Icarus joernaal, inskrywing # 1

SATERDAG 6 MAART 1999

Wat ek bedoel met arriveer in die metafoor van die pad, is dat ’n mens op een of ander tyd uit die woud kom. Na weke wat jy deur skemerdonkerte gestap het op eindelose voetpaadjies, en geleef het op wilde vrugte en bessies, sien jy onverwags een oggend lig. Net voor die middaguur bereik jy die rand van die woud. Jy vind jouself op ’n pad wat loop oor golwende heuwels, langs koel riviere, deur groen valleie …

’n Mens raak moeg van stap en stap en stap. Jy raak moeg daarvan om te probeer om jou weg te vind. Sou dit wees hoekom mense tevrede is met die idee van ’n voorstedelike bestaan? Dalk raak hulle moeg van voetpaadjies, van slaap onder bome, van weghardloop van dinge wat hulle bedreig. Dalk het hulle die einde van die woud bereik, en besluit om rustig te raak op ’n lappie oop grond – op ’n plek waar hulle veilig voel.

Nou, ek kan maar kleinburgerlike kultuur kritiseer soveel as wat ek wil, maar dié mense het ten minste ’n lewe! Hulle gee nie voor hulle lewens is moerse opwindend nie. Hulle werk jaar in en jaar uit vir dieselfde maatskappy, of vir soortgelyke maatskappye. En selfs as hulle een voorstad verruil vir ’n ander een, word dieselfde basiese leefstyl gehandhaaf. Hulle wag nie meer vir hulle lewens om te begin nie. Hulle het op ’n punt gekom waar, as hulle stilstaan en dink daaroor hulle sou sê, “It’s not the life of a rock star, but it’s my life.” Hulle sê ook, “Ek leef, vandag. Dit mag dalk nie alles wees waarvan ek gedroom het nie, maar at least lééf ek vandag. Ek wag nie vir môre, in die hoop dat ek dán ’n meer glorious en exciting bestaan gaan voer nie.”

Ek, aan die ander kant, droom altyd van môre. Môre gaan ek begin leef, en dit gaan die lewe wees wat ek vandag sou wou leef, maar dit kom nou net eers môre. Ek vind dit hoogs problematies om te sê, “Well, this is it, this is home. Ek hoop jy’s gemaklik, want jy gaan heel moontlik nog ’n lang tyd hier wees.” Ek is geneig – of as ek terugkyk oor die afgelope paar jare toon ek altyd hierdie neiging – om te sê, “As jy nie dink dis fantasties nie, moenie worry nie. Hierdie plek is nie eintlik huis nie. Môre of oormôre gaan ek eers my werklike huis bereik. En dit gaan ’n great plek wees …”

Die vraag is nie of ek een of ander tyd wil settle nie; die vraag is vir wát wil ek settle. Ek is nie ’n avonturier nie. Ek is iemand wat net nie vasgevang wil wees in ’n plek waar ek nie werklik wil wees nie.

Ek glo solank jy die energie en die wil het om te werk vir iets waarvoor jy graag wíl settle, moet jy nie gemaklik raak met enige iets minder nie. ’n Mens gaan heel moontlik altyd moet settle vir minder as jou nommer een ideale lewe, maar jy kan realisties wees, en steeds eindig op ’n goeie plek.

______________________