Storie van twee reisigers

Vrydag 27 Maart 1998

Laat ek jou ’n storie vertel van twee reisigers. Die een ou kom by ’n kruispad. Hy kyk in elke rigting, stap na die kassies wat by die begin van elke pad staan en neem ’n brosjure van elk. Dan lees hy elkeen sorgvuldig deur. Na ’n tyd gaan sit hy eenkant op ’n rots en vra hardop vir homself: “Watter een van die paaie moet ek vat?” So hou hy aan met dink, en die tyd gaan verby.

Die seisoene kom en gaan, en steeds sit hierdie ou op sy rots by die kruispad. En hy dink. Elke nou en dan haal hy ’n notaboekie uit sy hempsak en maak ’n paar aantekeninge. Dan dink hy nog. Van tyd tot tyd staan hy op, stap vir ure lank in die rondte, stop elke nou en dan, maak weer ’n paar aantekeninge, en gaan sit weer.

So sien hy ander mense kom en gaan. Soms sien hy iemand indraai by ’n pad, net om ’n paar maande later te sien hoe dieselfde persoon weer uitstruikel met ’n paar kneusplekke, ’n wond of twee, en miskien ’n hemp of ’n baadjie wat ’n skeur weg het. Dan sal hierdie persoon ’n rukkie staan, sy asem terugkry, en by ’n ander pad indraai. Die ou op die rots sal net sy kop skud, en weet hy doen die regte ding om eers te dink oor dinge. Hy wil tog nie soos daai ou opeindig nie, sal hy altyd reken. Later sal hy weer al om die rots stap, in dié rigting kyk, in daai rigting kyk, notas maak, en weer gaan sit, gesig in die hande.

Toe, een helder herfsdag, verskyn daar ’n ander ou op die horison. Toe hy by die kruispad kom, gaan sit hy op sy hurke. Hy snuif vir ’n oomblik die lug, kyk in ’n oostelike rigting, dan noord, en dan wes. Dan staan hy op, gooi sy sak weer oor sy skouer, en draai by een van die paaie in.

Die man op die rots hou hierdie ou dop. Soos die man wegstap, klap die ou op die rots sy tong en skud sy kop. Hoe kan hierdie man dan sommer net so besluit, wonder die ou, terwyl hý al jare daar sit en peins oor watter pad hy moet vat? Na soveel voorlopige konklusies, soveel stories wat mense hom vertel het oor die verskillende paaie, kan hy nog steeds nie besluit watter pad die beste is nie!

Vererg spring die ou toe van sy rots af en roep agter die man aan. Die man, wat alreeds ’n ent weg is, gaan staan, en kyk om. Die sitter drafstap hom tegemoet.

“Wag ’n bietjie … ek het jou dopgehou van daai rots af,” sê hy toe hy by die ou aankom, “en ek het gesien hoe jy hier arriveer. Ek het gesien hoe jy die lug snuif, en sommer net ’n rigting instap. Ek sit al hier vir jare lank. Ek weet alles van al die paaie af. Ek het al baie mense gesien kom en gaan, en ék kan nog steeds nie met sekerheid sê watter pad die beste is vir my nie. Meeste mense huiwer ten minste ’n dag of twee voor hulle ’n pad kies. Maar jý? Jy snuif die lug en begin net te stap! Hoe kan jy so seker wees van jou keuse?!”

Die ou kyk na die sitter, sug dan, en sê: “Jy sit nou al vir jare op daai rots. Jy’t al die opsies oor en oor bedink, heel moontlik al boeke vol aantekeninge gemaak. Maar wat het jy van al die jare se sit en dink? ’n Rots, en dis nie eens jou eie nie!

“Soos jý weet ek daar’s struikelblokke in hierdie pad wat ek gekies het. Daar wag mooi dae … en daar wag heel waarskynlik onweersdae, omstandighede wat my sal laat twyfel of ek die regte pad gekies het. Elke pad het hierdie elemente van onsekerheid.

“Die idee,” gaan die ou voort, “is nie om die pad te kies met die minste struikelblokke nie. Die idee is om jouself toe te wy aan ’n pad ongeag die struikelblokke, ongeag die risiko’s, ongeag mooiweer of onweer. Om jouself toe te wy aan ’n pad tot jy die einde van daai pad bereik het.

“As jy jouself toewy aan ’n pad, aanvaar jou medereisigers jou. Dan weet jy: jy hoort op daai spesifieke pad, op daai spesifieke tyd.

“By elke kruispad sien ek mense soos jy, mense wat vir jare lank op ’n rots sit en met hulleself argumenteer oor watter pad die ‘regte’ een is. Daar is nie ’n absolute ‘regte pad’ nie! Wat daar is, is toewyding. En dít kan enige pad die regte pad vir jóú maak.”

