11 FEBRUARIE 2004

Deur 11 - 02 - 2004

Dis ‘n mooi dag.

Ek steek my kop by die kombuisvenster uit, kyk af in die laan, oor die dakke van ou huise in die blok langsaan. Die laan, net breed genoeg vir twee bromponies om verby mekaar te ry, is gevul met die oranje skynsel van die laatagtermiddagson.

Die woonstelgeboue is grou, maar die hier-en-daar afgeskilferde verf van die diefwering gee ‘n optimistiese kleur aan die buurt. Die potplante en blomme in die vensterbanke getuig van geloof in ‘n goeie lewe, al het dinge nie noodwendig uitgewerk soos die inwoners jare gelede gehoop het nie.

Dis nie koud nie, maar daar’s tog iets in die lug wat voorspel dat dit ‘n koel aand gaan wees. ‘n Windjie wil-wil optel, en ‘n ou oorlogsveteraan begin om sy wasgoed van die balkon af te haal.

‘n Volmaakte dag is dit nie – watter dag is? – maar dis ‘n mooi dag. Dis Woensdag, 11 Februarie 2004, ‘n wintersdag in Taiwan.

___________

Hierdie inskrywing dateer: 11 - 02 - 2004 om 17:46 en sorteer onder Die Februarie-Plan. [...]

Gesluit vir kommentaar.