Icarus joernaal, inskrywings # 4 & 5

# 4

DINSDAG 6 APRIL 1999

[Ek het vir die langnaweek Hong Kong toe gegaan om saam met my ouer suster te kuier (wat ʼn paar vriende besoek het). Die kuiertjie was nie te veel versuur deur ʼn argument wat ons gehad het oor wat ek doen met my lewe nie.]

M. se argument was dat ek probeer om anders te wees. Dat ek net een lewe het, en dat ek my kanse beter moet gebruik. Dat ek net een keer jonk is, en dat ek nie my lewe moet sien in die lig van die geskiedenis nie. Dat ek nie Napoleon is nie.

Sy sê ook dat ek myself te veel isoleer. Ek het nie vriende nie, en ek isoleer myself van die wêreld waarvan ek juis nóú deel moet wees. Hoekom moet ek deel wees van hierdie wêreld? Omdat ek jonk is, en omdat ek net een keer ʼn kans het om jonk te wees. Sy reken ook dat ek beter keuses kon gemaak het in my lewe, en dat ek nooit net een opsie gehad het nie.

Ek dink haar grootste oorweging vir hierdie argumente was dat sy glo ek ongelukkig is. Sy’t al hierdie dinge uitgedink omdat sy probeer het om vir my te sê, “Dit hoef nie so te wees nie,” en “Jy kán gelukkig wees.”

# 5

DINSDAG 13 APRIL 1999 (00:25)

Ek het ʼn teorie. Die afgelope tien jaar, hierdie hele dekade van my lewe, is oorheers deur die stryd om een of albei van twee probleme te oorkom, naamlik eensaamheid en armoede. Daar was bitter weinig tyd in die afgelope dekade wanneer my bestaan nie fundamenteel oorheers is, en steeds oorheers word, deur een of albei van hierdie probleme nie.

Die besluit in 1990 om Stellenbosch toe te gaan; die besluit vroeg in ’96 om Stellenbosch te verlaat; die besluit om Korea toe te gaan; die besluit om ʼn tweede jaar te bly; die besluit om terug te keer Suid-Afrika toe in 1998; die besluit om Johannesburg toe te gaan; en die mees onlangse, en daarom dalk die beste bewys, die besluit om Taiwan toe te kom. Hoeveel van die belangrikste besluite van my lewe sover is nie geneem om een of albei van hierdie twee probleme op te los nie?

Hoewel daar altyd sekondêre oorwegings was, is dit nie moeilik om te sien dat die belangrikste oorweging om in ’91 Stellenbosch toe te gaan, was om die probleem van eensaamheid te oorwin nie. Om Pretoria toe te gaan in ’96, armoede. Om Korea toe te gaan, armoede. Die besluit om in Korea te bly in ’97 was grootliks om te verhoed dat ek weer sonder ʼn inkomste sal wees. Net ʼn jaar later het eensaamheid my egter gedring om terug te gaan Suid-Afrika toe. Die besluit, na ses weke terug in Suid-Afrika, om Johannesburg toe te gaan, is gemotiveer deur die beginsels van “Belonging and Commitment” – beginsels wat ek geformuleer het om eensaamheid te oorkom. En die besluit om Taiwan toe te kom? Armoede.

“It’s so simple only a genius could have thought of it,” het Einstein van Jean Piaget gesê.

“Armoede, eensaamheid,” sal ek sê, “ek weet.” Maar ek het nog nooit voorheen werklik die eenvoudige patroon gesien nie! As jy my voorheen gevra het wat my beskouing van ʼn ideale lewe is, sou ek baie antwoorde gehad het. Van hulle sou wees om te bemin, en om bemin te word; om finansiële sekuriteit te hê; om die mag te hê om keuses te kan maak en keuses te kan uitoefen. Hierdie teorie laat my met ʼn duidelike opdrag: Los die probleme van armoede en eensaamheid in jou lewe op, en jy sal ʼn ander uitkyk op die lewe hê.

Geluk? Op een of twee stadia van die afgelope paar jaar was een, of albei van dié probleme tot ʼn mate opgelos. As ek nie arm is nie, voel ek beter oor my lewe. As ek nie eensaam is nie maar steeds arm, maak dit ook ʼn verskil. Dis ʼn kwessie van graad. Ek is gewoonlik ʼn bietjie gelukkig, of fokken depressed. Moet dit noodwendig so wees?

Ek glo dit sal van my ʼn beter mens maak, ʼn mens wat die lewe meer sal waardeer, wat aan die lewe sal wil bly, wat dimensies van myself en van die lewe en van ander mense sal ontdek, wat ek nooit voorheen geken het nie, as ek hierdie twee probleme kan oplos.

______________________