Idee vir ’n “storie”

Woensdag 11 Junie 1997

’n Man in sy middel-twintigs kom na amper ’n jaar in ’n vreemde land tot die konklusie dat sy identiteit ’n produk is van voorstedelike middelklaskultuur. Hy het in die verlede geweet wat sy gevoelens was oor hierdie spesifieke sosio-ekonomiese realiteit, maar nou herken hy dit ook as die demoon wat die hardste agter hom aanblaf, wat die meeste vir hom grom in die middel van die nag.

Die middelklas suburbia waar sy wortels lê, is egter nie die een wat mens sien op TV of in movies nie. Sy ouers was gereeld platsak, en sy gesin het vir lang periodes turbulensie ervaar. Om die waarheid te sê, vir jare was hulle net op die oppervlak middelklasmense. As jy net so met ’n pinkienael gekrap het, het jy hulle ontbloot vir wat hulle in werklikheid was: armblankes wat vir die laaste tien of vyftien jaar nie gereeld genoeg die kar, die geld, of, for that matter, enige decent job gehad het nie, en wat gereeld koue rillings gekry het aan die gedagte van die balju met sy gejelde kuif en sy wit Toyota wat enige dag aan hulle voordeur kon kom hamer om alles op te eis wat hulle besit.

Tog het sy ouers altyd gestreef daarna om aanvaar te word in die middelklas … Hoekom? “Dit gaan oor die tipe mense wat ons is.”

Ten spyte daarvan dat sy gesin nooit werklik behoort het in die voorstede nie, sukkel die hoofkarakter met wat hy glo sy middelklaserfenis is – kultuur, voorkoms, en idees van wat ’n volwassene met sy lewe moet doen.

Feit van die saak is, en dit behoort niemand te verras nie, hierdie karakter verag voorstedelike middelklaskultuur! Die dinge waaraan hulle soms waarde heg … die kleinlikheid … die vrees en angs oor wat dit aan jou status sal doen as iets verkeerd moet loop. Dis een stap weg van die graf! Die “petite bourgeoisie”? Dis presies wat dit is! Die klas van kleinlikheid!

Die vraag is nou, hoe verwerk die hoofkarakter van hierdie storie sy onversetlike veragting vir wat hy ag as die bron van sy identiteit?

______________________

Dis hoe ek toe gevoel het

Sondag 8 Junie 1997

Goed, ek gaan later hierdie inskrywing lees en dink: “Shit, so dis hoe ek toe gevoel het!”

Ek haat Korea. Ek fokken haat dit hier. Ek kan dit nie meer vat nie. Ek is eensaam, afgesny van my familie, en afgesny van my taal en my kultuur. I’m basically just hanging on.

Ek voel soms soos ’n gevangene. Mense praat met my in die openbaar, en ek voel asof ek verplig is om beleefd te wees. Ek kan nie vir hulle sê om aan te beweeg en my uit te los nie.

Kan jy glo dat ek maande gelede, sê Februarie/Maart, so positief was op tye? Hier sit ek op die fokken vooraand van die tweede week van JUNIE, vier en ’n halwe weke voor ek huis toe gaan, en ek voel asof ek in my broek gaan skyt van net genoeg!

Oukei, so dis Sondag. Ek het drie dae van op my eie wees … oorleef. Wat verwag ek? Dat ek goed moet voel?

Ek sal aan die einde van hierdie week beter voel. Hierdie week sal ek my werkpermit uitsorteer, en aan die einde van die week is dit net nog drie en ’n halwe weke voor ek huis toe gaan …

______________________

Die lewe is ’n treinreis

Sondag 1 Junie 1997

Die trein het net na middernag amper geluidloos die stasie binnegeseil. Ek het ’n kompartement gedeel met ’n paar Koreane, ’n Kanadese vriend en sy Aussie girlfriend, en ’n dronk kennis wat vinnig besig was om aggressief te raak.

Die stasie was verlate. In die wagkamer was ’n TV en ’n videomasjien. Scarface met Al Pacino het gewys, maar daar was iets verkeerd met die beeld.

Dit was warm. ’n Storm was aan die broei êrens in die verte, en die wind het geruk aan die houtraamspieël langs die venster.

Nog ’n deel van my reis was afgehandel, en nog ’n deel het begin. Die stasie se naam: JUNIE 1997.


Uitstappie na die platteland, Suid-Korea – Junie 1997
Saam met twee studente – Junie 1997
Saam met kollega en leerlinge – Junie 1997
Middagete saam met ’n vriend – Junie 1997
Sitkamer – Junie 1997
Tempel in die platteland – Junie 1997

______________________