontbytpap in my mond). Ek kan nie volgende jaar teruggaan Suid-Afrika toe nie. Ek sal nie genoeg geld hê nie, en geloof alleen gaan weer nie genoeg wees nie.

[…]

Geld is die bottom-line. As ek genoeg geld het, is die plan goed. As ek nie genoeg geld het nie, en net baie geloof en hoop, is die groot ontnugtering altyd op die horison.

Nee wat, kom ons wees baie ernstig hieroor. As my skuld afbetaal is, en ek het genoeg geld vir ten minste een jaar se voltydse studie, goed. Indien nie, is dit net nie goed genoeg nie. Ek is jammer, maar selfs die domste donkies stamp hulle tone net soveel keer teen dieselfde klip.

(Sondag 20 Junie tot Saterdag 26 Junie 1999)

______________________

Ballingskap [1]

SONDAG 20 JUNIE 1999

Ek het op my 25ste verjaarsdag die eerste keer in selfopgelegde ballingskap gegaan. In Februarie van daai jaar het ek ’n werk gekry in Suid-Korea. Na maande se onsekerheid en afwagting het ek uiteindelik op 29 Junie 1996 op ’n Cathay Pacific vlug vertrek na Hong Kong, en vandaar na Seoel. Ek het nie die vaagste benul gehad waarin ek myself begewe nie. Ek het nie die vaagste benul gehad hoe om Engels te leer aan Koreaanse kinders nie. Ek het nie geweet vir wie ek gaan werk of waar ek sou slaap die eerste nag nie. Ek het geen idee gehad hoe Korea lyk, watse kultuurverskille ek gaan teëkom, of hoe die stad lyk waar ek gaan woon en werk vir die volgende wie-weet-hoeveel maande nie. Al wat ek geweet het was dat ek nodig gehad het om weg te kom – van wát sou ek later eers behoorlik formuleer. En in retrospeksie het hierdie begeerte swaarder geweeg as enige vrees vir die onbekende.

Twee-en-twintig maande later het ek weer my goed gepak, vir oulaas deur die nou stegies van my woonbuurt gestap, en die volgende oggend was ek op pad terug Suid-Afrika toe. Ek het steeds nie geweet presies hoe ek ’n inkomste gaan verdien op eie terme nie, maar ek was vol idees oor wat ek met my lewe wou doen.

Dit het my nie lank geneem om te besef dat die realiteit, terug in Suid-Afrika, nie meer genade vir my gaan hê omdat ek amper twee jaar in my eie vorm van ballingskap was nie. Ses weke na ek gearriveer het, was ek in Johannesburg – om ’n deeltydse administratiewe betrekking te vul by ’n omgewingstydskrif van ’n goeie vriend van my.

’n Week voordat ek Johannesburg toe vertrek het, het ek ’n oproep gekry van ’n vriendin wat ook in Johannesburg woon. Sy my ingelig dat sy ’n huis gekoop het, dat die huis ’n spaarkamer het, en indien ek blyplek soek, dit vir haar ook goed sal werk as ek by haar die kamer wil huur vir so drie maande.

Ek het dus ’n dak oor my kop gehad, en ’n office job. En ’n salaris wat nie eers my belangrikste finansiële verpligtinge sou dek nie. Maar ek was terug by die huis. Terug in Suid-Afrika.

Een van die dinge waarvan ek wou wegkom in my eerste ballingskap was my studieskuld. Ek was veronderstel om in Januarie 1996 te begin terugbetaal aan lenings by die universiteit en die bank. Teen Junie ’96 het my skuldeisers nie ’n rekord gehad van wat ek doen, of waar ek was nie. Ek het tussen die spreekwoordelike krake verdwyn. Die oomblik toe die vliegtuig op 29 Junie daai jaar hoogte begin kry het oor Kempton Park, het ek liggies die lug gepomp, en teruggesit. Ek het gevoel soos ’n bandiet wat uit die tronk ontsnap het, en op pad was na ’n plek waar die owerhede hom nie sou opspoor nie. Of soos ’n politieke aktivis wat die sekuriteitsmagte ontglip het, en op pad was na ’n veilige lewe in die buiteland vanwaar hy die stryd sou voortsit.

