“Jakob” skryf ’n storie

Donderdag 18 April 1996

Aangesien ek nog steeds wag vir die groen lig om Korea toe te gaan, moet ek iets kry waarmee ek myself sinvol kan besig hou en waarmee ek my onrustigheid kan kalmeer.

Hier volg dus nou ’n storie wat goed moet wees, want dit moet opmaak vir die feit dat ek nog in Pretoria sit. Ek moet myself kan troos dat as ek nou al in Korea was, ek nie hierdie storie sou geskryf het nie.

Die storie is natuurlik heeltemal fiktief.

———–

Jakob is nou al drie weke by sy suster in Pretoria, wagtende vir iets om te gebeur sodat hy kan vertrek – weg, na ’n vreemde land toe. (Sy suster is finansiële bestuurder by ’n plaaslike konstruksiemaatskappy. Sy woon in ’n klein woonstel – een slaapkamer, sitkamer en ’n kombuis – in ’n woonstelbuurt op die rand van die middestad. As die oudste kind het sy al geleer om geduldig te wees met haar jonger broer en suster, veral siende dat hulle skynbaar geen idee het wat om te maak met hulle volwasse lewens nie. Dis reeds die tweede keer in drie maande wat sy aan een van hulle haar spaar matras, ’n kussing, ’n paar komberse en spasie op haar sitkamervloer moet voorsien.)

As Jakob ver genoeg terugstaan van die hele situasie, sien hy dit vir wat dit is: ’n gewag op iets groters in die lewe, iets wat miskien ook aan hóm ’n plek in die son sal gee. Hy weet ook die huidige situasie is bloot die volgende hoofstuk in sy verhaal, ’n voortsetting van ’n fase in sy lewe wat begin het die dag toe hy sy laaste vraestel op universiteit geskryf het. Die tyd het toe aangebreek wat hy moes besluit in watter rigting hy sy lewe gaan vat, siende dat sy vriendin op universiteit, Karien, hom oortuig het om tydelik af te sien van sy ideaal om ’n kluisenaar te word – wat sy hare en baard sou laat groei, en net nou en dan sy gordyne sou ooptrek om te sien watse seisoen dit is. (Dan weer, selfs kluisenaars het deesdae ’n inkomste nodig.)

Enkele maande voor sy gradeplegtigheid het hy besluit om die onvermydelike lewenslange stryd om geld, huis en kinders tydelik op die agtergrond te skuif. Hy sou eers gaan reis vir ’n paar maande. Hy’t geweet dit sal nie noodwendig aan hom ’n plek in die son besorg nie, maar soos hy aan iemand verduidelik het oor ’n bier een aand, die landskap van ’n vreemde bestemming sou hom hopelik moed gee vir lewe in die hoofstroom, en ’n bietjie inspirasie.

So het hy Europa toe vertrek. Die plan was om êrens te werk vir ’n paar maande, ’n paar lande te besoek, en dan op ’n mooi lentedag terug te keer en sy jonger suster in Stellenbosch te verras. Hy sou haar by Bakoven inwag op haar pad terug van die skool af. Dan sou hy haar die middag vertel van alles wat hy gesien het, en van al die interessante mense wat hy ontmoet het. Sy sou luister soos een wie se wêreld, met elke woord, voor haar oë verbreed. Sy sou ’n opmerking maak oor sy lang hare en sy baard, en van mening wees dat mense hom nie eers sou herken nie. Hy sou ’n pelgrim wees wat skielik huis toe gekom het.

Vyf weke na hy Europa toe vertrek het – nie lank genoeg om veel van ’n verskil aan die hare of die baard te maak nie, was hy terug. ’n Paar mense wat verbaas gevra het, “Nou al?” het hy geantwoord met dieselfde illusie waarmee hy sy eie teleurstelling probeer verdoesel het: Hy het net sy “sake kom afhandel”. Hy sou weer vertrek “binne die volgende maand of drie”.

Maande van armoede en vervaagde hoop het gevolg.

Mense wat hom uitgevra het oor hoekom hy steeds in Stellenbosch is, het hy geantwoord met nog ’n halwe waarheid: Hy’t besluit om eerder sy suster deur matriek by te staan aangesien hulle ouers nou in ’n ander deel van die land woon.

Teen Kersfees was hy platsak. Sy suster was toe reeds weg – na hulle ouers se nuwe blyplek in KwaZulu-Natal. Hy het agtergebly in die munisipale woonstel met maande se onbetaalde elektrisiteitsrekeninge, en huurgeld wat driftig op pad was in dieselfde rigting. Om aan die lewe te bly het hy die meubels verkoop, totdat net ’n paar komberse en kussings, en ’n geleende swart-en-wit TV oorgebly het. Die krag – soos hy verwag het – is afgesny vroeg in Januarie. Hy’t die aande op sy beddegoed op die andersins kaal sitkamervloer in donkerte deurgebring.

