Fases en vrae

Donderdag 27 Maart 1997

Ek het sopas ’n paar inskrywings gelees van verlede jaar. Hoe het dinge nie verander nie!

Anyways, dalk moet ek begin met ’n breakdown van my situasie op 27 Maart 1997. Ek sit met omtrent twee miljoen won [USD2000/R10 000] in die bank, omtrent ₩28,000 [USD28/R140] in my beursie, en ₩320,000 [USD320/R1,600] in my kas. Oor ’n week word ek weer betaal – omtrent ₩840,000 [USD840/R4,200]. Ek is al amper nege maande in Korea. Na maande se verlange, planne om vroeër huis toe te gaan, en gatvolgeit met Korea het ek nou ’n plato bereik – ’n baie gemaklike plato.

Ek het sover deur vier fases gegaan: Die eerste fase was een van ontdekking en aanpassing (omtrent drie maande); toe die “Shit! Dis nog so lank voor ek kan huis toe gaan!” fase (omtrent drie maande); daarna die fase van neutraliteit – jy’s nie vreeslik positief oor die plek nie, maar jy is ook nie oordrewe negatief nie (omtrent twee maande); en uiteindelik die fase van gemak en sekuriteit wanneer jy sê, “Jy weet wat? Met ’n paar ekstra posters teen die muur, ’n paar ekstra kledingstukke en so aan, kan ek maklik nog ’n jaar bly!”

Hierdie mees onlangse fase is inderdaad nie sleg nie. Ek het geld in die bank, die dae en weke gaan op eentonige reëlmaat verby, en my leef- en werkomstandighede is gemaklik. Ek is gewoond aan alles – my werk, my kamer, my bed, my sosiale aktiwiteite. En die feit dat ’n ou geld in die bank het, en ’n salaris verdien … who would want to leave something like this?

Dis my probleem – ’n heel nuwe, ongekarteerde eksistensiële krisis. Moet ek aanbeweeg, presies omdat ek dalk te gemaklik raak, met my bewussyn van sekerheid wat amper uitsluitlik berus op die voortsetting van my huidige situasie, of moet ek die sekerheid wat ek tans ervaar, koester vir die tyd wat dit vir my geleen word?

Is dit tyd om aan te beweeg, want die stepping stone is amper glad getrap, en ek moet oppas dat ek nie gly nie, of is dit ’n geval van moenie die gans doodmaak wat die goue eiers lê nie?

Is Korea steeds net ’n stepping stone vir Europa, of is dit inderdaad ’n stepping stone towards a position where I could really make some choices?

Laaste opmerking: ek moet altyd gereed wees om aan te beweeg.

______________________

Vandag is primitief – leer om dit te waardeer

Sondag 16 Maart 1997

Gedagte vir die dag: Waardeer die primitiwiteit van die wêreld waarin jy tans leef.

In plaas daarvan om die verlede binne te stap en te waardeer hoe dinge in ’n vroeër tyd was, dink aan die toekoms, en verbeel jouself hoe dinge sal wees vyftien, twintig, honderd jaar van nou af. Wees dan terug in die hede en waardeer hoe “oud” alles is – van toilette tot rekenaars, en telefone, koerante, boeke, vuurhoutjies, sigaretaanstekers, sigarette, afskroefdoppies, penne en potlode, karre, busse, fietse, toiletpapier, klere, yskaste, radio’s, deure met slotte en sleutels, wyserhorlosies, beddens, beddegoed, flieks in teaters, TV’s, wyn, bier, steak-en-chips, skottelgoed, wasgoed, skeermesse en skeerseep, tapes, CD’s, 14-uur vlugte oorsee, briewe met seëls (“mense sou klein prentjies koop wat ’n bepaalde hoeveelheid geld werd was, die prentjie druk teen die tong om die gom te aktiveer, en dit dan in die hoek van ’n papiersakkie – oftewel ’n ‘koevert’ – plak), joernale waarin mens om 02:30 in die oggend inskrywings maak …

Ek meen, kyk net hoeveel dinge het verander in die afgelope honderd jaar! Kan jy jouself voorstel hoe dinge gaan verander in die volgende honderd jaar met die “tools of technological advancement” wat geskep is in hierdie eeu!