Die sitter laat sak met die hoor van hierdie woorde sy kop, en staar peinsend voor hom in die stof. Toe hy weer opkyk, is die ander ou reeds oor die eerste heuwel.

* * *

’n Paar dae later kom ’n afgematte reisiger by die kruispad aan. Hy sien eenkant ’n rots, en stap soontoe. In die lig van die laatmiddagson vang sy oog ’n inskripsie: Die regte pad vir jóú, is die pad waaraan jy toegewyd is. En as jy toegewyd is aan ’n pad, is dit die regte pad vir jou.

______________________

Toewyding en plek

Woensdag 25 Maart 1998

In die eerste drie jaar na my laaste eksamen op universiteit, het ek kwaai geworstel met die idee van “commitment”. Ek het nie die vaagste benul gehad waaraan ek myself moes “commit” nie. Ek was ook onwillig om myself toe te wy of te verbind tot iets as daar ’n moontlikheid was dat dit sou misluk.

As ’n mens nie ’n fokuspunt in jou lewe het nie, as jy nie toegewyd is aan enige iets nie, is jy gewoonlik intens bewus van die effek wat hierdie toestand het op jou gemoed. Kort na ek klaargemaak het met universiteit (wat my gelaat het met duisende rande se skuld), het ek Europa toe gegaan vir ’n paar weke (nog meer skuld). Wat ek ook al probeer doen het met die reis, dit het nie geslaag nie. Toe het ek vir meer as ’n jaar rondgeswerf in die hoop dat “iets sal gebeur” wat my rigting sal gee, dat ek iets sal vind waaraan ek myself kan “commit”.

Uiteindelik het ek weer pad gevat na ’n vreemde land toe. Ek het geweet ek moes iets vind wat die leemte kon vul wat ’n gebrek aan toewyding gelaat het. Of miskien het ek gedink die blote feit dat ek in die buiteland woon, weg van die druk van skuldeisers, selfs weg van familie en vriende, sou genoeg wees – vir eers.

Wat ek natuurlik uitgevind het, was dat dit nie help om te ontsnap as jy nie van jouself kan wegkom nie. Ek kon nie wegkom van die gevoel binne my dat ek nêrens behoort nie. As jy nie toegewyd is aan iets of iemand nie, gaan jy nie voel asof jy behoort nie. En as jy nie voel asof jy behoort nie, ervaar jy wat sommige akademici noem eksistensiële angs.

’n Mens kan vir ’n tyd lank dinge doen om op te maak vir die afwesigheid van toewyding in jou lewe, maar as hierdie maatreëls se effek begin vervaag, of as jy verveeld raak daarmee, is jy terug by die begin.

Waaraan wy mense hulleself toe? Jy kan jouself toewy aan ’n religieuse entiteit, ’n idee, ’n droom, ’n ideaal, of jy kan jouself toewy aan iemand anders, aan ’n groep, of selfs ’n subkultuur. Dit waaraan ek myself wil toewy moet gewigtig genoeg wees om my fokus te kan behou en my verbeelding aan te gryp. Dit sal ook help as dit van so ’n aard is dat ek in my daaglikse behoeftes kan voorsien deur myself besig te hou daarmee.

Ek is sekerlik ’n dromer, maar ek is ook realisties. Ek het al genoeg gesien en genoeg ervaar om te weet watse tipe lewe jou voorland is as jy nie vry is nie; as jy nie keuses kan maak en keuses kan uitoefen nie. Ek weet hoe voel dit as jy nie weet wanneer jy uit jou huurhuis geskop gaan word nie, of wanneer jy weer gaan aansit vir ’n behoorlike bord gekookte kos nie; as jy nie weet of die volgende klop aan die deur dalk die balju is nie. Ek weet hoe dit voel om drome te hê, maar nie te weet of ’n fraksie daarvan ooit waar sal word nie.

Ek kan dus met ’n redelike mate van sekerheid sê dat ek toegewyd is aan die idee van vryheid – vryheid van skuldslawerny, en vryheid van armoede. Ek kan verder gaan en sê dat ek toegewyd is daaraan om ’n posisie te bereik waar ek oor verskeie opsies sal beskik, en om die nodige hulpbronne tot my beskikking te hê om keuses te kan uitoefen; ook om oor die vermoë te beskik om meer te gee as wat ek vra. Dit maak derhalwe dan net sin om myself te verbind aan ’n pad wat sal lei na finansiële welstand – nie as ’n eindbestemming nie, maar as ’n weg tot vryheid.

Laastens, waar is ’n beter plek om myself toe te wy aan bogenoemde ideale anders as die stuk aarde waar ek gebore was en waar my diepste wortels steeds geanker lê?