“My lewe het begin stagneer,” het hy een aand gedink. Dat hy vorendag moes kom met ’n plan om uit die gemors te kom waarin hy gesit het, was nie altemit nie.

’n Maand na Kersfees het hy sy oorblywende goed in bokse gepak, meeste daarvan by ’n vriend gestoor, en sy 1967 Wolseley wat al vir amper ’n jaar gestaan en blare vergaar het onder ’n boom, te koop aangebied in die Eikestadnuus. ’n Paar dae na die kar verkoop is, het hy die trein gevat noorde toe. Dié jaar sou anders wees, het hy geglo. Hy was gereed, inderdaad uitgehonger, vir nuwe ervarings.

Nie lank na hy in die stowwerige dorp, Pongola, in KwaZulu-Natal, aangekom het nie, kry hy ’n oproep van ’n Suid-Afrikaner wat woon en werk in Seoel, Suid-Korea. Hy’t onmiddellik teruggedink aan die dag in Desember toe hy die advertensie vir Engelse onderwysers in die Cape Times gesien het (“Teach in Korea,” het die opskrif gesê, met ’n naam en ’n nommer). Hy kon onthou hoe entoesiasties hy hom teruggehaas het woonstel toe om te reageer op die advertensie. Die Suid-Afrikaner in Seoel het hom gevra of hy nog belangstel. “Dit sal ongeveer vyf weke duur om al die reëlings af te handel,” het die stem belowe. Jakob was verseker hy was eerste op die lys van nuwe onderwysers.

“Die oplossing vir al my probleme het gearriveer!” het Jakob opgewonde gedink.

Vyf weke is vinnig besig om drie maande te word. Intussen wag hy maar, meestal op die bank in sy suster se woonstel. Hy slaap op die sitkamervloer, rook die goedkoopste sigarette op die mark, drink koffie, en eet toebroodjies. Hy lees oor modes en verhoudings in sy suster se tydskrifte, probeer volg wat in die wêreld aangaan op ’n TV wat meer strepe en kolle wys as enige iets anders, en stap elke oggend OK Bazaars toe – vir die oefening, maar ook omdat dit soms beter is om na enige plek toe te gaan as om nêrens heen te gaan nie.

Jakob het ’n lang pad gekom ná sy laaste vraestel op universiteit. Miskien, reken hy, sal dit ’n goeie idee wees om ’n paar draaie te gaan loop deur die bekende landskap van sy geboortestad.

———–

Goed, dis nie ’n meesterstuk nie … en dis nie heeltemal fiktief nie.

Dalk moet ek gaan koffie drink êrens om die illusie te skep dat ek nie die hele dag in my suster se sitkamer spandeer nie.

______________________

Terug na 15 April 1996 om 19:56 en 25 sekondes

Maandag 15 April 1996

Ek is amper 25 jaar oud, amper halfpad deur wat beskryf word as die beste jare van mens se lewe. Ek het al glimpses daarvan ervaar, maar ook die downside – die rusteloosheid, die onsekerheid, en die finansiële en emosionele onstabiliteit. Ek is oortuig daarvan dat as ek my twenties kan oorleef, ek oukei sal wees.

[…]

Ek oorleef somber oomblikke met ’n versigtig optimistiese geloof in my toekoms. En ek praat nie van die verre toekoms nie; ek praat hier na die volgende vyf jaar, wat oorbly van my twintigerjare. Ek glo dat ek voor ’n opwindende periode van my lewe staan. Ek glo ek gaan meer van die wêreld sien. Ek gaan ook skaaf aan my identiteit op kreatiewe wyses. Dalk sal ek die immer ontwykende “liefde van my lewe” ontmoet. En ek glo, of hoop, dat ek somewhere down the line, binne die volgende vyf jaar, stabiliteit in my lewe sal ervaar.

Terug na 15 April 1996 om 19:56 en 25 sekondes, 26 sekondes, 27 sekondes, 28 sekondes … 58 sekondes. Hierdie is ’n vlietende oomblik en dag in my lewe, en in hierdie tydperk van my aardse bestaan. Dit sal verbygaan. Ek sal ’n metamorfose ondergaan en uiteindelik wakker word in ’n nuwe tyd van my lewe. As ek eendag terugkyk na 15 April 1996, sal ek sien dat dit net ’n vlietende oomblik, net ’n deeltjie van ’n groter geheel was, of ’n porsie van ’n groter deel wat uiteindelik deel sal word van ’n nog groter geheel.

Om nou op te gee, net omdat ek ’n onseker, onstabiele, ietwat eensame bestaan voer, is nie realisties nie. Ek het al baie sulke dae, en sulke tye in my lewe ervaar. In fact, van daai tye was erger as nou, en somehow het ek dit oorleef! Ek is bly ek was sterk in sulke tye, al het ek nie altyd hoop gehad nie. Of miskien is die volgende stelling nader aan die waarheid: Ek is bly ek het nie die moed gehad om in daai tye op te gee nie, want sterk was ek nie altyd nie.

______________________