Vraag: Waar pas “social revolutionaries” in hierdie toekoms in?

______________________

Ek voel die huis, hoor die sekondes tik, maar dink langtermyn

Donderdag 16 Januarie 1997

Dis baie vreemd. Ek dink die effek van 25 warm Januaries in Suid-Afrika is besig om sy tol te eis. Ek is hier in die noordelike halfrond waar die temperatuur wissel tussen minus vyf en vyf grade Celsius, maar my gees is nie hier nie. Dis besig om knoffelpizza te eet en Black Label te drink êrens in Stellenbosch. Dit kuier saam met [my jonger suster] – in Pongola se Wimpy Bar, for that matter. Ek is orals in die warm Kaap, ten spyte van die feit dat ek koud kry in Korea op die oomblik.

Die snaakse ding is, ek voel werklik daai plekke – ek ervaar dit!

Ek reken die positiewe assosiasie met somer het te make met die feit dat ek Korea gaan verlaat en sal terugkeer Suid-Afrika toe wanneer dit weer warm raak hier.

Gevolgtrekking? Hoe warmer dit raak in Chonju, hoe nader is ek daaraan om huis toe te gaan.


Saterdag 15 Februarie 1997

(Sesuur die oggend, Seoel-treinstasie)

Dis hoe dit is: Woensdagaand het dit na ’n gesprek met [my baas se seun] geblyk dat daar ’n misverstand was oor die vliegtuigkaartjie. Hy het vir sy ma gevra of sy vir my ’n kaartjie sal koop as ek na ’n jaar wil huis toe gaan … vir ’n vakansie. Sy was toe nog besig om dit te oorweeg.

Ek het eers na die gesprek begin dink. Ek het self nog nooit die moontlikheid oorweeg om na ’n jaar vir ’n vakansie huis toe te gaan en dan terug te kom Chonju toe nie. Ek het vroeër die aand gepraat met [die Suid-Afrikaanse ou wat ek in Seoel ontmoet het die dag toe ek gearriveer het], en hy’t genoem dat hy beplan om so R50 000 huis toe te vat.

Dit het my in die bui geplaas om rond te neuk met die idee. Wat sou ek doen as ek tog nog ’n jaar moes bly?

Ek het gedink aan subskripsies aan koerante en tydskrifte; om aan te sluit by ’n Internet-plek; selfs om ’n telefoon te kry. Toe reik ek teen my sin en beter wete na my calculator. ’n Vinnige berekening bring my toe ook by ongeveer R50 000 se spaargeld. Dis obseen! ’n Werklike moontlikheid om my skuld te begin afbetaal!

Toe dink ek, maar goeie fok, ek kan dit nie nog ’n jaar in hierdie plek uithou nie! En wat van my planne om Kaap toe te gaan, en ’n paar weke by die huis te spandeer, en om Europa toe te gaan?

Dit bring my toe by ’n ander teer sakie. ’n Dag of drie gelede het ek gedink wát ek ook al gaan doen na Korea moet oorweeg word teen die agtergrond van die bigger picture: Wat beplan ek om te doen met my lewe oor die volgende paar jaar?


Donderdag 6 Maart 1997

Om te dink aan die langtermyn – om nog tien maande hier te bly – is abstrak. September … Augustus, is net flitsende gedagtes. Ek vind dit dus nie moeilik om myself te motiveer daarvoor nie, veral nie as ek dink aan wat daarna kom nie.

Die korttermyn – soos die volgende twee klasse – is vir my ’n uitdaging wat motivering betref. Dis konkreet. Dis opkyk, hiernatoe kyk, daarnatoe kyk, afkyk, iets sê, iemand ’n vuil kyk gee, opstaan, rondloop, en te voel hoe die sekondes … verby … tik. Dan dink ek, oukei, dis nog twee klasse … en dan … basies, fokkol.

Ek het iets nodig om myself te motiveer – konkrete motivering vir die hier-en-nou.

______________________