______________________

Een enkele faktor

Dinsdag 24 Maart 1998

Alles wat ek nog altyd gesê het oor vryheid, finansiële skuld, my eie ideale, my ambisies, my drome, die strewe om my eie potensiaal te bereik, en om te leef soos ek graag wil leef, kristalliseer rondom een enkele, noodsaaklike voorvereiste. Ek het al genoeg gesien, ervaar, gelees en gehoor om te verstaan hoe belangrik mag is: Mag om keuses te kan maak, en keuses te kan uitoefen. “Kto kgo?” het Lenin gevra. “Who (masters) whom?”

As jy nie vir die res van jou lewe die rol wil speel van die dienskneg, die skuldenaar, die persoon in selfopgelegde ekonomiese ballingskap nie, moet jy ophou hardloop en begin werk, doelgerig, daadwerklik, met ’n enkele doelwit voor oë: om te bekom wat jou vry gaan maak – van skuldeisers, van balju’s, van armoede en ’n onbeduidende bestaan, en vry van ekonomiese meesters wat oor jou baas wil speel.

As ek in die eerste plek wil oorleef, en daarna in staat wil wees om meer uit die lewe te kry as blote oorlewing, en om oor die vermoë te beskik om keuses te kan uitoefen, moet ek werk daaraan om te beskik oor die een enkele hulpbron wat hierdie dinge vir my moontlik sal maak: finansiële welvaart. Dis al wat oorbly.

Makliker gesê as gedaan? Nie as dit jou hele lewe sover, jare se armoede, skande, verleentheid, en frustrasie gevat het om by die punt te kom waar jy besef dat dit die primêre middel is tot soveel wat jy hoop om te bereik nie.

______________________

Wie se onbenydenswaardige posisie?

Woensdag 18 Maart 1998

Ek het die afgelope tyd weer diep onder die indruk gekom van sekere patrone in my lewe: my ouers se finansiële situasie, my eie finansiële rekord, my toenemende paranoia oor die teistering en moontlike regsoptrede wat ek in die gesig staar oor my onbetaalde skuld.*

’n Ander gedagte het my egter onlangs soos ’n bliksemstraal uit die bloute getref: Ek het die laaste sewe of agt jaar uitsonderlike geleenthede gehad om dinge te verstaan. Dit sluit in teologie, geskiedenis, politiek, sielkunde en mees onlangs, ekonomie.

As ek ’n saak wil uitmaak oor my onbenydenswaardige persoonlike ervarings van armoede, die probleme wat mens in die gesig staar as gevolg van finansiële skuld, en die effek wat dit het op mens se selfbeeld en selfvertroue, dan hoef ek nie veel tyd te spandeer om so ’n saak te argumenteer nie. Maar ek kan sekerlik ook ’n saak oortuigend stel oor die geleenthede wat ek sover gehad het, en steeds het, om te verstaan.

———–

* Ek het teen hierdie tyd verneem van die bank dat ek redelik spoedig my studielening moes begin terugbetaal, anders sou ek redelike ongename gevolge moes verduur.

______________________

Die sekulêre monnik (wat ’n nuwe klooster soek)

Sondag 15 Maart 1998

Ek sien myself soms as ’n voormalige monnik wat sy geloof verloor het – of een wie se godsdiens hom verloor het, en wat nou opsoek is na ’n sinvolle bestaan in die sekulêre wêreld.

Ek is egter nog nie ten volle betrokke in hierdie “nuwe” wêreld nie. Daar is weë van hierdie wêreld waarmee ek nie vertroud is nie, waarmee ek selfs ongemaklik is, veral in vergelyking met individue wat hul volwasse lewens tot dusver uitsluitlik geleef het in ’n sekulêre samelewing.

* * *

In vergelyking met meeste mense wat ek hier ken, is ek nie ’n groot sukses as ’n sogenaamde “backpack traveller” nie. Terwyl hulle swerf van een land na ’n ander en interessante plekke eerstehands ontdek, verkies ek om vir ’n tyd lank kamp op te slaan op een plek, en op ’n Sondagmiddag tydsaam deur ’n hoop koerante te werk.

’n Bietjie pateties, miskien? Hoekom? Daar sal altyd mense wees wat meer gedoen het as jy, meer gesien het as jy, meer en maller mense ontmoet het as jy, en in meer en vreemder lande meer en vreemder dinge gedoen het as jy.

Ek moenie probeer om in ander mense se voetspore te volg net omdat ek dink my manier van leef is minder indrukwekkend as hulle s’n nie.

Hou op om te kompeteer met ander mense, sê ek. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou. As dit nie vir ’n beter rede is nie, doen dit omdat jy dan nie jouself teen ander mense hoef op te weeg en jouself te lig te bevind nie, terwyl daai maatstaf maar net een uit ’n miljoen is.

______________________