Ontnugtering, en nuwe planne

Sondag 8 November 1998

Wat ’n jaar …

Vier en ’n bietjie maande in Johannesburg. Wat het ek sover gedoen? Ek het kanse gewaag. Ek het dinge gedoen, en doen dit steeds, wat ek gesê het ek nooit sal doen nie. Ek het Johannesburg toe getrek vir ’n office job. Ek het my baas/vriend se aanbod om vir tyd en wyl in die bediendekamer op sy erf te bly, aanvaar. Ek doen sales … En wat het ek? Fokkol.

Ek hou myself “produktief” besig – dis al wat ek kan sê. Ek lees. Ek skryf. Ek kan nie bekostig om by ’n restaurant te gaan eet nie. Selfs al was flieks gratis, kon ek nie daar uitkom nie. Selfs al was hier ’n honderd vrouens wat moontlikhede ingehou het vir ’n man, sou dit net van akademiese waarde gewees het, want as hulle nie binne stapafstand van my huis af woon nie, kan ek hulle nie ontmoet vir koffie of iets nie. En selfs al het ek ’n kar gehad, het ek nie geld nie. Ek bly in ’n fokken buitekamer soos ’n student. Ek het nie eens ’n behoorlike radio nie!

Klink dit asof ek net kla, terwyl soveel mense slegter af is as ek? Fok dit. Ek het my eie agenda. As ek tevrede was met wat ek het net omdat soveel mense in ’n slegter posisie is as ek, sou ek mense wat slegter af is as ek, beledig het, want ook húlle wil ’n beter lewe hê, om nie eens te noem dat hulle sou gedink het ek is ’n idioot om nie iets beters vir myself te wil hê nie!

Ek het geld nodig. Ek het ’n kar nodig. Ek het ’n rekenaar nodig. Ek het ’n behoorlike blyplek nodig. Al hierdie dinge is buite my onmiddellike bereik in Suid-Afrika op hierdie stadium. Miskien oor vyf jaar … That’s it, ek gaan Taiwan toe. En ek kom nie weer terug Suid-Afrika toe voor ek nie behoorlik vir myself kan sorg nie.

———————

[Verduideliking: Die Suid-Afrikaner wat my saam met die Koreaanse man meer as twee jaar tevore ingewag het op die lughawe in Seoel, was teen hierdie tyd in Taiwan. Ons het ’n paar e-posse uitgeruil – hy’t my vertel oor sy lewe in Taiwan, en ek het hom ingelig oor my situasie in Johannesburg. Teen laat Oktober het hy aangebied om vir my geld te leen vir ’n vliegtuigkaartjie Kaohsiung toe – ’n aanbod wat ek aanvanklik van die hand gewys het.]

______________________

Voorraadopname, November 1998

Sondag 1 November 1998

Tyd om weer voorraadopname te neem, en belangrike vrae aan myself te vra: Waarheen is ek op pad, en wat wil ek met my lewe doen?

Glo dit of nie, maar ek is alreeds ses maande terug in Suid-Afrika! Ek kyk toenemend terug na die paar maande tussen September/Oktober verlede jaar, en Februarie/Maart/April hierdie jaar. Dit was ’n baie betekenisvolle tyd in terme van die beantwoording van belangrike vrae. Die primêre idees wat toe my gedagtes beïnvloed het, was dié van “Belonging” en “Commitment”.

Nou na ses maande vra ek myself weer, waaraan ís ek, en wíl ek toegewyd wees? Waar behoort ek, en waarvan wil ek deel wees? Ek het vroeër in die jaar sekere antwoorde gegee op hierdie vrae, wat vir alle praktiese doeleindes daarop neergekom het dat ek myself wou vestig in Suid-Afrika, en dat ek myself wou verbind aan die wêreld waar ek die graagste wou behoort – wat my eie land was. Ek kon egter nie my vinger sit op ’n enkele ambisie waarop ek my aandag kon fokus nie. Ek het ook nie enige gedetailleerde planne gehad nie.

Die afgelope ses maande het my in staat gestel om miskien ’n nuwe interpretasie te gee aan bogenoemde beginsels, en om duidelikheid te kry oor die enkele ambisie, die enkele droom. Ek wil skryf – gedigte, kortverhale, artikels, en enige iets anders wat geskryf moet word.

Om dit te kan nastreef, moet ek meer onafhanklik raak. Ek moet kan doen wat ek wil. Ek moenie myself laat inperk deur die verpligting om R2000 per maand oor te betaal aan een of ander instelling nie. Ek moet my eie geld vir myself kan gebruik.

Om ’n posisie van selfstandigheid, vryheid en onafhanklikheid te bereik, het ek nodig om geld te maak. Hoe vinniger ek hierdie punt kan bereik, hoe beter. Maar ek moet dit doen op so ’n manier dat ek steeds op ’n daaglikse basis my enkele ambisie kan nastreef.

______________________