Binne drie dae na my terugkeer in Mei 1998 was ek by Standard Bank, en het ek eerstehands ervaar dat ballingskap nie noodwendig probleme oplos nie. Een of ander tyd moet jy terugkeer en die stryd kom stry waar dit saak maak. Toe ek dus in Johannesburg aankom teen die einde van Junie, het ek die onaangename verpligting gehad om elke maand R2 000 van my kosbare kontant wat ek in Korea gespaar het, oor te betaal aan die einste skuldeisers vir wie ek so gelag het uit die lug bo Johannesburg twee jaar tevore.

Teen einde September ’98 het ek geweet ek is in die moeilikheid. My spaargeld was op, en ek het nog steeds net meer as R1 500 per maand by die tydskrif verdien.

Vir die oomblik egter was daar weer uitkoms. My vriend van die tydskrif het ’n huislening gekry, en die kantoor sou aan die einde van September verskuif na sy nuwe huis in Auckland Park. Daar was ’n klein buitekamer wat ek gratis en verniet kon beset tot ek iets anders kry. Ek het myself voorgeneem om tot ten minste die einde van die jaar aan te bly in Johannesburg.

Vroeg in Oktober het nog ’n gelukkie my getref. My baas/vriend het besluit daar’s genoeg werk om my vir agt ure lank elke dag besig te hou, en derhalwe kon ek R1 000 per maand meer verdien.

* * *

Die gevoel van naderende krisis het egter nie gaan lê nie. Ek het geweet my vriend wou vroeg in die nuwe jaar die agterkamer ’n bietjie opdoen, en dan uitverhuur. En ek het geweet ek sou nêrens kom as ek voortgaan om teen R2 500 per maand die telefoon te beantwoord by ’n klein maatskappy nie; om nie te praat van die feit dat ek nie geld gehad het vir ’n ander blyplek of ’n kar nie. Gedagtes van ballingskap het weer sterk vorm begin aanneem.

Om eerlik te wees het ek alreeds voorbereidings begin tref vir ’n tweede ballingskap vroeg in Julie, in die huis van my vriendin in Norwood. Ek het toe nog net halfdag gewerk, so ek het genoeg tyd gehad om elke middag in haar sitkamer te sit en te dink hoe miserabel my lewe is. Ek het weer gedink aan hoekom ek teruggekeer het na my eie land toe, en ek kon nie foutvind met die motiewe nie: Ek wou êrens behoort, en ek wou myself verbind tot iets, of iemand.

Die tema van “Belonging and Commitment” het my getref in weke van groot helderheid êrens tussen Januarie en Maart 1998, toe nog in Chonju in Suid-Korea. Ek kan onthou ek het die aand ’n hamburger en tjips gaan koop by die Atom Plaza naby die treinstasie, en terwyl ek gewag het vir my kos (of was dit net toe ek uitstap?), het dié twee woorde so duidelik soos ’n neon-bord voor my geflits: Belonging & Commitment. (Ek kan ook onthou hoe ek eers gaan sit het op die trap van ’n kafee in een van die nou systraatjies om ’n sigaret te rook.)

Tussen Januarie en April ’98 het my planne dus vorm aangeneem wat sou lei tot die opheffing van my eerste selfopgelegde ballingskap. “Belonging and commitment,” het ek al die pad terug Suid-Afrika toe vir myself gefluister.

Teen Julie het ek egter reeds begin wonder wat ek gemis het in my maande van helderheid. Iets was beslis nie reg nie. Ek het in iemand anders se huis gewoon, ’n geleende fiets was my enigste middel van vervoer, en my inkomste was nie opgewasse teen die aanslae van my finansiële verpligtinge nie.

Vir die rekord moet ek noem dat ek ook maande tevore begin rondspeel het met die gedagte van mag. Die vraag, “Wie het dit, en wie nie?” kan gevra word met politieke betekenis in gedagte, in ekonomiese terme, en selfs in persoonlike verhoudings. Ter wille van die argument het ek mag gedefinieer as “die vermoë om keuses te kan maak, en keuses te kan uitoefen”. Ek, het ek besluit reeds vroeg in Julie, het feitlik geen mag nie. In my geval het dit te make gehad met een ding, en een ding alleen. Omdat ek nie geld gehad het nie, was my keuses oor alles van werk tot verblyf tot wat ek eet, beperk.

Ek was op die rand van magteloosheid.

