Die 21e dag in Johannesburg

Sondag 19 Julie 1998

Wil ek in Suid-Afrika bly?

Suid-Afrika is waar ek die meeste van my behoeftes en ambisies kan vervul. Die enigste behoefte wat ek nie hier kan vervul nie, is die behoefte om “verder” te leef – om deel te wees van ’n groter wêreld. Selfs al het jy maar net ’n gewone lewe in ’n ander land, het dit altyd ’n dimensie van “verder” as net die plek waar jy groot geword het. Jy verbreed jou verwysingsraamwerk, jou lewenservaring, jou eerstehandse kennis van die wêreld.

Watse behoeftes kan ek hier, in Suid-Afrika, vervul? Die behoefte om deel te wees van ’n gemeenskap, om êrens te behoort, om ’n rol te speel, om betrokke te raak, om ’n herberg op eie turf op te bou, steen-vir-steen, boek-vir-boek, stoel-vir-stoel, mat-vir-mat, en een aandenking op ’n slag.

Ek het maande gelede al die insig gehad dat ek nie sommer net een dag in ’n middelklas voorstad wakker gaan word nie, dat ek nie hulpeloos ingesuig gaan word in die middelklas in nie. Die waarheid is, selfs al werk jy doelgerig daaraan vir jare om ’n Voorstedelike Kleinburger te word, is daar geen waarborg dat jy een sal word nie, siende dat jy omtrent ’n vlekvrye kredietrekord moet hê voor jy op die uitnodigingslys kan kom vir ’n tee-party in die gemiddelde voorstad. Selfs al kwalifiseer jy, hang dit steeds van jou af – wil jy werklik hierdie lewe hê?

Wat ek wil doen, is om ’n inkomste te genereer van my huis af. Die mees ambisieuse, mees ideale manier om dit te doen, is om ’n voltydse skrywer te wees. Om my inkomste aan te vul, kan ek deeltyds klasgee – EFL, geletterdheidskursusse, en so aan.

[Die kantoorwerk] wat ek op die oomblik doen, is instrumenteel tot hierdie ideaal. As ek weer oorsee gaan oor ’n paar maande, sal dit ook goed wees. Die verskil is dat ek op hierdie stadium in ’n plek is waar ek sekere belangrike behoeftes kan vervul – presies waarvoor ek in die eerste plek teruggekom het Suid-Afrika toe.

______________________