Die entrepreneur opsie en ander moontlikhede

Donderdag 14 Mei 1998

Die kruispad waarby ek nou staan, is aan die een kant om soos ’n poep te wees – vir ’n klein rukkie te stink voor ek in die niet verdwyn. Aan die ander kant kan ek die uitdaging aanneem wat voor my lê: om my rekening (by wyse van spreke) met die establishment te vereffen, en dan die vryheid te hê om te kan kies wáár, hóé en op watter terme ek ’n verhouding met hierdie establishment sal hê.

Woensdag 27 Mei 1998

Dis my vierde week terug in Suid-Afrika.

Een aspek van my beplanning in Korea waar detail redelik skaars was, was die sogenaamde “entrepreneur projekte”. Wat sou dit behels? Ek het geweet dis ’n swakpunt in my beplanning, maar ek het gereken as ek eers by die huis is, sal ek met mense kan praat wat meer weet van hierdie dinge.

Dis drie weke later. Wat ek uitgevind het sover, bevestig wat ek vermoed het. Om die waarheid te sê, as jy ernstig is daaroor om geld te maak – wat ek vermoed meeste mense nie werklik is nie, is daar meer as genoeg boeke beskikbaar oor alles wat ’n mens nodig het om te weet.

Kortom, as jy glo geld gee jou mag, en jy’s desperaat genoeg om hierdie mag te bekom, is die pad wat jy moet loop nie ’n hoogs geheime, slegs bekend aan ’n gelukkige minderheid vergroeide voetpaadjie nie. Dis ’n goed gekarteerde pad, dog ’n pad wat ek glo meeste mense – wat die potensiaal het om dit te kan loop – nie kies om een of ander rede nie.

Een probleem wat ek wel het, is dat om ’n projek aan die gang te kry en dit sover te ontwikkel dat dit geld maak, jy ten minste ’n paar maande nodig het. Daar is natuurlik projekte wat vir jou vinniger ’n inkomste kan gee, maar weereens vat dit tyd om aan so ’n projek te dink.

Feit is, jy kan nie in ’n kombuis ingaan en dink jy gaan ’n meesterstuk opkook net omdat jy honger is nie. Selfs die beste sjefs het sekere dinge nodig: die regte bestanddele (geld), ’n goeie resep (metodes, konkrete planne, of spesifieke projekte) en tyd (as die sjef nie genoeg tyd het nie, gaan die eindresultaat rou wees, of dit gaan bloot platval).

Wat stel ek voor? Ek mag dalk minder as ses maande nodig hê om ’n suksesvolle projek te loods, maar vanuit die staanspoor moet ek voorbereid wees om ten minste só lank te spandeer op navorsing en voorbereiding. Ek moet ook finansieel voorbereid wees om in al my behoeftes te kan voorsien vir ten minste ses maande.

’n Plan van Aksie, dus: ’n Goeie plan vandag is beter as ’n perfekte plan môre. Ek moet ’n Plan van Aksie formuleer vir Vandag, in ag genome Vandag se Situasie, Vandag se Probleme, en Vandag se Behoeftes. Ek moet alles wat ek voorheen gesê het, heroorweeg, en alles herbeplan in ag genome die kennis wat ek vandag het oor my situasie.

Nou goed, ek gaan nie maande se gedagtes hier opsom nie. Dis voldoende om te sê ek soek steeds na dieselfde ding, naamlik die vermoë om keuses te kan maak en te kan oorgaan tot aksie. Hoe ek hierdie vermoë gaan bekom, is slegs ’n middel tot ’n doel.

Wat toewyding aan ’n middel betref – kom ons noem dit argumentsonthalwe ’n “plan” – kan ek sê dat ek nie tans besig is met ’n spesifieke idee nie. Dit kan gesê word dat ek in ’n oorgangsfase is tussen Korea en die Volgende Plan. Dit is wat ek nou hier sit en doen. Ek is besig om die Volgende Plan te bedink.

[Hierdie stuk is een van die redes hoekom ek tussen 1999 en 2004 soveel keer so naby daaraan gekom het om Taiwan te verlaat en terug te gaan Suid-Afrika toe, en tog nooit die stap geneem het nie. Ek het dit gevrees om weer by iemand anders se kombuistafel te sit en hierdie tipe joernaalinskrywing te maak.]

______________________