Die punt, en die opsies op Woensdag 3 Junie 1998

Woensdag 3 Junie 1998

Ek bevind myself op ’n straathoek, met ’n snaakse jas en ’n hoed op my kop, besig om na karre te staar wat mense werk toe pendel.

Maar kom ons kom by die punt. Ek het ’n paar opsies:

1. Om ’n entrepreneur te wees

2. Om weer in die buiteland werk te probeer kry

3. Om plaaslik werk te probeer kry

Wat betref die eerste opsie: Dit was die plan waarmee ek hier aangekom het op 6 Mei. Intussen het ek uitgevind dat dit tyd en geld sal vat voor ’n mens kan begin geld maak met ’n projek. Ek glo dat dit ’n risiko sal wees om myself uitsluitlik op hierdie opsie toe te spits, onder die huidige omstandighede.

Wat betref opsie twee, wat is die voordele daarvan om nou weer oorsee te gaan? Geld om studieskuld te betaal, en geld wat ek kan spaar om ná tussen ses en agtien maande terug te kom en in projekte te belê. Daar is ook die voordeel van reiservarings. Wat is die nadele? Ek is op hierdie stadium gereed om myself te verbind aan dinge – en dis ’n moerse erkenning, in ag genome my ou weersin aan die idee. Ek het ’n geweldige sterk behoefte om êrens te behoort, om betrokke te wees by organisasies en by mense, en myself te verbind aan verhoudings, en aan planne, en idees. Die dinge waaraan ek myself wil verbind is hier – in Suid-Afrika. As ek nou weer oorsee moet gaan, moet ek weer die vervulling van hierdie behoeftes op die langtermyn skuif, ’n paar tapes en ’n paar boeke en ’n paar ander los items in my rugsak gooi, en myself weer tydelik elders anders gaan vestig. Dit is teenstrydig met alles wat ek hierdie laaste paar maande gedink en besluit het. Verder is daar geen waarborg dat ek meer geld sal kan maak oorsee as wat ek op die medium- en langtermyn kan maak in my eie land nie. Laastens, wat presies wil ek oorsee doen? Ek is nie juis ekstaties oor die moontlikheid om weer English Teaching te doen in die Verre Ooste nie, en ek sien beslis nie kans om in Engeland my humeur vir ’n klomp ongeskikte kinders te gaan verloor nie.

Nou, opsie drie. Wat sal dit my baat om werk te kry in Suid-Afrika? My belangstellings is wyd, so ek hoef nie myself te beperk tot ’n spesifieke beroepsveld, of ’n bepaalde tipe werk nie. Enige iets wat rofweg binne my belangstellingsveld val, sal oukei wees, solank dit vir my ’n basiese inkomste gee. Ek hou in elk geval my oë oop, en my ore op die grond, vir ander projekte en idees om so ’n basiese inkomste aan te vul.

Woensdag 10 Junie 1998

Hier volg die konklusie van bogenoemde bespreking: Johannesburg bied tans vir my al die geleenthede wat ek wil aangryp, en dit stem die meeste ooreen met wat ek tussen Februarie en April in Korea besluit het. Ander opsies, soos English Teaching in die Ooste, of om Engeland toe te gaan, bied voordele wat Johannesburg nie noodwendig bied nie. Maar alles in ag genome, vergestalt Johannesburg tans by verre die meeste van dit wat ek nou met my lewe wil doen, en waarin ek belangstel.

______________________