Nuwe insigte, Februarie 1999

Maandag 15 Februarie 1999

Om vry en onafhanklik te wees, het ek meer as een keer die afgelope paar maande geskryf, is my groot ideaal.

Oppervlakkig beskou het dit gegaan daaroor om nie meer finansiële verpligtinge teenoor enige skuldeisers te hê nie. Maar dit het dieper gestrek as dit: Ek wou géén verpligtinge hê nie. My ideale lewe was dié van ’n losloper, ’n steppenwolf. Geen verbintenis nie, geen verpligtinge teenoor enige iemand nie.

So ’n jaar gelede het ek “commitment” en “belonging” geïdentifiseer as fundamenteel goeie idees, ook vir myself. Wat ek nie besef het nie, was dat ek twee perde in die resies gehad het. En ek het altwee probeer ry. Ek wou belong-and-commit, maar ek wou ook vry-en-onafhanklik wees. Wat ek blykbaar nie aanvanklik begryp het nie, was dat jy nie jouself tot iets kan verbind, en terselfdertyd “Vryheid!” kan roep nie; dat jy nie êrens kan behoort, en ook wil beweer dat jy onafhanklik is nie.

Die idee van ’n gesin van my eie was iets wat ek nooit lekker kon inwerk in my ideale leefstyl van vry-en-onafhanklik nie. Nou, dit sou nie ’n probleem gewees het as ek nie so gesmag het na hierdie basiese vreugdes van die lewe nie.

Dit dring toe tot my deur dat om ’n vrou lief te hê, en om saam met haar kinders te verwek, veel meer van ’n inperking sal wees op my vryheid en onafhanklikheid as om finansiële verpligtinge te hê teenoor skuldeisers.

Toe ek dít besef, was dit asof ’n gewig van my skouers gelig is. Ek het verlig gevoel. Ek kon ontspan, omdat ek toe geweet het dat algehele vryheid en onafhanklikheid nie is wat ek wil hê nie! As dit is wat ek wou bereik, was dit moontlik! Dis nie ’n illusie nie. Dis nie ’n droom wat nooit vervul kan word nie. Dis ’n droom wat ek nie wil hê nie! Dis ’n pad wat ek nie werklik enduit sou wou loop nie, omdat ek dan aan niks verbind sou wees nie, en nêrens sou behoort nie. En ek wíl myself verbind aan iets. Ek wíl myself toewy aan iets. Ek wil na iets streef, en ek wil voel ek behoort êrens.

In Johannesburg sou ek nie maklik hierdie insig kon wysraak nie, omdat vryheid en onafhanklikheid daar konkrete korttermyn ideale, selfs begeertes was, wat ek verwar het met ’n lewensideaal. Ek het nodig gehad om Taiwan toe te kom, om te besef dat as ek vry en onafhanklik wil wees, dit iets is wat ek kán doen, dat dit ’n ideaal is wat verwesenlik kan word. Ek moes weet dat dit ’n lewe is wat ek kan nastreef en realiseer, as dit is wat ek wíl doen. Maar dit is nie.

Natuurlik wil ek steeds my skuld afbetaal, so gou as moontlik. Ek haat dit om onder die swaard van skuld te leef. Ek glo om iemand geld te skuld, is om iemand se slaaf te wees. Dis nie dieselfde as om iemand lief te hê, en om ’n finansiële verpligting teenoor die persoon te wíl nakom uit liefde nie.

In finansiële terme wil ek definitief steeds vry en onafhanklik wees. Maar ek wil ook ’n ander ideaal realiseer – ek wil êrens behoort. Ek wil ’n huis hê in die volle sin van die woord. Ek wil lief wees vir ’n vrou, en bemin word deur haar.

Ter afsluiting dan van hierdie notaboek, wat sy eerste ink geproe het tien maande gelede in Stellenbosch, en wat Johannesburg met my meegemaak het, die volgende: Ek wil myself toewy aan ’n ideaal waarvan die verwesenliking reeds begin het, naamlik om ’n skrywer te wees. En ek wil bemin, en bemin word, en sodoende êrens behoort.

I am committed. And one day, I will also belong.

______________________