Mag en magteloosheid het my obsessies geword oor die volgende paar maande. Teen November was die persepsie van magteloosheid onuitstaanbaar. Dit het my persoonlikheid begin beïnvloed. Ek was pynlik bewus van my beperkte opsies, en ook die onvermoë om te kon oorgaan tot aksie met opsies wat ek graag wou uitoefen. Ek het besluit dat daar slegs een uitweg was: hernude selfopgelegde ballingskap.

Binne die groter ekonomiese realiteite van Suid-Afrika was my realiteit dat ek nie veel formele beroepsopsies gehad het nie; kruideniersware het ’n luuksheid geword – ek was selfs gedwing om teen einde Oktober sigarette te rol met goedkoop Fox tabak; ek kon nie ’n behoorlike blyplek bekostig nie; en ek het gereeld aan waarskuwings gedink van die een prokureur dat as ek nie my ooreenkoms met die skuldeisers nakom nie, ek vir die volgende dertig jaar ’n persona non grata sal wees.

Ek het inligting begin bymekaarmaak oor ’n program in Japan wat Engelse onderwysers werf. Dié program sou egter eers teen die volgende Julie weer mense nodig hê, en die nood was besig om daagliks stywer om my strot te trek.

Dít was hoe my situasie gelyk het toe ek een dag, laat in Oktober, by die kantoor my e-mail lees. Ek het net ’n roetine update verwag toe ek die pos oopmaak van ’n vriend van my wat ek in Korea ontmoet het. Hy’t ’n jaar voor my teruggegaan Suid-Afrika toe, maar het na maande van sukkel in Kaapstad al sy besittings verkoop vir ’n vliegtuigkaartjie, en teruggekeer Asië toe – dié keer Taiwan. Hy was vol lof vir die plek, en het selfs aangebied om vir my geld te leen vir ’n vliegkaartjie, as ek sou belangstel. Ek het eers sy aanbod beleefd van die hand gewys, maar binne ’n week het ek hom gekontak en gevra of dit nog staan. Ek het vir myself nog ’n week of drie gegee waarin ek my moontlikhede oorweeg het, en teen die einde van November het ek hom laat weet om maar die geld te stuur – my plek is bespreek.

* * *

Ballingskap sou dit dan weer wees, na ’n onsuksesvolle poging tot “belonging and commitment” in die land van my geboorte. Ek het drie weke oor Desember en die eerste week van Januarie by my ouers in KwaZulu-Natal spandeer, en toe weer my rugsak gepak met klere, boeke, musiek, en ’n paar ander items vir ’n nuwe periode van wegwees. Nog ’n week in Johannesburg het gevolg, en toe op 16 Januarie 1999 het ek vertrek – sonder veel emosie.

Dit was vreemd, hierdie afwesigheid van emosie. Anders as in Junie ’96 toe ek amper oorstelp geraak het van vreugde toe die vliegtuig die grond verlaat het, het ek hierdie keer nie veel gevoel nie. Dit was maar net hoe dit was. Noordoos-Asië, ’n amper surrealistiese wêreld waar ek binne ’n week my eie woonstel sou hê, binne twee weke ’n scooter, en waar ek soms meer as R100 per uur sou verdien om speletjies te speel met kleuters in ’n poging om hulle ’n paar Engelse woorde te leer.

* * *

Dis 3:30 in die oggend van 20 Junie 1999. Ek sit hier alleen in ’n drie slaapkamer woonstel, en tik hierdie opstel op my rekenaar. Agter my flits beelde op die TV. Ek het ’n telefoon, ’n videomasjien, ’n CD speler, en ’n paar CD’s wat ek hier, en in Hong Kong gekoop het toe ek daar was vir ’n langnaweek in April. Ek het nuwe beddegoed, en heelwat nuwe klere. Ek het selfs ’n nuwe paar skoene. En ’n paar weke gelede het ek vir my ’n horlosie gekoop vir omtrent R500. Ballingskap is nie te sleg dié keer in tasbare terme nie.

Maar nou die dag toe dink ek, wat sou ek verkies, ’n goeie lewe in die buiteland met hierdie klein luukshede, of ’n lewe in my eie land, sonder baie van die luukshede en die sekuriteit van ’n goeie inkomste wat ek tans geniet, maar waar ek kan voel ek behoort en waar ek myself kan verbind tot iets of iemand?

______________________